Storm rig groot skade op Gobabis aan

Dakke is afgeruk, bome is ontwortel en verskeie huise en tuine is deur die storm op Gobabis verwoes.
Ronelle Rademeyer
Kristien Kruger



'n Erge wind- en haelstorm het Gobabis Saterdagmiddag getref en huise en sakeondernemings op die dorp het groot skade gely.

Die kenmerkende standbeeld van die Brahmaanbul by die westelike ingang van die dorp is van die infrastruktuur wat in die slag gebly het.

Hoewel die storm glo net sowat 10 minute geduur het, het sommige plekke tussen 15 en 20 mm reën gemeet en het dit volgens mnr. Weskus (Wikus) Louw, 'n sakeman op die dorp, beduidende skade aangerig.

'TORNADO-TIPE STORM'

“Die weer het daar van Steinhausen se kant af gekom. Dit het gelyk soos 'n tornado-tipe storm. Ons het vir hom gestaan en kyk,” vertel Louw.

“Build It se dak het afgewaai en so ook die BMW-tak se dak. Op plekke lê elektriese heinings plat.

“Hoe lank staan daardie bul al daar waar jy die dorp inkom? Járe. Maar dit lyk my daardie bul het nou draad gespring. Daar was seker 'n koei naby,” skerts Louw oor hoe dié beroemde standbeeld deur die wind verrinneweer is.



GOBA LODGE

Volgens 'n werknemer by Goba Lodge, aan die westelike buitewyke van die dorp, is sewe groot peperbome tydens die storm uit die grond geruk.

“Drie van die bome het op Louise (eienaar) se huis beland en drie op die lodge se kamers waarvan een 'n geiser beskadig het.

“Ons pakkamer se dak is afgeruk en het voor by die ontvangs geval waar die lodge se kamers geleë is.

“Verder is daar geen krag of water nie. Daar is ook groot seringbome wat beskadig is,” het Johan Steyn vertel.

“Dit was verskriklik. Bome se blare is afgeslaan en die tuin lyk asof 'n orkaan daardeur is. My grasdakke was 'n ramp; die hael was onder die gras­dakke in,” het 'n inwoner aan die suidekant van die dorp, me. Annie Booysen, aan Republikein gesê.



NIE DIE EERSTE IN Dié ­REËNSEISOEN

Vroeër in vanjaar se reënseisoen is die Keetmanshoop-omgewing deur 'n soortgelyke storm getref.

Op 28 Oktober het 'n haelstorm in die Keetmanshoop- en omliggende omgewing vyf kragpale vernietig en ernstige skade aan minstens twee huise by onderskeidelik Keetmanshoop en in die Karasberge aangerig, terwyl boere vertel het die hael het selfs voëls doodgeslaan.

Republikein het toe destyds berig dat die vyf kragpale wat tydens die haelstorm omgewaai, gebuig en uit hul fondasie geruk is, elk sowat 14 ton geweeg het en 33,4 meter hoog was.

Volgens die Facebook-groep Reën

in Namibia het dit die afgelope naweek al langs die oostelike grens gereën en Ariamsvlei (45-50 mm Saterdag) was onder die plekke wat reën gekry het.

Gedeeltes van die hoofstad, insluitend Kleine Kuppe en Cimbebasia, het Vrydagmiddag ook vir 'n paar minute swaar neerslae beleef.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 28° Rundu: 21° | 33° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 20° | 36° Tsumeb: 21° | 31° Otjiwarongo: 19° | 32° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 19° | 31° Gobabis: 20° | 32° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 19° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 17° | 34° Keetmanshoop: 16° | 34° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 15° | 34° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 22° | 31° Lubumbashi: 17° | 21° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 17° | 29° Antananarivo: 16° | 28° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 23° | 37° Windhoek: 19° | 31° Cape Town: 18° | 24° Durban: 22° | 31° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 26° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!