Sternagel koning by Gobabis-baan

Van die land se topjaers het Gobabis se nuwe MX-baan met oorwinnings ingewy.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die Gobabis-motorklub (GMK) het die afgelope naweek sy eerste nasionale MX-byeenkoms sedert Julie 2010 aangebied waar meer as 40 deelnemers die grond nege kilometer suid van dié dorp in die vierde nasionale byeenkoms vir 2019 laat spat het.

Die manne van Gobabis laat nie gras onder hul voete groei nie, want sedert die klub se stigting verlede jaar het hulle reeds drie byeenkomste aangebied. Elda Smith, bestuurslid, is ná Saterdag se sukses met reg opgewonde oor die klub en baan se toekoms.

“Ons het 'n fantastiese en uiters suksesvolle byeenkoms agter die rug. Die baan was 'n belewenis vir die ryers en die manne kon nie daaroor uitgepraat raak nie. Daar was net goeie terugvoering rondom die naweek en die ouens is deur die bank uiters tevrede met wat ons hulle gebied het.

“Die laaste MX-byeenkoms in Gobabis was in Julie 2010. Die manne het lank vir ons gewag, maar nou sal ons hulle sekerlik in die toekoms kan besig hou! GMK se volgende byeenkoms sal weer 'n veldren (off-road) op die plaas Suyas op 10 Augustus wees. Die mense kan solank die datum op hul almanakke afmerk om 'n heerlike familienaweek in die natuur te kom geniet,” vertel Smith opgewonde.

Mark Sternagel, een van Namibië se mees gesoute MX-jaers, het opnuut die toneel in die topklas MX 1-afdeling met sy KTM 450 oorheers.

Sternagel het al drie bene ingepalm om met 75 punte teenoor Jaco Loots (Kawasaki 450) 66 punte, Björn Bierbauer (Yamaha 450) 60 punte en Tommy Gous (Yamaha 450) met 54 punte te seëvier.

Sternagel, wat ook tevore aan langbaanrenne op die Tony Rust-renbaan deelgeneem het, is ingenome met Saterdag se byeenkoms op Dewald Venter se grond, waar die baan uitgelê is.

“Die baan is eenvoudig fantasties en ek is van mening dat dit tans die beste een in Namibië is! Daar hoef beslis nie aan die baan verander te word nie. Die baan is wel tegnies, maar groot pret om op te jaag. Gobabis se mense is ongelooflik met hul ondersteuning en aanbieding van die dag se gebeure.

“Wat dit ook baie spesiaal maak, was die BBP-area waar toeskouers baie naby aan die baan kon staan om die aksie gade te slaan. Dit was baie lekker om so baie mense van Gobabis te sien wat ons kom ondersteun het,” het Sternagel aan Republikein gesê.

Die uitslae:

MX 1 (250-450 cc): 1 Mark Sternagel 75 punte , 2 Jaco Loots 66, 3 Björn Bierbauer 60, 4 Tommy Gouws 54.

MX 2 (125-250 cc): 1 Frank Klosta 72, 2 Don-Ray Botha 63, 3 Arno Engels 60, 4 Herbert de Klerk 58, 5 Stephan Maischatz 51.

MX 125 (125 cc en kleiner): 1 Herbert de Klerk 75, 2 Adriaan Coetzee 66, 3 Geena Sadlowski 60. MX 65: 1 André Barnard 75.

MX Lite: 1 Anton Myburgh 75, 2 Dylan Hilfiker 64, 3 Mark Lowings 60, 4 Zoe Waldschmidt 57, 5 Dale Davies 53.

Groentjies: JF van Eeden 72, 2 Louis Burger 69, 3 Glen Matthews 60, 4 Rolf Schulz 54.

Clubman's Class: 1 JL Opperman 72, 2 Ronnie Adams 65, 3 Heiko Stranghöner 62, 4 Olaf Pack 56, 5 Jörg Stranghöner 55.

MX 50: 1 Juan de Vos 75, 2 Dylan Coetzer 66, Laliq Adams 60, 4 Divan du Plessis 36.

Vierwielmotorfietse, mans: 1 JL Opperman 75. Vroue: 1 Maike Bochert 75, 2 Jolly Fourie 64, 3 Celene Adams 62.

GMK bedank ieder en elk asook die borge wat soos een groot gesin gesorg het dat die naweek 'n fenomenale sukses was. Sonder Bertie Smith Contractor Services (BSCS), Driveline Construction & Logistics, Gallina MX-klub, On Time Courier, Namib Mills (Gobabis), CTM (Windhoek), Platinum Plumbing, HJ Automotive & Forklift Services, Niekie en Karin Swart, Koekoes en Sonja van Zyl, BB Trucks Namibia, Gobabis Toyota, JA Repairs, Omateko Lodge, Suzette en Marisa Smith, Lappies Labuschagne en Dewald Venter sou die dag nie moontlik gewees het nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!