Sterk saak teen 'pedofiel'
Sterk saak teen 'pedofiel'

Sterk saak teen 'pedofiel'

Die staatsaanklaer sê die bewyse en getuies, insluitend die minderjarige slagoffers en hul ouers, maak deel uit van ’n baie sterk saak teen mnr. Johann Maree.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – Die vermeende pedofiel mnr. Johann Maree (50), wat daarvan beskuldig word dat hy tientalle minderjarige seuns vir die vervaardiging van kinderpornografie verkrag en misbruik het, het gister in Windhoekse landdroshof verskyn vir sy formele aansoek om borgtog.
Die staat het die aansoek op grond van sewe besware teengestaan, insluitend die ernstige aard van die oortreding, die waarskynlikheid dat Maree by die ondersoek en staatsgetuies sal inmeng, openbare belang en die feit dat die staat ’n sterk saak teen Maree het.
Die staatsaanklaer, mnr. Like Phelem, het tydens kruisverhoor gesê die staat het sowat 17 verklarings van getuies ontvang wat beweer dat Maree hulle verkrag en/of seksueel mishandel het.
“Ons het ook seuns wat tydens die verhoor sal getuig dat jy vir hulle drank gegee het,” het Phelem gesê.
Hy het verder genoem dat Maree se rekenaarhardeskyf in hul besit is en dat kaalfoto’s van die minderjarige seuns glo daarop gevind is.
Tydens gister se borgtogaansoek het die staat ook gedeeltes van ’n bekentenis voorgelees wat Maree onderteken het.
Hierin erken hy skuld en verduidelik wat hy met elke seun gedoen het. Toe Phelem hom vra om op die bekentenis kommentaar te lewer, het hy gesê hy sal sy swygreg uitoefen en dat hy eers tydens die verhoor kommentaar op die inhoud van die bekentenis sal lewer.
Hy het wel kortliks aangedui dat hy glo die bekentenis onder dwang afgelê het.
Maree het tydens die kruisverhoor onrustig geraak en die regter het hom verskeie kere gewaarsku om stil te wees terwyl Phelem besig is om te praat. Op die meeste vrae tydens die kruisverhoor was sy antwoord “Geen kommentaar”.
“Ek vrees net vir God. Ek is nie bang vir hierdie hof nie en ek is nie bang vir jou nie,” het Maree aan Phelem gesê.
“En dis waarom jy ander mense se kinders verkrag,” het Phelem geantwoord.
“Jy is ’n verkragter, ’n roofdier wat kinders deur modelwerk lok en hulle dan uitbuit,” het Phelem tydens die kruisverhoor aan Maree gestel.

MAREE: ‘ALLES IS SLEGS AANTYGINGS’
Toe Maree se regsverteenwoordiger, me. Eva Nangolo, hom om reaksie vra op die staat se bewering dat hulle ’n sterk saak teen hom het, het hy gesê hy is nie daarvan oortuig nie.
“Hul saak is op aantygings gegrond. Hulle blaas die ding vir die publiek op. Hulle vat net kanse en ek glo nie dat hulle ’n sterk saak teen my het nie.”
Die borgtogverhoor is geskeduleer om op 8 September te hervat.

‘BOY IDOLS’ MODELWEBBLAD
Maree het tydens gister se borgtogverhoor gesê hy het ’n modelbesigheid met die naam ‘Boy Idols’ gehad, wat hy vir sowat 15 jaar bedryf het.
Volgens hom het hy modelportefeuljes van jong seuns, tussen die ouderdom van ses en 19, opgestel wat hy dan met die toestemming van die minderjarige seuns se ouers op ’n webblad gelaai het.
Internasionale maatskappye, soos klere- of produksiemaatskappye wat met mode verband hou, het dan modelle van die webblad gekies.
Volgens Maree het hulle dan klere gestuur, of vir hom geld gegee om klere te koop. Hy het hulle dan in daardie klere afgeneem en hiervoor het hy betaling ontvang.
Maree het getuig dat hy die modelportefeuljes kosteloos gedoen het, maar die inkomste van internasionale maatskappye met die model gedeel het. Die model het 95% van die fooi gekry.
Hy het die beskuldiging ontken dat pedofiele deur sy webblad toegang tot onvanpaste beeldmateriaal op die donker web kon verkry.

OPENBARE BELANG
Phelem het ook die kwessie uitgelig van die petisie wat aandring dat Maree nie op borg vrygelaat moet word nie, wat sowat 1 700 mense reeds onderteken het.
“Dis nie net Namibië nie. Mense oor die wêreld heen het die petisie onderteken. Mense wil nie hê jy moet buite die tronk wees nie.
“Die belange van kinders, ouers, nabye familie en die hele Namibië dra groot gewig in hierdie saak.” Maree is in April verlede jaar in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.
[email protected]

FOTO
Die vermeende pedofiel mnr. Johann Maree het gister in die landdroshof in Windhoek vir sy formele borgtogaansoek verskyn. Foto Kristien Kruger

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!