Stonehouse waarsku oor ‘gekweste’ Cheetahs
Rugby
Marnus Kok – Die gekweste Vrystaat-Cheetahs gaan vanjaar ’n moeilike teenstander op die rugbyveld wees ná die afjak wat ringkoppe van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie hulle vandeesweek gegee het, meen Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas.
Die breier van die Laevelders is om kommentaar genader nadat die Vrystaters gehoor het dat hulle hul plek in die Pro14-reeks kwyt is. Stonehouse is vas oortuig die Cheetahs, die Curriebeker-kampioene, gaan juis om daardie rede voel hulle het ’n punt om te bewys.
“Ek verstaan die besluit, die tydsaspek met reis verbonde en dat dit ’n beter inkomste vir SA Rugby verseker. So uit daardie oogpunt maak dit sin. Maar rugbygewys dink ek die Cheetahs het die kans verdien om in die Pro14 te speel,” sê Stonehouse.
“Dit is nie die Cheetahs se skuld dat die ander spanne sonder hul Springbokke (in 2019) gespeel het nie. Dit is juis wat die Vrystaters vanjaar so gevaarlik kan maak, hulle gaan daarop uit wees om ’n punt te bewys.
“Tog is dit goed dat hulle in die ander reeks (’n nuwe Superreeks) speelkans gaan kry, maar nou weet ’n mens ook nie hoe sterk die mededinging daar gaan wees nie.”
Stonehouse se Pumas kan die eerste plaaslike span wees om oor ’n rapsie meer as ’n week uit te vind presies hoe seer daardie afjak die Cheetahs gemaak het. Die twee spanne is dan slaags in ’n Superrugby Unlocked-wedstryd in Bloemfontein.
Daar kan natuurlik nog later in die seisoen ’n paar kinkels in die kabel volg indien die Springbokke nie aan die Rugbykampioenskap deelneem nie.
Dit sal beteken dat die nasionale spelers die hele seisoen vir hul plaaslike spanne beskikbaar kan wees. Indien die Cheetahs dan met byvoorbeeld ’n sterbelaaide Blou Bulle- of Westelike Provinsie-span afreken, kan dit ’n paar baadjiedraers met rooi gesigte laat.
Die Pumas kom Vrydag teen die Leeus in Johannesburg te staan – hul laaste oefenwedstryd voordat hulle die Cheetahs pak. Hulle het verlede week ’n vyftiental van die Blou Bulle in Mbombela geklop – vir die meeste Laevelders hul eerste kragmeting in langer as ’n jaar.
“Dit was ’n aanpassing vir die spelers en ook ons as afrigters om weer in ’n wedstryd betrokke te wees. Maar die opgewondenheid om weer te speel het alles oortref.
“Dit is wel vreemd om in ’n leë stadion te speel en al die streng protokolle te volg – en dan nie eens ná die tyd nog ’n bietjie saam te kuier nie,” sê Stonehouse.
Hy het nog nie sy groep vir die kragmeting met die Johannesburgers aangewys nie, aangesien Devon Williams (veelsydige agterspeler), Marné Coetzee (stut) en Pieter Jansen van Vuren (slot) nog effense las van ligte kwale het.
“Ons is opgewonde oor die wedstryd, dit gee ons ’n laaste kans om ons kombinasies uit te toets. Ons is goed voorberei. Ek verwag dat die Leeus hul beste spelers gaan inspan – met die uitsondering van hul ouens wat by die Groen-en-Goud-wedstryd betrokke is.”
– Netwerk24
FOTO’s
Spelers van die Vrystaat-Cheetahs gedurende ’n Curriebeker-wedstryd teen die Westelike Provinsie in 2019 in Bloemfontein. Foto Gallo Images
Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas, verwag ’n omgesukkelde Cheetah-span vanjaar. Foto Gallo Images

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie