Sterre, liefde en Reu00ebn
Sterre, liefde en Reu00ebn

Sterre, liefde en Reën

Lloyd Zandberg
Yandi du Plessis – Die veelbekroonde musikant, Joshua na die Reën, wat in 2014 naam gemaak het met sy selfgetitelde debuutalbum, is terug met sy derde enkelsnit, “Sterrenet”, vanaf sy album, Someraande, wat reguit met die hart praat.

Hy het al verskeie Ghoema-toekennings, ’n Huisgenoot Tempo- en ’n Woordfeestoekenning ontvang het.

Die eerste twee enkelsnitvrystellings, “Soos in Nou” en “Soos die Wind”, het binne dae na uitreiking radiostasies se trefferparades oorgeneem en vir weke daarop gepryk.

Hierdie liedjies word steeds op hoë rotasie op radiostasies in Suid-Afrika en Namibië gespeel.

“Sterrenet” is ’n kontemporêre popsnit uit sy eie pen en pas netjies in die besonderse styl wat die veelsydige kunstenaar soveel jaar terug kom vestig het en waaroor sy aanhangers gaande is.

“Ek en my dogtertjie, Anán, het so drie jaar terug een aand op ons huis se stoep gesit, toe sy my uit die bloute vra om na die sterre te kyk,” vertel hy.

“Toe ek my aandag daarop fokus, besef ek hoe lank laas ek die sterre waardeer het. Toe Anán vir my sê om na die sterre te kyk, het haar woorde vir my amper geword soos ’n net wat my vang uit my gejaagde skedule en pas waarteen ek soms leef. Dit het my net weer bewus gemaak van iets mooi en konstant soos die sterre en daaruit is die naam en idee vir die liedjie gebore.”

Hierdie besonderse lied spog met ’n opgewekte ritme en die lirieke sal aanklank by gehore van alle ouderdomme vind.

“Ek weet almal sê dit altyd, maar wanneer ’n mens kinders kry, beleef jy weer baie dinge waarvan jy al vergeet het. Hopelik is die doel van “Sterrenet” om iemand weer die mooi en opwindende dinge van die lewe te laat voel,” verduidelik hy oor die betekenis agter die woorde en wysie.

Joshua na die Reën het reeds drie suksesvolle albums op sy kerfstok en het - buiten vir Huisgenoot Skouspel en Gospel is Groot - al die verhoog met kunstenaars soos Elvis Blue, Jak de Priester, Amanda Strydom, Laurika Rauch, Richard van der Westhuizen en Die Heuwels Fantasties gedeel.

Hy is ook deel van die musiekbeweging, Musiek Soos Grond, saam met sy vriende en medemusikante, Lizandra Winter, Len Muller, Kaleidoskoop, Leon Gropp, Liani Reynolds en Douvoordag.

“Daar was al ’n hele paar hoogtepunte in my musiekloopbaan, maar vir my bly dit ’n groot voorreg om musiek te kan maak saam met vriende wat regtig naby aan my hart is,” meen hy.

Die sanger, wat eersdaags ’n babaseuntjie ryker word, verklap dat hy opwindende planne vir die toekoms het, wat heel moontlik ’n toer na Europa (saam met sy orkes) gaan insluit.

Oor die opwindende moontlikheid, sê hy: “Ek sien ongelooflik daarna uit om my musiek met die mense daar anderkant te deel.”

As ’n mens Joshua na die Reën se vorige prestasies in ag neem, weet jy sommer dat “Sterrenet” ’n reusetreffer gaan wees, wat vir hom nog ’n hele paar aanhangers gaan inpalm.

Die liedjie is beskikbaar op sy album Someraande by www.jndr.co.za.

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer