Stille protes in hoofstad

Tanja Bause
Tanja Bause – Sowat 300 mense het gister in die hoofstad ’n stille protes teen rassisme, geslagsgeweld en polisiegewelddadigheid gehou. Die protesteerders het by vier verskillende plekke in die hoofstad bymekaargekom en van daar na die ministerie van justisie beweeg waar die petisie oorhandig is.

Volgens die onafhanklike jeugaktiviste wat die protes georganiseer het, is die protes gedeeltelik deur die moord op die Zimbabwiese straatverkoper op Otjiwarongo in die lewe geroep.

Eweneens het die openbare verontwaardiging teen die galg op Hentiesbaai en die opspraakwekkende voorvalle van rassistiese uitlatings op sosiale media die protes noodsaaklik gemaak, lui die versoekskrif wat aan die ministerie van justisie oorhandig is.

Die aandag word ook op polisiegewelddadigheid in Namibië gevestig.

In die petisie dring die mense aan dat die koloniale era se monumente en straatname oraloor Namibië verwyder moet word. Hulle verwys ook na die twee petisies #GallowsMustFall en #ACurtFarewell wat daarop aandring dat die galg op Hentiesbaai en Curt van Francois se standbeeld in Windhoek verwyder moet word.

“Ons vra dat die koloniale wetgewing en beleid in die openbare sektor wat rassistiese ideale bevorder, hersien word.”

“Ons doen ’n beroep op spoedige en deursigtige optrede van alle regs- en polisiëringstelsels in elke geval van polisie- en militêre brutaliteit. Ons verwag geregtigheid vir die lewens wat ons weens brutale vergrype deur die polisie verloor het.

“Ons doen ’n beroep op polisie- en wetstoepassingsbeamptes om veilige en vriendeliker polisiëring as ’n kultuur te ontwikkel. Ons sal nie gyselaar gehou word deur diegene wat veronderstel is om ons te beskerm nie,” lui die petisie.

Verder word geëis dat verskillende rolspelers in die samelewing soos polisiebeamptes en gesondheidwerkers opleiding in die hantering van geslagsgeweld, die kultuur van verkragting en die regte van die LGBTQ-gemeenskap ontvang.

“Die protes is in solidariteit met die globale #BlackLivesMatter-beweging in die stryd teen rassisme, xenofobie, polisiegeweld, geslagsgebaseerde geweld, die kultuur van verkragting en seksuele geweld.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer