Stemtyd!
Stemtyd!

Stemtyd!

Waarnemers verwag fel mededinging en opwindende uitslae in môre se verkiesing van streekraadslede en plaaslike owerhede.
Henriette Lamprecht
Augetto Graig - Opwinding is groter oor vanjaar se verkiesing van nuwe streekraadlede en verteenwoordigers op stads- en dorpsrade, sê politieke kommentators.

Môre is stemdag, kort gelede tot openbare vakansiedag verklaar, en die opkoms sal fyn dopgehou word.

In 2015 was die gemiddelde opkoms in die streekraadsverkiesings 37% en 40% in die plaaslike owerheidsverkiesings.

Die oplewing is egter volgens mnr. Christie Keulder van Survey Warehouse nie landwyd en eweredig die geval nie.

“Dit lyk of daar groter belangstelling en meer energie is as met vorige jare op hierdie kiesvlak, maar die kwessie is nie so eenvoudig nie. In sekere gebiede, soos in Walvisbaai, is daar baie energie, maar nie oral nie. Ek verwag hoër stempersentasies wat ekonomies erg deur Covid-19 geraak is en in stedelike gebiede sal dit ’n baie betwiste verkiesing wees,” sê hy.

Prof. Nico Horn van die Universiteit van Namibië (Unam) sê: “Ek is amper 33 jaar in die land en weet nie van ’n verkiesing waar vooraf soveel opwinding gesien is nie. Op streek- en plaaslike owerheidsvlak het ons nog nooit beleef wat ons nou beleef nie,” sê hy. “Ek verwag ’n hoë persentasie kiesers.”

Unam se mnr. Phanuel Kaapama sê ook entoesiasme is baie groter. Hy skryf dit toe aan verskeie faktore, byvoorbeeld die verskeidenheid kandidate en partye en sosialemediaveldtogte wat jonger kiesers lok.

Dr. Ndumba Kamwanyah, ook van Unam, verwag ook ‘n beter opkoms, maar wou geen raaiskote oor die uitslag waag nie. Uitslae sal volgens hom die huidige stand en kenmerke van Namibië se demokrasie uitbeeld.

Volgens Kamwanyah kan ‘n sterker opposisiestem in streek- en plaaslike owerhede dienslewering verbeter.

Horn het opgemerk nuwe spelers, soos die Independent Patriots for Change (IPC), die Affirmative Repositioning (AR), Landless People’s Movement (LPM) en die groot aantal onafhanklike kanditate, het baie aktief vir stemme geveg.

“Swapo het ook op die vlak ’n groter veldtog as gewoonlik gevoer,” sê hy. “Swapo is altyd onvoorspelbaar, maar voorheen het wegbreekbewegings uit die regerende party ons elke keer verras,” noem Horn.

Die doeltreffendheid van veldtogte sal volgens hom aan uitslae gemeet moet word.

Volgens Kaapama is daar baie minder vanselfsprekende oorwinnings op die kaarte. Swapo word volgens hom uit baie oorde uitgedaag.

Keulder reken weens die land se kiesstelsel kan die fragmentering van opposiestemme in die streekraadverkiesings dalk op plekke opskuddings veroorsaak – makliker as in plaaslike owerhede, wat proporsioneel volgens partylyste saamgestel word.

Horn sê hy is verbaas meer opposisiepartye werk nie saam nie. “Hierdie gebrek aan samewerking is goed vir Swapo,” sê hy.

Volgens Horn sal kiesers groter vertroue hê in stembriewe as elektroniese stemme, omdat alle stemme oorgetel kan word.

As die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) sy huiswerk behoorlik gedoen het, behoort daar volgens Keulder nie probleme te wees nie, maar Kamwanyah reken weens ‘n moontlike gebrek aan ervaring met die proses kan daar dalk vertragings in die telproses wees.

Die voorsitter van die ECN, adv. Notemba Tjipueja, het gesê die kommissie vertrou Namibiërs sal die vakansiedag benut om deelname te verbeter. “Ons moedig stemgeregtigde aan om in groot getalle te stem,” sê sy.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!