Steyn bly positief, al sneuwel Twee Oseane
Padwedlope
Eugenie Gregan - Gerda Steyn (30) het vroeg Sondagoggend nog haar oefensessie volgens haar program vir vanjaar se Twee Oseane-marathon voltooi.
Steyn is die verdedigende kampioen in dié wedloop wat Sondag ná ’n noodvergadering weens Covid-19-vrese afgestel is.
Vanjaar se Twee Oseane sou op 11 April in Kaapstad plaasgevind het.
Hoewel Steyn hartseer oor die besluit is, stem sy saam dat dit die regte ding is om te doen.
“Ek was nog hoopvol tot ek gesien het hulle het die Cape Epic en die Ysterman in Port Elizabeth gekanselleer; toe het ek begin dink die kanse dat die Twee Oseane sal aangaan is baie skraal. Maar dis baie beter om te weet as om onseker te wees.”
Volgens Steyn is die Twee Oseane en Comrades jaarliks haar grootste bron van inkomste.
“Dit is eintlik vir my die grootste skok. Jy lok ook borgskappe wanneer jy groot wedlope wen.
“Ek het borge wat my elke maand ondersteun, maar hulle maak ook staat op my om te presteer. Om ’n resies se inkomste te verloor en ook die rimpeleffek daarna is kommerwekkend. Maar dit sal ook verbygaan. ’n Mens moet maar net positief bly,” sê sy.
Dit is haar tweede wedloop wat weens Covid-19 afgestel is. Sy sou op 29 Maart aan die halfmarathon-wêreldkampioenskap in Gdynia, Pole, deelgeneem het.
“Ek sal my oefenprogram moet aanpas; dit help nie om op een plan voort te bou nie. Ek gaan probeer om ander wedlope te vind, al is dit plaaslike wedlope of kleiner wedlope.
“Ek was reeds Lesotho toe vir ’n oefenkamp. Daar is al baie opofferinge gemaak; ek wil nie hê dit moet verlore gaan nie. Ek sal my bes doen om ander wedlope te hardloop, maar natuurlik sal nie een vir hulle vir my so spesiaal soos die Twee Oseane kan wees nie.”
Volgens Steyn beteken die terugslag net dat sy haar doelwitte en perspektief moet verander.
“Ek probeer om nie te dink dat alles nou daarmee heen is nie. ’n Mens bou stadig en oor jare daaraan om sterker en fikser te word en dit kon baie erger gewees het. Dis baie erger vir ’n atleet om ’n besering te kry of ’n siekte te kry.
“Dit gaan nie help om negatief te wees oor iets wat buite my beheer is nie; dit gaan niks verander nie. Ek is in dieselfde bootjie as baie atlete in die wêreld. En dis net atlete, dan het ons nog nie begin praat oor besighede nie,” sê sy.
Dit is moeilik om te voorspel wat die jaar nou vir haar inhou.
Sy is by ASA se voorbereidingsgroep vir die Olimpiese Spele in Tokio ingesluit, maar daar hang steeds ’n vraagteken oor of dié geleentheid gaan voortgaan.
“Comrades is definitief steeds vir my ’n opsie; ek sal maar sien wat die volgende paar maande wêreldwyd inhou. Die Comrades en die Olimpiese Spele se datums is baie naby aan mekaar en dit sal baie moeilik wees om albei te doen, maar daar is onsekerheid oor of enige van die geleenthede gaan voortgaan.
“Die beste ding is om dit maar dag vir dag en maand vir maand te hanteer. Dis baie moeilik om op hierdie oomblik jou toekomsplanne te maak.”
• Die Twee Oseane-raad se wedloopdirekteur, Debra Barnes, sê in ’n verklaring hulle het die status van die Covid-19-virussiekte dopgehou en die besluit in oorleg met plaaslike owerhede en gesondheidsowerhede geneem.
Die besluit geld al die Twee Oseane-byeenkomste wat tussen 8 en 11 April sou plaasvind, wat die ultramarathon, halfmarathon en veldlope insluit.
“Die gesondheid en veiligheid van ons deelnemers, personeel, borge en die wedloopgemeenskap is belangrik en so ’n groot byeenkoms hou ’n te groot risiko in om daarmee voort te gaan,” sê Barnes.
Die organiseerders sal direk in verbinding tree met deelnemers wat reeds ingeskryf het. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie