Stoffberg versterk Afcon-vrouespan

Hokkie
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Die senior MTC mans- en vroueveldhokkiespanne is gister amptelik afgesien voor hul vertrek na die Afrika-bekerkampioenskap wat vanaf komende Maandag tot 23 Januarie by die Theodosia Okoh-stadion in Accra, Ghana, beslis word.
Namibië moes in sy reserwekrag grawe met die aanwysing van sy toerspan vir die Afrikabeker – uiteraard vanweë die voorkeur aan die Binnenshuise Wêreldbeker volgende maand in België, wat intussen in geheel gekanselleer is vanweë die Covid-19-bedreiging in die gasheerland.
Die teleurstelling van dié kansellasie is enorm vir die Namibiese mans- én vrouespanne wat in België sou meeding.
’n Silwer randjie is darem dat Petro Stoffberg gevolglik slaggereed was om as ’n laat plaasvervanger vir die Ghana-toer nader geroep te word, in die plek van die jong Jaime Henckert wat met eksamenverpligtinge moes onttrek.
Stoffberg is ’n uitmuntende doelwagter wat tevore in Afrika- en ander toernooie as een van die bestes uitgewys is.
Die Namibiese vroue sal in Ghana hul aanslag in ’n groep begin wat ook Zimbabwe, Uganda en Suid-Afrika insluit. Die mans se openingswedstryd is Maandag teen Suid-Afrika, voor die volgende dag se stryd teen Kenia in ’n groep met net drie spanne.
Suid-Afrika se mans- en vrouespanne is die verdedigende Afrika-kampioene in die laaste sewe toernooie.
Die kompetisie dien ook as kwalifiseerder vir die 15de Manswêreldbeker in Rourkela, Indië, van 13 tot 29 Januarie 2023, asook die 15de Vrouewêreldbeker van 1 tot 17 Julie 2023 in Terrassa, Spanje, en Amstelveen, Nederland. Slegs die kontinentale wenners in Accra sal die eer van WB-deelname verwerf.
Mnr. Reagon Graig, president van die Namibië Hokkie-unie (NHU), het gesê: “Hokkie is die sport met die derde meeste ondersteuners ter wêreld. Baie dankie aan MTC wat die geleentheid raakgesien het om beide spanne vir ’n paar jaar te borg. Baie dankie MTC en mnr. John Ekongo vir jul vertroue in die NHU en die spelers.
“Ons onderskat nie die bydrae van MTC en die media die afgelope tyd nie. Ons is dankbaar vir jul ondersteuning.
“Spelers moet sorg dat hulle die land met trots op en van die veld af met onberispelike gedrag vertoonwoordig. Onthou die MTC-handelsmerk en vlag word prominent vertoon.
“Baie geluk aan elke speler, afrigter en bestuurslid wat Namibië in Ghana gaan verteenwoordig. Ons is trots op julle en sal julle vordering dophou.”
Mnr. John Ekongo van MTC (hoofborg) het gesê: “Ek is nou al amper elf jaar by MTC en elke keer as ons by ’n nasionale span betrokke raak, sien ek mans en vroue trots en gefokus op die taak voor hulle. Ek kan dit in jul oë sien.
“Ricardo Manetti, hoofafrigter van die Brave Warriors, het vir my gesê hulle het in 2015 die Cosafa-beker met hul harte gewen. Hulle het in hul harte geglo hulle kan dit doen en ek glo dis dieselfde met julle.
“Maak nie saak wat die geskiedenis sê en hoeveel maal jul opponent dalk al die Afrika-titel gewen het nie. Speel met jul harte, want ons dra die vlag op die bors.
“Verteenwoordig Namibië met oorgawe; julle is ons ambassadeurs. Ons kan nie atlete met net ’n klop op die skouer gelukwens as hulle gewen het nie. Daar moet vergoeding wees en dis hoekom MTC as borg daar is.
“Julle sal nooit alleen stap nie. Stap met trots.”
Tarrant Butcher, aangewys as manskaptein, het gesê: “Baie dankie aan MTC vir hul borgskap. Sonder hul belegging sou hierdie kampioenskap nie vir ons moontlik gewees het nie. Baie dankie ook aan die media en NHU vir hul ondersteuning.
“Ons sien uit na die reis na Ghana. Hokkie het die afgelope paar jaar geweldig in Namibië gegroei. Met borge agter ons het hokkie ontwikkel en ’n gewilde sport geword. Ons vertonings in Accra kan moontlik die volgende generasie hokkiespelers inspireer.
“Baie geluk aan die vroue met hul vertoning verlede jaar in Suid-Afrika. Ons mans sal probeer om jul vertoning te ewenaar.
“Baie geluk aan elke speler wat gekies is. Ons sal ons beste lewer en met die beste moontlike uitslae terugkeer. Ons sal met trots en eer speel en die Namibiese vlag hoog laat wapper.”
Die spanne:
NAMIBIË MANS: Derrek Retief en Roben Kambinda (doelwagters), Jack Fourie, Joseph van Niekerk, Dian la Cock (¬onderkaptein), Jan-Izak de Villiers, Nicolai Hilbert, Baggio Karigub, Isascar Tjikuniva, Ivan Semedo, Tarrant Butcher (kaptein), Percy Barthram, Travis Mays, Josh van der Merwe, Christian du Raan, Delron Handura, Matu Kavikairiua, Christopher D’Alton, Craig McNally. Afrigters: Johan Weyhe en Sedtrick Makati; spanbestuurder: Janine van der Merwe.
NAMIBIË VROUE: Maxie Smith en Petro Stoffberg (doelwagters), Carien van Rooyen, Caitlin Coetzer, Xena Martins, Celé Wessels, Tara Myburgh, Charlize Rix, Anthea Coetzee, Joane van Rooyen, Britta Haensel, Tisha Semedo, Jahntwa Kruger, Ina Louis, Wiandri Ludwig (kaptein), Vanessa Schoeman, Gina Olles, Sascha Brinkmann. Afrigters: Melissa Gillies en Sedtric Makari; spanbestuurder: Manda Myburgh.
[email protected]

FOTO’s Tielman van Lill
Die manspan. Agter van links is Derrek Retief, Jack Fourie, Joseph van Niekerk, Dian la Cock (onderkaptein), Jan-Izak de Villiers en Roben Kambinda. Middel: Johan Weyhe (hoofafrigter), Sedtrick Makati (hulpafrigter), Nicolai Hilbert, Baggio Karigub, Isascar Tjivunika, Ivan Semedo, Tarrant Butcher (kaptein), Janine van der Merwe (spanbestuurder), Reagon Graig (NHU-president), Voor: Percy Barthram, Travis Mays, Josh van der Merwe, Christian du Raan, Delron Handura, Matu Kavikairiua, Christopher D’Alton en Craig McNally.

Namibië se vrouespan. Agter van links is Carien van Rooyen, Caitlin Coetzer, Maxie Smith, Xena Martins, Celé Wessels, Tara Myburgh, Sedtric Makari (hulpafrigter), Melissa Gillies (hoofafrigter) en Charlize Rix. Voor: Anthea Coetzee, Joané van Rooyen, Britta Haensel, Tisha Semedo, Jahntwa Kruger, Ina Louis, Wiandri Ludwig (kaptein) en Vanessa Schoeman. Afwesig was Petro Stoffberg, Sascha Brinkmann en Gina Olles.

Kommentaar

Republikein 2024-11-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!