Steun gevra vir Shoprite-werkers
Steun gevra vir Shoprite-werkers

Steun gevra vir Shoprite-werkers

Kenners sê die vergoedingseis ná die werkerstaking sal verreikende gevolge vir die hele Namibiese werkersklas hê.
Augetto Graig
Augetto Graig



Altesaam 93 Shoprite-werkers, wat deur die kettingwinkel vir meer as N$4,5 miljoen gedagvaar word, het net vandeesweek om aan te dui of hulle dit gaan teenstaan.

Die kettingwinkelgroep het 'n vergoedingseis teen die betrokke werkers ingestel weens verliese gely en om hul ­regskoste ná stakings in 2015 te verhaal.

Mnr. Norman Tjombe, 'n menseregteprokureur, sê volgens wet is daar wel 'n kans dat Shoprite se eis vir tot 30 jaar op die werkers afgedwing kan word.

“'n Hofbevel is vir tot 30 jaar geldig,” het hy gesê.

Om dit af te dwing, moet Shoprite 'n lasbrief vir die uitvoer daarvan aan die balju uitreik.

Hiermee kan hy die eiendom en bates van dié party teen wie dit uitgereik is, afvat en laat opveil, het Tjombe gesê.

“Hulle wil Namibiese werkers straf sodat hulle nooit weer sal staak nie,” het hy by 'n openbare ­geleentheid vroeër vandeesweek gesê.

Mnr. Dimbulukeni Nauyoma, een van die Regstellende Herposisione­ringsbeweging (AR) se leiers, het Dinsdag 'n vergadering by die Katutura-jeugsentrum gelei.

Die vergadering is deur middel van sosiale media byeengeroep, het hy gesê, met die doel om inligting bekend te maak en om die betrokke Shoprite-­werkers se toekoms te bespreek.

Tjombe het gesê die kwessie strek verder as die byna 100 gesinne se toekoms.

“Shoprite is nie die enigste maatskappy waar elemente van onregverdigheid oorheers nie. Die probleem bestaan landswyd, en selfs in die groter streek. Werkers van oral ervaar dieselfde probleme as Namibiese werkers,” het Tjombe gesê.

Die kern van die kwessie is, volgens hom, die ontneming van produksiemiddele.

“Aggressiewe beweging na die behoorlike hervorming van eienaarskap van produksiemiddele is nodig,” het hy gesê.

Die regsverteenwoordiger mnr. Nixon Marcus se openbare regsfirma verteenwoordig die werkers.



STEL BOIKOT IN

“Dit is maklik om 'n boikot in te stel, maar hoe lank sal dit duur? Eerstens, kom net en staan met ons voor Shoprite se deure en wys die werkers julle ondersteun hulle. Die probleem met 'n boikot is dat dit mense vra om finansiële opofferings te maak. Dit klink dalk nou goed, maar Shoprite is nie bang nie. Hulle is gewoond aan raas en blaas met min aksie,” het Marcus gesê.

“Die werkers het baklei en hulle sal in die hoërhof ook baklei, maar hulle kan dit nie alleen regkry nie, hulle het ons ondersteuning nodig,” het hy gesê.

Tjombe het gesê in aanloop hierop het die ministerie van arbeid, ­nywerheidsbetrekkinge en werkskepping 'n “aaklige rol” gespeel deur nie aan te dring daarop dat Shoprite aan aanbevelings voldoen wat ná ondersoeke gemaak is nie.

Ondersoekverslae is ook nie aan die publiek bekend gemaak nie, het hy gesê.

Vakbonde word ook deur binnegevegte en persoonlike politieke ambisies ­gepootjie, het hy gesê.

Mnr. John Kwedi, van die Namibiese Vakbond vir Vervoer- en ­Verwante Werkers (Natau), was ook by die vergadering teenwoordig en het dit bevestig.

Mnr. Herbert Jauch, 'n arbeidsnavorser, het gesê: “Shoprite is 'n wit monopolie-kapitaal- apartheidsmaatskappy wat in Namibië gesien het die vakbonde is verdeeld en die geleentheid gebruik het om te maak soos hulle wil, en aan werkers te betaal net wat hulle wil.

“Hulle het gesien die Namibiese regering het werkers in die steek gelaat deur afdanking te vergemaklik en deur 'n ingewikkelde en uitgerekte goedkeuringsproses vir 'n beskermde staking in werking te stel. Meer en meer maatskappye sien ook dié geleentheid.

“As die regering sê hulle sal dit hanteer en niks gebeur nie, weet ­Shoprite hulle kan doen net wat hulle wil.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!