Stoop-moordsaak weer voor die hof
Stoop-moordsaak weer voor die hof

Stoop-moordsaak weer voor die hof

Polisieman getuig oor beskuldigde se uitwysing van die moordtoneel
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw – Hoofinspekteur Hermias van Zyl van Nampol het gister voor regter Dinnah Usiku getuig in die verhoor waarin mnre. Erwin en George Katjingisua en me. Nelsine Utiapatie Kauaria van die aanranding, moord en roof van die 78-jarige mnr. Koos Stoop op 28 Augustus 2009 aangekla word.
Van Zyl het die transkripsie van die uitwysing van die moordtoneel deur Erwin Katjingisua in die hof voorgelees en bevestig dat Katjingisua sy verklaring vrywillig bevestig het.
Die staat voer aan dat Stoop op die nag van die moord vir Kauaria met wie hy ’n verhouding gehad het, elders in Windhoek gaan oplaai het en haar na sy woonstel in Shilungastraat, Cimbebasia, geneem het. Die twee Katjingisiua-broers het hulle na bewering in ’n taxi agtervolg.
Van Zyl het getuig dat Erwin Katjingisua tydens die uitwysing van die moordtoneel vertel het hoe hy en sy broer George Stoop se huis binnegegaan het en Stoop hulle uitgejaag het. Volgens Katjingisua se getuienis het George ’n mes oopgemaak en hulle het Stoop vasgemaak, geslaan en geskop en met die mes gesteek. Volgens Katjingisua se verklaring het George vir Stoop in die badkamer toegesluit terwyl hy en Kauaria die huis vir geld deursoek het.
Stoop is van ’n TV, selfoon, motorradio en ’n haarknipper beroof.
Volgens Erwin Katjingisua se verklaring het al drie beskuldigdes probeer om met die gesteelde goedere in die oorledene se bakkie te vlug, maar hulle kon dit nie aanskakel nie. Hulle het toe die TV in die rivierbedding versteek.
Mnr. Boris Isaacs wat namens George Katjingisua optree, het tydens sy kruisondervraging van Van Zyl uitgewys dat Erwin Katjingisua die blaam vir die moord op sy broer George probeer plaas. Mnr. Monty Karuaihe wat die verdediging van Erwin Katjingisua behartig, het Van Zyl uitgevra of Katjingisua tydens die aflê van sy verklaring enigsins beïnvloed of gedreig is.
Die drie beskuldigde bly in aanhouding en die verhoor gaan vandag voort. Mnr Louis Karsten behartig die verdediging van Kauaria en me. Antonia Verhoef tree namens die staat op.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!