Stimuluspakket se impak dalk gering
Kenners meen die beskikbaarheid van data is 'n groot tekortkoming om werklik die uitwerking van die stimuluspakket te meet.
Elvira Hattingh
Die ekonomiese stimuluspakket van sowat N$5,9 miljard sal na verwagting 'n swak vermenigvuldigingseffek hê.
Die rede hiervoor is omdat baie van die geld wat in die ekonomie ingepomp word, die land weer deur middel van uitvoere verlaat.
Dit is die mening van dr. Omu Kakujaha, 'n senior dosent aan die Universiteit van Namibië (Unam) se ekonomie-departement.
Hy en mnr. Klaus Schade, 'n onafhanklike ekonomiese konsultant en navorsingsvennoot het gister 'n webkonferensie aangebied waartydens die beskerming van arm mense teen die Covid-19-skok en die impak van Namibië se stimuluspakkette bespreek is.
Die webkonferensie is deur die Forum vir kundiges oor maatskaplike beskerming (Fesp) gereël.
Kakujaha sê die beskikbaarheid van data is 'n groot tekortkoming om werklik die uitwerking van die stimuluspakket te meet.
Hy meen die Namibië Statistieke-agentskap (NSA) is vir sulke doeleindes gestig, alhoewel data tans nie uit dié oord ontvang word nie.
“Data oor alle besighede se bedrywighede – formeel en informeel – kon help om die ware impak van die Covid-19-stimuluspakket te bereken as dit byvoorbeeld by werks- en inkomste verliese kom.
“Dit kon help dat daar met 'n datagedrewe beleidsreaksie vorendag kon kom,” het Kakujaha gesê.
Kakujaha meen Covid-19 mag dalk 'n tipe skokterapie wees.
“Kom ons wag en kyk of ons regering en ontwikkelingsvennote gaan wakker skrik en hierdie kwessie gaan aanpak.”
kontantinspuiting
Schade het tydens die geleentheid gesê slegs sowat N$2,1 miljard van die regering se kontantinspuiting van N$5,9 miljard in die ekonomie, kan 'n ware stimuluspakket genoem word.
Hy sê alhoewel die BTW-uitbetalings van N$3,8 miljard verwelkom word, kan dit nie as 'n stimulus tel nie.
Hy meen die N$2,1 miljard kan 0,9% (of N$1,5 miljard) tot die ekonomie bydra. Schade sê egter met 'n bruto binnelandse produk (BBP) van meer as N$180 miljard, kan daar nie verwag word die stimuluspakket sal 'n groot invloed hê nie.
“Eerder as om lenings aan besighede beskikbaar te stel, sou die uitstel van BTW of persoonlike belasting vir drie of ses maande of selfs tot die einde van die jaar, 'n minder burokratiese skuif gewees het en boonop– onmiddellike kontantvloeiprobleme verhoed het.
“Betaalvakansies vir mediese- en pensioenskemas sou verder kon help met kontantvloeiprobleme,” het Schade gesê.
Schade het verduidelik verskillende ondersteuningstelsels vir besighede, huishoudings asook die ministerie van gesondheid is geskep om die impak van die Covid-19-inperking te versag.
Dit sluit in salarissubsidies vir die sektore wat die ergste deur die inperking geraak is, asook verskeie leningskemas en die verslapping van arbeidsregulasies wat tydelike salarisbesnoeiings van 20% tot 40% toelaat.
Na verwagting sal 7 900 werkgewers met 65 420 werknemers by die nasionale salarissubsidieprogram baat.
Huishoudings het steun ontvang in die vorm van onder meer noodinkomste-uitbetalings.
ARMSTES
Schade sê die ingrypings fokus meer op besighede en werknemers, en nie noodwendig op die armstes nie. Tog baat mense wat die minste geld verdien die meeste uit die hulp.
“Huishoudings met 'n laer inkomste trek effens meer voordeel uit die hulp as hoër inkomstegroepe, wat die doelwit van die ingrypings is.”
Hy het egter voorgestel meer gereelde arbeidsmag-opnames word benodig om tydige beleidsingrypings te ontwerp, wanneer nodig.
“Akkurate data is nodig vir gefokusde ingrypings, asook die monitor van beleide soos die van byvoorbeeld SME's en NEEEF.”
Hy meen ook nasionale ontwikkelingsdoelwitte moet hersien word en die NDP5 dalk laat vaar moet word om plek te maak vir 'n ontwikkelingsplan wat swakhede prioritiseer wat tydens die pandemie en inperkingstyd beklemtoon is.
“Dit sluit in 'n gebrek aan toegang tot water en sanitasiegeriewe, wat reeds jare lank op die nasionale agenda is, asook beleggings in gesondheidsgeriewe sodat die land voorbereid kan wees wanneer ernstige gesondheidsuitdagings voorkom.
“Daar moet ook in inligting- en kommunikasietegnologie belê word om die risiko vir diensonderbrekings in tye van nood te verminder. Dit verminder die behoefte vir persoonlike kontak en help die land om vir die vierde nywerheidsrewolusie voor te berei.
“Verder moet die plan in onderrig belê in die vorm van behoorlike klaskamers, water, sanitasiegeriewe, elektrisiteit en internetdienste.
“Die land se maatskaplike veiligheidsnette behoort ook versterk te word deur die plan. Dit sluit in om nasionale gesondheidsversekering, werkloosheidsvoordele en pensioenfondse op die been te bring,” het Schade gesê.
Kakujaha het beklemtoon geen van hierdie probleme is nuut nie. Hy sê ook die armstes kan die beste gehelp word deur regeringsteun nie te vinnig te staak nie.
Kakujaha sê data is nodig om te bereken hoeveel meer skuld die armstes aangegaan het en of hulle dalk steun aan hul uitgebreide families moes staak. “Die sluiting van skole beteken die armstes het ook 'n groter behoefte aan kos, want talle kinders word by skole en in koshuise gevoed.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie