Stoot net aan
Stoot net aan

Stoot net aan

Minette Brink
“Dit het heelnag gesneeu.

Teen 08:00 is my sneeuman klaar.

8:10 My feminis-buurvrou stap verby en vra hoekom ek nie ‘n sneeuvrou gemaak het nie.

8:12 Toe maak ek ‘n sneeuvrou.

8:17 My bure se kinderoppasser kom kla oor die sneeuvrou se omvangryke boesem wat volgens haar alle sneeuvroue objektiviseer.

8:20 Die gay paartjie oorkant die pad is knorrig en sê dit moes liewer twee sneeumans gewees het.

8:22 ‘n Transgender ma. . . vro. . . persoon op ‘n fiets wil weet hoekom ek nie net ‘n sneeupersoon met verwyderbare dele gemaak het nie.

8:25 Die veganiste straataf kla oor die wortelneus, want groente is kos en nie bedoel om sneeufigure mee te versier nie

8:28 Ek word ‘n rassis genoem omdat die sneeupaartjie wit is.

8:31 Die Moslem-man wat langs die veganiste bly, dring aan dat die sneeuvrou ‘n burka dra.

8:40 Die polisie daag op om te sê ek het iemand aanstoot gegee.

8:42 Die feminis is briesend oor die sneeuvrou se besem en sê dit moet verwyder word aangesien dit vroue in ‘n huishoudelike rol stereotipeer.

8:45 TV-nuusspanne hou in die straat stil en vra of ek die verskil tussen ‘n sneeuman en -vrou ken. Ek sê ‘sneeuballe’ en word ‘n seksis genoem.

9:00 Ek is op die nuus as ‘n vermeende terroris, homofoob en aanhitser beskryf wat daarop uit is om moeilikheid te maak onder uitmergelende weersomstandighede.

9:10 Ek word gevra of ek medepligtiges het. My kinders word deur maatskaplike dienste weggevat.

9:15 Amptenare van die stadsraad se afdeling vir gelyke regte en regverdigheid dreig om my uit my huis te sit.

9:29 Verlinkse betogers wat permanent aanstoot neem oor alles, marsjeer in die straat en dring aan dat ek onthoof word.

Die lewensles? Daar is nie een nie. Dis bloot die toestand van die hedendaagse wêreld en dit raak al hoe erger.”

Só skryf ‘n medelyer op die internet. Die oorspronklike bron is onbekend, maar ek is seker hy of sy sal nie aanstoot neem oor die deel nie.

Mense raak by die dag supersensitief oor beuselagtighede. ‘n Gewippery en opgeplukkery oor niks. Genugtig. Haal asem. Ontspan en laat gaan.

Maar nee, die wêreld bly onderstebo. Die mensdom is heeltyd krapperig oor iets.

Die nuutste tendens is ouerpaartjies wat wil hê dat hul produk nie meer “babies” genoem word nie, maar “theybies”. Sodat die kind self eendag kan besluit of hy ‘n hy of ‘n sy of sy ‘n sy of ‘n hy is.

My brein rook pal ná die lees van dié aardskuddende nuus. Die ouers meen babas word met geboorte in kassies geplaas en het geen keuse nie as om die geslag aan te neem wat bepaal word deur wetenskaplikes se besluit gebaseer op sigbare anatomie. Met ander woorde, het jy ‘n paar of nie?

Sou dit nie net makliker wees om uit die staanspoor oop-oog en oopkop te wees vir die dag dat jou seun of dogter self uit sy of haar kassie wil klim nie? Gaan jy nie jou baba, ag ekskuus, jou theybie, juis verder verwar deur “dit” groot te maak as geslagloos of dubbelgeslag nie? Ek is te dom vir al die sielkunde agter sulke besluite. Maar beslis nié blind vir die realiteit nie.

Die breë samelewing het ondanks al die bewusmaking en plakkaatswaaiery steeds nie verwelkomende oop arms vir gays, lesbiërs, transgenders, andersgelowiges, andersdenkendes, vroue in hul magdom fasette, verfynde dog heteroseksuele mans, of enigiemand op die ellelange diskriminasielys nie.

Dis tragies en ‘n skande dat dierbare mense net oor hul sogenaamde “andersheid” steeds gekasty word. Maar dié wat deurgaans ‘n bedreiging of aanval in elke optrede of woord van ander sien, mors kosbare tyd en energie.

Soos die Engelse seg: Grow a pair.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!