Storm oor gedragskode

Spanning tussen opposisiepartye, die kieskommissie en Swapo het gister bykans breekpunt bereik.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die meeste opposiepartye en die onafhanklike kandidaat, dr. Panduleni Itula, het gister geweier om ’n gedragskode te onderteken wat die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) aan hulle voorgelê het.

Dié dokument het ten doel om te keer dat partyleiers en hul ondersteuners mekaar intimideer of teister in aanloop tot die presidensiële en Nasionale Vergadering(NV)-verkiesing volgende maand.

Chaos het by ’n Windhoekse hotel uitgebreek waartydens beledigings links en regs geslinger is.

Die werklikheid is, sê die voorsitter van die ECN, adv. Notemba Tjipueja, dié gedragskode is reeds sedert 1992 in die openbare domein.

Boonop, het sy ná politieke partye onder Itula se leiding uitgestorm het, aan die media gesê dit is politieke partye self wat gevra het vir ’n gedragskode nadat voorvalle van intimidasie en teistering aangemeld is.

Die eenbladdokument bevat 16 items.

Onder meer verbied dit intimidasie en maak ook enige wapens – selfs dié van ’n tradisionele aard – by enige politieke byeenkoms verbode.

Partye mag kragtens die gedragskode ook nie tussen 21:00 en 07:00 van openbare ruimtes gebruik maak wat tot ’n steurnis kan lei nie en mag nie naby mekaar op dieselfde dag byeenkomste hou nie.

Die kode verbied ook taalgebruik wat geweld teen enigiemand of groep opsweep, partye mag nie mekaar se byeenkomste ontwrig nie, en mag nie mekaar se veldtogmateriaal vernietig nie.

Gister se chaos het ondanks hoëvlakpolisieteenwoordigheid geheers.

Lt.genl. Sebastian Ndeitunga, die nasionale polisiebaas, het by die geleentheid gesê: “Demokrasie beteken nie chaos en anargie nie.”

Volgens hom sou die polisie nie eens politieke byeenkomste wou bywoon nie omdat hulle genoeg werk het.

“Ons hande is vol – ons wil nie by julle byeenkomste wees nie.”

Maar, sê hy, hul teenwoordigheid word dikwels genoodsaak om orde te handhaaf. “Ons lewer ons dienste onpartydig en objektief.”

Die polisiehoof het voor die chaos ontstaan het, gesê dit is nie noodwendig politieke leiers wat hulle aan wangedrag skuldig maak nie.

“Dis die volgelinge; die ondersteuners. Tydens veldtogte is sommige mense onder die invloed van ‘aanmoedigingswater’.”

Gister se verrigtinge is ontwrig nadat Itula wou kapsie maak teen hoe die ECN die vergadering gelei het.

Die kieskommissaris, mnr. Gerson Tjihenuna, het gesê geen items mag bespreek word wat nie op die program is nie.

Veral uit die geledere van die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), het die kritiek gereën teen hul beweerde inperking van vryheid van spraak.

Die PDM-LP, mnr. Vipua Muharujua, het luid kapsie gemaak.

Die opposiepartye het ook beweer daar was geen beraadslaging oor die gedragskode nie.

Me. Sophia Shaningwa, Swapo se sekretaris-generaal, het in ’n stadium opgevlieg en gesê sy het genoeg daarvan gehad dat haar tyd gemors word.

Volgens haar was sy daar om die dokument te onderteken.

Itula het toe die opposiepartye beveel om uit te stap.

Kort nadat hulle uitgestap het, het hy teruggekeer en probeer om Shaningwa se hand te skud.

Sy het geweier dat hy haar groet en ’n woordewisseling het opnuut ontstaan.

Tjipueja het gesê opposiepartye het ’n uitnodiging aanvaar vir die ondertekening van die gedragskode, maar toe die geleentheid vir hul eie doeleindes “gekaap”.

Sy het toegegee die dokument is nie wetlik afdwingbaar nie.

Dít is die probleem, het die verkiesingswaarnemer, me. Carola Engelbrecht, gistermiddag gesê.

“Dit (die kode) het geen mag nie.”

Net Swapo en die National Democratic Party het die gedragskode gister onderteken.

Lig op EVM-verdwyning

Die hoofkiesbeampte, mnr. Theo Mujoro, het gister gesê die ECN sal vandag meer lig werp op die vier elektroniese stemmasjiene wat meer as twee jaar terug in Swapo se besit verdwyn het.

Volgens Tjipueja het Namibiërs glo geen rede tot kommer oor die gebruik van dié toestelle tydens die verkiesings nie.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!