Stokou selfone gaan gou nie meer kan bel, SMS
Stokou selfone gaan gou nie meer kan bel, SMS

Stokou selfone gaan gou nie meer kan bel, SMS

Selfone wat net op 2G werk, is redelik skaars, maar daar is tog nog heelwat Suid-Afrikaners wat dit gebruik.
Petrus Malherbe – Eienaars van stokou selfone gaan oor die volgende paar jaar nie meer oproepe op die Vodacom-netwerk kan maak of SMS’e stuur nie.

Dié diensverskaffer het aan Netwerk24 bevestig hy beplan om sy 2G-netwerk binne die volgende vyf jaar af te skakel.

2G is die voorganger van 3G wat op sy beurt die voorganger van 4G is.

4G, oftewel LTE, is deesdae die standaard wat sellulêre verbindings betref. ’n Groot aantal ouer slimfone gebruik egter nog net 3G.

Selfone wat net op 2G werk, is redelik skaars, maar daar is tog nog heelwat Suid-Afrikaners wat dit gebruik.

Daarom het Vodacom besluit om nie soos ander diensverskaffers oor die wêreld heen sy 2G-netwerk oornag af te skakel nie.

“Die proses kan na verwagting tussen vyf en ses jaar duur,” het ’n woordvoerder aan Netwerk24 gesê.

Die diensverskaffer meen van regeringskant sal regulasies in plek gestel moet word wat al Suid-Afrika se netwerke sal dwing om 2G gaandeweg uit te faseer.

Sodra 2G afgeskakel word, sal dit broodnodige hoëfrekwensiespektrum beskikbaar stel om die kapasiteit van 4G en selfs opkomende 5G te verbeter.

5G verwys na die sogenaamde vyfdegenerasie-tegnologie wat selfoonverbindings betref.

Elke generasie benodig sy eie hoëfrekwensiespektrum om te funksioneer. Daar is ’n beperkte hoeveelheid van dié spektrum beskikbaar en diensverskaffers smeek reeds meer as ’n dekade dat die regering meer daarvan beskikbaar stel.

Sodra meer spektrum beskikbaar is, sal selfoondienste goedkoper word. Dit sluit datakoste in.

Verskeie internasionale diensverskaffers, waaronder Vodafone in Australië en AT&T in Amerika, het reeds hul 2G-netwerke afgeskakel.

Plaaslik het nog net Vodacom aangedui hy beplan om sy 2G-netwerk af te skakel, maar sou regulasies ingestel word, sal die ander diensverskaffers gedwing word om dit ook te doen. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!