Steunpilaar (99) in vervoerbedryf sterf
Leandrea Louw op Walvisbaai
Die stigter van Wesbank Transport, mnr. EP van Rooyen, het verlede week – 'n paar weke voor sy 100ste verjaardag - gesterf.
Sy familie beskryf hom as 'n hardwerkend, nederig en 'n omgeemens.
Oom EP, soos hy alombekend was, was oorspronklik 'n elektrisiën van beroep en voor die stigting van Wesbank Transport was hy werksaam by die destydse kragstasie op Walvisbaai wat deur die munisipaliteit bestuur is.
Mnr. Willem Pronk, 'n familielid, het namens die gesin vertel hoe Van Rooyen die onderneming begin het.
Volgens Pronk het oom EP in 1965 'n wipbakvragmotor aangeskaf waarmee hy sand en klip vir die boubedryf op Walvisbaai uit die woestyn vervoer het.
“Teen 1968 het hy twee van dié lorries en 'n platbaklorrie gehad en met laasgenoemde het hy ook algemene vrag binne die dorpsgebied vervoer. Gedurende hierdie jaar het hy ook die vervoermaatskappy Wesbank Transport (Pty) Ltd amptelik geregistreer.”
Destyds was daar agt pelagiese visverwerkingsfabrieke op Walvisbaai wat elk verskillende vervoerkontrakteurs gebruik het om hul produkte na die Walvisbaai hawe en spoorwegstasie te vervoer vir uitvoer na Suid-Afrika en elders.
GROEIJARE
Tydens 1968 het Wesbank Transport die vervoerbesigheid van Anton Lombaard Transport gekoop wat in daardie stadium die vervoer van die Oceana-visfabriek behartig het.
“Met die koop van hierdie besigheid het die vloot van vragvoertuie met 'n trekker, twee treilers en twee platbaklorries gegroei. Die uitbreiding het meegebring dat Wesbank Transport onder meer die vervoer van steenkool, toerusting en vullisverwydering van die visfabrieke behartig het.”
Wesbank Transport het toe nog drie kleiner vervoerbesighede in Walvisbaai gekoop. Met sulke oornames het die vloot voertuie ook uitgebrei.
“Met die aankoop van Pike Lourens Transport is die vervoerbesigheid van Metal Box bekom wat op Walvisbaai blikkies vir die visinmaakbedryf vervaardig het. Gedurende hierdie tyd het oom EP se twee seuns, Veon en Melvyn, ook by Wesbank Transport aangesluit.”
Wesbank Transport het ook begin om South West Transport te ondersteun met die vervoer van swaartoerusting wat benodig was vir die konstruksie van myne en ander groot nywerheidsprojekte.
“Die maatskappy het ook die eerste kraan aangeskaf gedurende die konstruksiefase van die Rössingmyn in die 1970's en meeste van die swaarmasjinerie wat benodig is deur die myn, daarheen vervoer, sowel as die swaartoerusting wat nodig was vir die hidroëlektriese kragstasie op Ruacana en die Van Eck-kragstasie in Windhoek vervoer en gehelp installeer.”
As gevolg van die lang vervoer- en wagtye van goedere wat per trein en per see na en van die RSA vervoer is, het Wesbank Transport begin om meeste van hierdie goedere per pad te vervoer.
“Vir hierdie doel is depots en stoorgeriewe in Kaapstad, Johannesburg en Windhoek aangeskaf om vrag te versamel en te stoor. Dit het Wesbank Transport in staat gestel om 'n volledige diens aan sy kliënte beskikbaar te stel.”
SAKEVERNUF
Nog krane en ander moderne vervoertoerusting is mettertyd aangeskaf om die maatskappy in staat te stel om die besigheid uit te brei tot een van die grootste in Namibië.
Wesbank Transport is in 2015 aan F.P. du Toit Transport verkoop.
Oom EP was met me. Jacomina (Minnie) van Rooyen (née Snyman) getroud. Sy is in 2002 oorlede.
Hy laat sy seun Veon, skoondogter Riana, vier kleinkinders en twee agterkleinkinders agter.
Veon se vrou Louise is in 1997 dood en sy seun Melvyn in 2012.
Voorlopig is reëlings getref om op Saterdag 1 Mei 'n roudiens te hou.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie