Sterftes neem sesvoudig toe
Sterftes neem sesvoudig toe

Sterftes neem sesvoudig toe

Die aantal Covid-pasiënte in die hospitaal, ICU en hoësorg het sedert Desember verdubbel.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die Covid-sterftes vir Namibië het bykans sesvoudig die afgelope ses maande toegeneem – vanaf 16 sterftes per week in Desember verlede jaar tot gemiddeld 83 sterftes per week in Junie.

Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, geld die skerp opwaartse kurwe ook vir die persentasie van positiewe weefselmonsters as ’n persentasie van die totale weefselmonsters op enige gegewe dag. In Desember 2020 was dié koers gemiddeld 24%, teenoor die huidige 34%.

Met verwysing na die hoogste aantal positiewe gevalle op ’n enkele dag sê Shangula in Desember is 638 gevalle op Kersdag aangeteken. Dit teenoor die 2 075 wat Woensdag in die land aangeteken is.

Op Kersdag verlede jaar was 224 mense in die hospitaal en 36 in ICU. Woensdag was 400 mense in die hospitaal, 84 in ICU en 56 in hoësorg – dubbel die aantal kritieke, gehospitaliseerde gevalle van ses maande gelede.

Volgens Shangula is die besettingskoers in die meeste Covid-isolasie- en ICU-eenhede in beide die private en openbare sektor op enige gegewe dag tussen 67% tot 100%.

Teen Woensdag was die herstelkoers vir die land ’n skrale 82%, teenoor die 94% van ’n paar maande gelede.

Die minister het ook verwys na Windhoek wat nou meer as die helfte van die land se gevalle het, met 1 128 wat Woensdag in die hoofstad getel is.

Shangula het die skerp stygings in sterftes en positiewe gevalle as “kommerwekkend” beskryf en gesê toenemende hospitalisasies plaas “ongelooflike druk” op die gesondheidstelsel met betrekking tot beskikbare personeel, geriewe, toerusting, voorrade en kommoditeite.

“Daar is ’n duidelike hoë aanvraag na suurstof en persoonlike beskermende uitrusting,” het hy beklemtoon.

Die toenemende aantal nuwe infeksies en hospitalisasie van pasiënte met baie ernstige tot kritieke simptome beteken volgens Shangula geweldige en toenemende druk op beskikbare hoësorg- en ICU-eenhede in beide private en openbare gesondheidsgeriewe.

Die minister sê maatreëls word tans ingestel om verwysingshospitale se besettingsyfers te verminder deur die aantal elektiewe chirurgiese gevalle en nie-ernstige gevalle wat hierheen verwys word, tydelik op te hef.

“Dit sal help om die las op menslike hulpbronne, ruimte en voorrade by dié hospitale te verlig.”

In terme van toetsing vir Covid is Namibië nou volgens Shangula nr. 2 in Afrika ná Suid-Afrika, met ’n koers van 94 per 1 000 inwoners wat getoets word. Die minister het ook verwys na die land se kapasiteit vir genome-toetsing wat Namibië nou in staat stel om die variante te identifiseer wat tans hier voorkom, iets wat nie tydens die tweede golf moontlik was nie.

Oor begrafnisse sê Shangula slegs tien persone mag dit bywoon en net wegneemetes mag bedien word.

Bestuurders en werkgewers word aangemoedig om skofte by werksplekke in te stel om interaksie tussen personeel en sodoende infeksies te verminder. Gimnasiums en fiksheidsgeriewe is tydens die huidige beperkingstydperk gesluit. Toegang tot Namibië per pad of vliegtuig word toegelaat tydens die huidige tydperk, met reisigers wat vooraf moet reëlings tref om na hul bestemmings te vertrek. Toeriste wat die land deur die ingeperkte gebiede (Rehoboth, Windhoek en Okahandja) wil verlaat, sal met die nodige bewyse by padblokkades deurgelaat word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!