Steunpilaar van Dolphin val

Die Namibiese toetsflank Thomasau Forbes se vader is voor die naweek oorlede.
Andrew Poolman
Andrew Poolman

Die rugbygemeenskap, vernaam aan die Namibiese kus, het ’n staatmaker verloor met die afsterwe van mnr. Tommy Forbes voor die naweek.

Enigiemand wat ooit sy hand geskud het, sou dadelik kon getuig van sy liggaamlike krag, sonder dat hy eens hoef te probeer druk. Vir bykans drie dekades het hy as dieselwerktuigkundige by Rössing gewerk, totdat hy ’n paar jaar gelede ’n afleggingspakket aanvaar en sy eie besigheid in restourasiewerk bedryf het.

Thomas Otto Forbes (61) is Donderdagaand op Swakopmund oorlede. Hy het vermoedelik ’n hartaanval gekry terwyl hy in die dorpsgebied terug huis toe bestuur het. Sy bakkie het teen ’n vraghouer gebots.

Hy was ’n jarelange speler as voorryman vir Dolphin-rugbyklub van Swakopmund en het lank daarna steeds ’n klublid gebly. Hy het ook vir die destydse subunie Weste gespeel, asook vir Nanru, die groepering van swart rugbyklubs onder die destydse politieke bedeling.

In die laat 1980’s, voor die land se onafhanklikwording en onder die Suid-Afrikaanse stelsel van apartheid, het Tommy vir Nanru in provinsiale wedstryde gespeel.

In die destydse era van min geleenthede vir nie-wit spelers, was ’n hoogtepunt in 1987 toe die Nanru XV in die Khomasdal-stadion gasheer teen die Suid-Afrikaanse Rugbyunie-vyftiental was. Die Suid-Afrikaanse span het met 72-3 gewen.

Die 1987 Nanru-span teen die Saru XV was: 15 Marco Swartz (onderkaptein), 14 Charles Muller, 13 Edmund Roberts, 12 April Mitchell, 11 Heinrich de Waal, Willem van Rooi, 9 Walter Don, 1 Tommy Forbes, 2 Adriaan van Wyk, 3 James Herdien, 4 Johan Diergaardt, 5 Eric Plaatjie, 6 Gawie Louw, 7 Mark Mannel, 8 Corrie Mensah (kaptein).

Die reserwes was James Camm, Keith Leukes, Clive Smith, Cedric Cloete en Thomas Coetzee.

Forbes is die vierde lid van dié span wat sedertdien oorlede is, Die ander is Gawie Louw, Thomas Coetzee en Heinrich (Sop) de Waal.

Mnr. Johan Diergaardt, die huidige nasionale rugby-afrigter, sê: “Vir Tommie sal ek onthou as ’n spanman in ons speeldae. Hy was een van die harde manne in die Nanru-span wat voor gevat en met passie gespeel het.

“Dis ’n merkwaardige man wat ons verloor en een van daai wat nooit die erkenning gekry het wat hom toegekom het nie, as gevolg van die sisteme van die verlede.”

Tommy Forbes laat sy vrou Caroline (Bubbles), ’n dogter Ashanti Damens en twee seuns na, Sergio en Thomasau. Die 31-jarige Thomasau was verlede jaar ’n lid van Namibië se span by die Wêreldbeker in Japan, waar hy in die toetse teen die Springbokke en die All Blacks gespeel het. Thomasau het sedert 2010 reeds in 19 toetse as oopkantflank gespeel. Sergio, wat in sy jonger jare ywerig aan triathlons deelgeneem het, woon en werk tans in Australië, terwyl Ashanti die hulpspanbestuurder vir die 2011 Wêreldbekerspan na Nieu-Seeland was.

Teen druktyd was geen begrafnisreëlings nog bekend nie.

NRU-RAADSLID STERF

Mnr. Johan Ockhuizen van Rehoboth is gisteroggend oorlede. Hy het tot onlangs as raadslid van die Namibië Rugby-unie gedien (verteenwoordiger vir Sentraal-Suid, Rehoboth en Mariental), voordat hy enkele weke gelede om gesondheidsredes bedank het.

Ockhuizen was tevore ook ’n lid van nasionale keurkomitees en het die 2003 Wêreldbekerspan na Australië as NRU-raadslid vergesel.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer