Stomapasiu00ebnte lei vol, normale lewens
Stomapasiu00ebnte lei vol, normale lewens

Stomapasiënte lei vol, normale lewens

Hoe meer mense oor hieroor stilbly, hoe groter bly die stigma, sê ’n suster wat ’n kenner op die gebied van stoma-versorging is.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Oktober is nie net die mooiste, mooiste maand nie, maar ook die maand waartydens die fokus wêreldwyd op stomas val.

‘n Stoma of ostomie is ‘n chirurgiese opening wat deur ‘n dokter vir verskeie mediese redes in die buik of maag gemaak word. Dit help met die deurgang van afval soos ontlasting of urine om in ‘n sakkie te versamel wat oor die stoma gedra word. Mense verwys dikwels hierna as hul “sakkie”. Volgens suster Laura Louise Obbes, wat op die versorging van stomas fokus, kan dit tydelik of permanent wees. Die verskillende stomas sluit dié vir ‘n kolostomie, ileostomie of urostomie in.

Volgens Obbes word Wêreld-ostomiedag elke drie jaar op die eerste Saterdag in Oktober gevier en fokus dit op die wêreldwye verbetering van die rehabilitasie van stoma-pasiënte.

Vanjaar se tema is “Praat en Verander Lewens” in ‘n poging om stoma-pasiënte aan te moedig om hieroor te praat, omdat dit nie iets is om oor skaam te wees nie.

“Hoe meer ons hieroor stilbly, hoe groter bly die stigma. Met meer bewusmaking sal stoma-pasiënte besef hulle is nie alleen nie en sal dit ook ondersteuning van dié pasiënte aanmoedig,” het Obbes gesê.

Volgens haar is daar verskeie redes waarom ‘n dokter ‘n stoma moet skep.

“Die algemeenste rede hiervoor in Namibië is kolorektale kanker. Ander redes sluit in oorerflike geboorteafwykings, soos babas wat met ‘n ongeperforeerde anus gebore is, ‘n skiet- of steekwond in die maag, inflammatoriese siektes soos Crohn se siekte, blaas- of metastatiese kanker en verlamming.”

Volgens Obbes is verskillende opsies in die vorm van een- of tweestuksakkies beskikbaar. Laasgenoemde is ‘n basisplaat en ‘n sakkie.

Verskillende stomas vereis ook om verskillend bestuur te word, omdat die afval onder meer verskil, sê Obbes.

‘n Kolostomie is ‘n stoma vir die kolon en dikderm en ‘n geslote sakkie word gebruik om die vaste stoelgang te versamel. ‘n Ileostomie is ‘n stoma vir die dunderm en ‘n dreineerbare sakkie word gebruik om los stoelgang te versamel. ‘n Urostomie is ‘n stoma wat urine herlei wanneer die blaas verwyder of omseil is. In dié geval word ‘n urostomiesakkie gebruik om urine op te vang.

Volgens Obbes is die versorging van stomapasiënte se vel geweldig belangrik en is verskeie produkte en bykomstighede hiervoor beskikbaar.

“Om met ‘n stoma saam te leef, behoort nie anders te wees as vir ‘n persoon wat nie ‘n stoma het nie. Dit beteken slegs die persoon skei urine en stoelgang deur ‘n ander uitgang uit.”

Volgens Obbes, wat self ‘n stoma het, is daar “heeltemal te veel van ‘n negatiewe stigma” hieraan verbonde.

“Ons moet dit verander. Die hartseer is dat baie mense wat ‘n stoma het, baie alleen voel, asof hulle die enigste een is wat met ‘n sakkie saamleef. Hulle het baie vrese en bekommernisse en dít is te wyte aan wanopvattings en ‘n gebrek aan kennis en bewusmaking oor stomas,” sê Obbes.

“Pasiënte wat stomachirurgie ondergaan het sonder om ondersteuning in die vorm van berading voor die operasie en professionele onderrig en ondersteuning ná die operasie te ontvang, loop die risiko om depressie te ontwikkel. Dit bemoeilik ook die aanpassing en aanvaarding van ‘n lewe met ‘n stoma.”

Obbes het beklemtoon stomapasiënte moet bewus gemaak word van die ondersteuning wat beskikbaar is en moet ook toegang tot hulpbronne en geriewe hê.

“Baie stomapasiënte lei vol, produktiewe lewens en kan swem, werk, aan sport deelneem en verhoudings hê. Die kans is goed dat jy nooit sal weet die persoon wat jy ontmoet, het ‘n stoma nie.”

Ongelukkig is daar nie tans ‘n register om te bepaal hoeveel stomapasiënte in Namibië is nie, sê Obbes.

“In die Khomasstreek alleen is byna 500 pasiënte wat sedert Januarie vanjaar behandeling ontvang het. Dit sluit beide nuwe pasiënte sowel as pasiënte wat opvolgbehandeling ontvang in.”

Sy sê daar is baie mense met stomas waarvan niemand bewus is nie, of wat nie meer mediese aandag vereis nie.

Vir enige stomaverwante navrae kan Obbes by 081 283 2193 gekontak word.

Die volgende mense kan ook geskakel word: sr. Christy Kavetuna (Kankervereniging van Namibië) by (061) 237 740; sr. Ida Tjerivanga (Windhoek Sentrale Hospitaal) by 081 273 6984; sr. Raula Shinana by 081 397 6799 en me. Kara Oosthuizen (Coloplast) by 081 291 6701.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!