Storm broei oor Erindi

Denver Kisting
Denver Kisting



Die Namibiese regering hét magtiging gegee dat die Erindi private wildreservaat aan 'n Mexikaanse miljardêr verkoop word.

Dit kom ondanks 'n weergawe Maandag deur die eerste minister, dr. Saara Kuugongelwa-Amadhila, dat dié verlof nie toegestaan is nie.

Republikein het verneem mnr. Utoni Nujoma, die minister van grondhervorming, het glo sowat 'n maand gelede reeds skriftelik namens die regering tot dié verkoop ingestem.

Die regering kan nie vir Erindi verkoop nie omdat die spogoord nie aan hom behoort nie, het Kuugongelwa-Amadhila Maandag gesê.

Dit het verlede week rugbaar geword die buitelander mnr. Alberto Baillères is warm op die oord se spoor.

Die regering het reeds te kenne gegee hy stel nie belang om self die grond aan te skaf nie.

Volgens 'n verklaring is die verkooptransaksie in 'n gevorderde stadium en nog net aan 'n besluit deur die Mededingingskommissie onderhewig.

Kuugongelwa-Amadhila het Maandag gesê die verkoop van kommersiële grond word deur wetgewing gereguleer waarvolgens die regering magtiging moet gee as 'n buitelander sulke grond wil koop.

Volgens haar is daardie magtiging nie gegee nie. Sy het op 'n vergadering in Windhoek gesê die regering “sal niks doen wat die belang van ons mense in die gedrang kan laat kom nie”.

Verskeie pogings om by Nujoma kommentaar te kry, het misluk.

Kuugongelwa-Amadhila het gister alle navrae na sy ministerie verwys.

Politieke partye het intussen ook hul stem dik gemaak teen die beplande verkoop van die oord.

National Unity Democratic Organisation (Nudo) en die Popular Democratic Movement (PDM), twee opposisiepartye, het kapsie gemaak.

Die eerste minister het dié week benadruk die nasionale grondberaad het verlede jaar ooreengekom om na die belange van grondlose Namibiërs om te sien.

Dié doelwit is steeds op die agenda, het sy gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer