Sterfte in sel 'weens nalatigheid'
Sterfte in sel 'weens nalatigheid'

Sterfte in sel 'weens nalatigheid'

Die soeklig is opnuut op die polisiekantoor op die tuindorp.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die polisiekantoor op Okahandja is opnuut in omstredenheid gehul nadat 'n pensioenaris verlede week daar dood is.

Die pleidooie van die 66-jarige mnr. Fanuel Tjazerua dat hy siek en sonder medikasie is, het glo sedert sy inhegtenisneming tot sy dood verlede Woensdag op dowe ore geval.

Sy familie is na wat verneem word woedend omdat sy dood volgens hulle voorkom kon gewees het.

Republikein verneem regstappe is nie uitgesluit nie.

Toe hy die Saterdag voor sy dood op Ovitoto aangekeer is, het hy glo die polisie ingelig sy asmamedikasie is klaar.

Die polisie het glo nie hierop ag geslaan nie – na bewering omdat die man volgens hulle nie siek voorgekom het nie. “Maar die polisie is mos nie dokters of verpleegsters nie. Hulle kan nie besluit iemand lyk nie siek nie,” voer 'n bron aan.

Die man is verlede Maandag voor die landdroshof op Okahandja gedaag vir sy eerste verskyning op aanklag van verkragting.

Nadat borgtog geweier is, is hy teruggeneem na die aanhoudingselle by die polisiekantoor.

Volgens 'n bron vertroud met die omstandighede het die man verlede Dinsdag weer gekla oor sy medikasie. “Hulle het selfs die hele Woensdag niks gedoen nie,” hou die bron vol.

Omstreeks 18:00 Woensdag het iemand laat weet Tjazerua is dood. “Hy het daar by die stasie doodgegaan.”



POLISIE SE WEERGAWE

Adj.komm. Kauna Shikwambi, die nasionale polisiewoordvoerder, het Maandag by navraag die man se dood bevestig.

Luidens die voorvalverslag is Tjazerua op 5 September in hegtenis geneem nadat hy “na bewering 'n minderjarige verkrag het”, sê Shikwambi.

Ná sy hofverskyning op 7 September is hy teruggeneem aanhoudingselle toe nadat borgtog geweier is, het sy bevestig. “Op 9 September 2020 omstreeks 16:55 in sel nommer 4 by die Okahandja-polisiekantoor se aanhoudingselle het die oorledene glo 'n asma-aanval gehad en ineengestort.”

Volgens die polisiewoordvoerder is Tjazerua “uit die sel na die buitelug geneem, terwyl die nooddienste op pad was nadat hulle uitgeroep is. Ongelukkig het die noodpersoneel met hul aankoms die oorledene dood verklaar en die liggaam is na die plaaslike hospitaal geneem. Sy naasbestaandes is toe in kennis gestel.”

Shikwambi het geen kommentaar gelewer op die beweringe dat die polisie nie gehoor gegee het aan Tjazerua se pleidooie nie.

Die polisiekantoor op Okahandja was tevore ook in die nuus weens beweerde marteling van aangehoudenes.

In Januarie verlede jaar is berig aangehoudenes het in 'n stadium vir vyf dae lank nie kos gekry nie.

Hul families is ook nie toegelaat om toebroodjies, koeldrank of ander eetgoed vir hulle te bring nie.

Volgens bronne is dit gedoen om die aangehoudenes te straf aangesien “selfone ingesmokkel word”.

Die stasiebevelvoerder, hoofinsp. Petrus Shipepe, was volgens die bronne teenwoordig toe die selle op 'n Sondag oopgesluit is en die “70 tot 80” aangehoudenes aangesê is om buite in 'n gang teen die muur te gaan staan.

Mans en vroue moes na bewering toe poedelnakend staan en is eers met water en toe met traangas bespuit.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!