Stormers net betyds weg van die afgrond
Stormers net betyds weg van die afgrond

Stormers net betyds weg van die afgrond

Rugby
Leighton Koopman - Die Stormers het Vrydag ’n groot tree weg van die Super-afgrond gegee. En net betyds ook, want komende naweek kom ’n gewonde Bul-span Nuweland toe met die doelwit om terug op die wenpad te kom.

Die Kapenaars het die Rebels se sterte Vrydagmiddag met 34-18 geknoop om die gety ná ’n segelose maand te draai.

Hul afrigter, Robbie Fleck, was vanselfsprekend ’n verligte man, aangesien sy span hul skrale hoop op ’n plek in die uitspeelronde lewend gehou het. Maar hy is terselfdertyd nie blind daarvoor nie dat ’n veel beter poging teen die Bulle sal nodig wees.

“Ek is ’n bietjie verlig, maar daar is steeds druk op ons,” het Fleck ná die oorwinning gesê. “Darem was hierdie ’n baie beter vertoning waarin ons gewys het wat ons kan doen met die bal in die hand.”

Die paar ondersteuners op Nuweland is beslis nie op ’n volmaakte vertoning getrakteer nie, maar ná verskeie nederlae weg van die huis af het hulle met goeie rede feesgevier oor hul span se sege. Die Stormers het in die proses hul onoorwonne status in hul tuiswedstryde behou.

Die Kapenaars het vier puik drieë gedruk danksy goeie samespel deur die spelers, maar ook toegelaat dat die Rebels twee drieë van hul eie druk om die tuisspan van ’n bonuspunt te weerhou.

Klein foute soos ’n aanslaan en obstruksie voor ’n oop doellyn het die Stormers ook gepootjie.

Daardie klein jakkalsies in hul wingerd kniehalter die Stormers al die hele seisoen, en as hulle nie gou verjaag word nie, wag nog baie trane op Nuweland.

Fleck sê die Stormers werk hard daaraan om die ontydige foute uit te skakel.

“Ons het te veel sagte oomblikke, hetsy deur verkeerde besluite of die swak uitvoering van ’n beweging. Maar as ons die fases opstapel is ons ’n goeie span,” sê die afrigter.

“Daar is nog ses wedstryde vir ons oor en ons gaan aanhou veg om ons posisie op die puntelys te verbeter. Ons glo ons kan nog kwalifiseer vir die uitkloprondes. ’n Bonuspuntsege (Vrydag) sou wel goed gewees het.

“Ons verdediging was goed in die eerste helfte en het hul groot baldraers, waarop die Rebels steun, onder druk geplaas. Ek dink ons het hulle goed in toom gehou.”

Pieter-Steph du Toit, die Stormers-slot, en die stutte Steven Kitshoff en Wilco Louw het voorlangs groot bydraes gelewer, terwyl die jong losskakel Damian Willemse elke die week groei in statuur.

Die senter Damian de Allende het een van sy beste wedstryde in jare vir die Kapenaars gespeel en is stadig maar seker besig om sy beste spelpeil te herwin. Hy het goed verdedig, bresse geslaan op die aanval en verskeie verdedigers holderstebolder gehardloop.

Dave Wessels, die afrigter van die Rebels, het ná die wedstryd gesê twee areas van hul spel het hom teleurgestel.

“Ons dissipline is nou al ’n geruime tyd ’n probleem,” het hy gesê.

“Die tweede ding is ons vaste fasette. Ons het omtrent 50% van die skrums gewen en 60% van ons lynstane. As jy nie daardie twee goed reg doen nie, gaan jy nie wen nie. Die spelers het wel goed gevaar met die bal in die hand en ons het hulle probleme besorg wanneer ons gate in hul verdediging gevind het.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!