Stonehouse: u2018Moenie van ons vergeet nieu2019
Stonehouse: u2018Moenie van ons vergeet nieu2019

Stonehouse: ‘Moenie van ons vergeet nie’

Rugby
Andrew Poolman
Cobus Claassen – Dit is dalk ’n gulde geleentheid om die Pumas en Griekwas teen die ander ses franchises te toets wanneer Suid-Afrikaanse rugby na die speelveld terugkeer.

“Daar is nie ’n promosie/relegasie-stryd om aan die Pro14-reeks deel te neem nie en dit kan interessant wees om te sien hoe die Pumas en Griekwas teen die Kings opweeg,” sê Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas.

Dit is onstuimige tye in Suid-Afrikaanse rugby deurdat die koronavirus-pandemie dit byna onmoontlik maak om vir die terugkeer na die spel te beplan.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) hoop nog om die vier Superrugby-spanne, Stormers, Haaie, Bulle en Leeus, saam met die twee Pro14-franchises, die Cheetahs en die Kings, in ’n plaaslike kompetisie te laat speel.

Sou daar weens die streng Covid-19-regulasies net tyd wees om die Curriebeker-kompetisie later vanjaar te beslis, moet daar nog oor die formaat besluit word – ’n enkel- of dubbelronde.

Stonehouse sê hy hoop nie daar word van die Pumas vergeet nie.

“As al die spanne op een plek bly (weens die virus) en die wedstryde agter geslote deur gespeel word, sal daar ’n groot besparing in reiskoste wees.

“Ja, tyd is ’n probleem, maar dit kan waardevol wees om die krag in ons rugby te bepaal.”

Die Kings het net een uit 13 wedstryde in die Pro14-reeks gewen toe die Covid-19-pandemie die kompetisie verlede maand tot stilstand gedwing het.

Die Laevelders moes self verlede seisoen in ’n promosie/relegasie-kragmeting hul Premierliga-status teen die Griffons probeer behou en het dit met ’n wegholsege van 49-5 gedoen.

Stonehouse sê ondanks al die onsekerheid, is die Pumas hard aan die oefen. Daar word selfs van die spelers verwag om twee keer per week toets te skryf.

“Ons stuur elke Dinsdag en Donderdag vrae op ons WhatsApp-groep aan vir ’n toets wat die spelers tuis skryf.

“Dit is vrae oor onder meer ons spelpatroon en die verskillende ‘calls’. Hulle het dan 25 minute voordat hulle hul antwoorde moet terugstuur.

“Ons het ook ’n oefenprogram en die spelers moet video’s van hul oefensessies op die groep aanstuur.

“Dit is belangrik dat almal op dieselfde fiksheidsvlak bly.”

Hy sê die spelers daag mekaar ook uit om by die gemeenskap betrokke te raak en koop produkte soos mieliemeel, melk en eiers vir behoeftiges.

“Dit is wonderlik om te sien hoe die spelers, in ’n tyd wat hul salarisse gesny word, hul harte en beursies oopmaak.

“Daarmee help ons met die nood in ’n plakkerskamp, ’n kinderhuis en die Mataffin-gemeenskap naby die stadion.”

Almal in die groep kuier ook minstens een keer ’n week op Zoom.

“Dit is ’n ongekende tyd en die uitdaging is dat die ouens se gemoed nie daaronder ly nie. Die grootste deel van die groep het in Nelspruit aangebly (toe die inperking begin het) en ons het aan die begin besluit ons gaan positief bly en saam hierdeur gaan,” sê Stonehouse. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!