Storm oor Randgold-baas se 'slagting'
Storm oor Randgold-baas se 'slagting'

Storm oor Randgold-baas se 'slagting'

Die maatskappy meen “wettige, goed gereguleerde jag” bevoordeel wildbewaring, asook die lewensomstandighede van gemeenskappe wat in die omgewing van die wild woon.
'n Direkteur van Panthera, 'n organisasie wat hom vir die bewaring van groot wilde katte beywer, is internasionaal onder groot druk om uit dié organisasie se direksie te bedank.

Mark Bistrow (58), die Suid-Afrikaans gebore mynmagnaat en uitvoerende hoof van Randgold Resources, is glo “baie lief vir jag” en “ewe lief vir bewaring”.

Bistrow het op Wêrelddieredag onder skoot gekom nadat foto's van hom waar hy by sy prooi, 'n dooie luiperd, 'n leeu, 'n olifant, 'n seekoei en 'n sebra poseer, op sosiale media versprei is.

Bewaringsorganisasies is veral woedend omdat Bistrow, wat homself “voordoen as 'n bewaarder van bedreigde groot katte”, 'n kritiek bedreigde luiperd, asook 'n leeu, gejag het.

Die bioloog Daniel Schneider het in 'n twiet gerig aan Bistrow gesê: “Jy dink omdat jy op die raad van Panthera is, jy skotvry daarvan gaan afkom. Jy moet ophou met trofeejag.”

Sy boodskap aan Panthera is: “Julle moenie jul naam so beswadder met hierdie slagter nie. Julle doen goeie werk.”

Die Amerikaanse fotograaf Richard Bernabe het sy meer as 1 miljoen volgelinge op Twitter gevra om Wêrelddieredag te vier deur Bistrow te ontbloot. Meer as 200 mense het hierop gereageer en die inligting gehertwiet.

Die Daily Mail het berig Bistrow se jagtogte het in Suid-Afrika plaasgevind. Die foto's van Bistrow wat by sy trofeë poseer, is in 'n nuusbrief as promosie vir jagtogte in Suider-Afrika deur Hunters & Guides Africa, 'n plaaslike jagoperateur, gebruik.

Frank du Plessis, woordvoerder van Randgold, sê Bistrow woon deesdae in Londen en is tans in New York. Hy sê die maatskappy is bewus van die storm wat om Bistrow se kop losgebars het en het 'n verklaring “gereed”.

Luidens die verklaring wat Du Plessis aangestuur het, meen Randgold “wettige, goed gereguleerde jag” bevoordeel wildbewaring, asook die lewensomstandighede van gemeenskappe wat in die omgewing van die wild woon.

“Dit is belangrik om daarop te let dat die Wêreldnatuurfonds (WWF) en die Trust vir Bedreigde Spesies (EWT) nie teen jag gekant is nie, solank dit voordele vir natuurbewaring en die gemeenskappe inhou.

“Die volhoubare benutting van wild in Suid-­Afrika het daartoe bygedra dat dié land se stuks wild die afgelope 50 jaar van 500 000 tot 20 miljoen vermeerder het.”

Luidens die mediaverklaring het Kenia in dieselfde tydperk meer as 75% van sy wild verloor toe die land 'n algehele verbod op jag geplaas het.

Randgold het onder meer 'n vennootskap met die Mali-olifantprojek om die wêreld se laaste twee troppe woestyn-olifante in dié land te help bewaar.

“Bistrow lewer self 'n aansienlike bydrae tot teenstropingseenhede in Zimbabwe en is 'n groot ondersteuner van ­bewaringsinisiatiewe vir swartrenosters in die Hwange-natuurreservaat,” lui die verklaring.

Panthera sê op sy webblad hy is die enigste organisasie in die wêreld wat hom beywer vir die bewaring van die groot katte.

“Ons span ontwikkel innoverende inisiatiewe om die bedreigings vir ­jagluiperds, leeus, luiperds, pumas, tiere en sneeuluiperds teen te werk.” - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!