Stormers karnuffel Bulle soos in ou dae
Stormers karnuffel Bulle soos in ou dae

Stormers karnuffel Bulle soos in ou dae

Rugby
Stephen Nell - Dit het omtrent soos die gloriedae van die Curriebeker-reeks gevoel soos die Stormers en Bulle mekaar Saterdagmiddag in 'n boeiende Superrugby-wedstryd op Nuweland gekarnuffel het.

Uiteindelik was die Stormers met 29-17 baas in 'n wedstryd wat enige kant toe kon gegaan het.

Die Bulle hoef oor niks skaam te wees nie. Dit was die beste span in jare wat uit Pretoria Nuweland toe gestuur is en daar moet in gedagte gehou word dat hy nog in die vroeë stadium van sy ontwikkeling onder John Mitchell se afrigting is.

En watter lus vir die oog is die Bulle nie wanneer hulle eers aan die gang kom met die bal in die hand nie! Die Stormers sou die wedstryd nie sonder uitstekende verdediging en mededinging by die afbreekpunte gewen het nie.

Die Bulle word vanjaar geken aan hoe goed hulle wedstryde begin, maar hierdie keer was hulle ná 10 minute op die krytvloer met Wilco Louw en Damian Willemse wat drieë vir die Stormers afgerond het.

Daardie pak slae wat die Stormers in hul nederlaag op Loftus by die eerste skrum van die wedstryd gekry het, het duidelik as goeie motivering vir dié kragmeting gedien. Hulle het by die eerste drie skrums strafskoppe afgedwing en die Bulle met 'n yslike intensiteit oorrompel.

Hierdie Bulle-span is egter een met sowel klas as karakter.

Lood de Jager het danksy 'n puik hardlooplyn onder die Stormers se pale afgerond en die momentum het in die besoekers se guns geswaai nadat die tuisspan se haker, Ramone Samuels, 'n geelkaart vir geniepsige spel gekry het.

Met Handré Pollard se strafdoel onmiddellik daarna was die gaping net twee punte, en die Bulle het vroeg in die tweede helfte die voorsprong gekry wat hulle op die balans van spel verdien het met 'n drie deur Jason Jenkins.

Die wedstryd het egter onmiddellik ná die afskop geswaai toe die Stormers die bal teruggewen en SP Marais afgerond het. Marais het die voorsprong na 22-17 laat rek met 'n langafstandstrafdoel.

Vir die Stormers was die laaste 25 minute van die wedstryd 'n groot karaktertoets wat hulle met vlieënde vaandels geslaag het.

Hulle het hul kaptein, Siya Kolisi, in sy 100ste wedstryd net voor Marais se strafdoel aan 'n besering afgestaan. Die man wat hom vervang het, Nizaam Carr, het egter die hoë standaarde voortgesit en ook sy stempel by die afbreekpunte afgedruk.

'n Drie deur Samuels met net meer as 'n uur se spel verstreke was die beslissende hou. Die Stormers het met goeie agterlynspel ruimte geskep en Samuels het danksy 'n goeie aangee uit kontak deur Pieter-Steph du Toit afgerond nadat Damian de Allende so byna-byna die kans om die punte aan te teken weggesmyt het.

Du Toit was 'n kolos en dalk net-net beter as sy regstreekse teenstander, De Jager. Hulle kan 'n bielie van 'n Springbok-slotpaar vorm indien Eben Etzebeth nie fiks is om teen Wallis en Engeland te speel nie.

Samuels se drie het die Stormers met breë borse laat speel en die tekortkominge op Loftus was sterkpunte op Nuweland. Hulle het die Bulle se rolmaalbewegings gefnuik en die besoekers flenters geduik.

Dillyn Leyds was die verpersoonliking van die gees met 'n duikslag op Johnny Kotze wat 'n sekere drie in die hoek met vier minute oor gekeer het.

Daardie oomblik was omtrent die storie van die wedstryd en alle eer aan die Stormers. Hulle durf nog nie afgeskryf word nie.



Puntemakers:

Stormers 29 (12): Drieë: Damian Willemse, Wilco Louw, SP Marais, Ramone Samuels. Doelskoppe: Willemse (3). Strafdoel: Marais.

Bulle 17 (10): Drieë: Lood de Jager, Jason Jenkins. Doelskoppe: Handré Pollard (2). Strafdoel: Pollard. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!