Storms in KwaZulu-Natal eis vier
Storms in KwaZulu-Natal eis vier

Storms in KwaZulu-Natal eis vier

Swaar reën het treinspore beskadig en hospitale is oorstroom.
’n Twaalfjarige seun is een van vier mense wat omgekom het nadat ’n reusestorm Dinsdag sy pad deur KwaZulu-Natal in Suid-Afrika gebaan het, luidens die nooddienste in die provinsie.

Die seun is deur ’n rivier in Izingolweni, Port Shepstone, aan die suidkus meegesleur, het Robert McKenzie, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse provinsiale nooddienste gesê.

Twee mense is dood toe ’n muur by die Prince Mshiyeni-gedenkhospitaal in Umlazi omgeval het. Twee ander mense is ernstig beseer toe die muur omgeval het, het Sibongiseni Dhlomo, LUR vir gesondheid, in ’n verklaring gesê.

’n Polisielid is dood toe ’n vraghouer op ’n motor geval het in Rotterdamweg in die Durbanse hawe, luidens Garrith Jamieson van Rescue Care.

Skade is aan meer as agt mediese instellings in die eThekwini-streek aangerig, sê Dhlomo.

Die hospitale wat geraak word sluit Addington, RK Khan, Wentworth, St Aidans, King Edward, Clairwood en Inkosi Albert Luthuli in.

Die hospitale het oorstroom en sommige van hulle se vensters en dakke is deur die wind beskadig.

Voorts het swaar reën groot skade aan Metrorail se treinspore in die provinsie aangerig.

Die Metrorail-treindiens in KwaZulu-Natal sal vir ten minste vier tot vyf dae buite werking wees ná die reusestorm wat die provinsie Dinsdag getref het.

“Tot dusver het die tegniese span berig dat altesaam 17 treine vassit buite die operasionele depots, buite die stasies of op die platforms,” het die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), in ’n verklaring gesê.

Luidens die verklaring het die treine geen krag of treinspore waarop hulle kan ry nie.

“Daarbenewens is dakke van die stasies, heinings, spore en substasies ernstig geraak. In sekere gevalle is daar geen grond wat die treinspore ondersteun nie omdat die grond en die staal wat dié spore in plek hou, weggespoel het.”

Die omvang van die skade en die tyd wat dit gaan neem om die herstelwerk te voltooi, moet nog vasgestel word, hoewel Prasa reeds met die werk begin het.

Prasa sê in die verklaring hy het in die afgelope vyf jaar sowat R1,3 miljard bestee net aan die opgradering van treine se seinstelsels in KwaZulu-Natal. Dié werk gaan nou oorgedoen word saam met omvangryke herstelwerk aan die hele treinspoornetwerk in die provinsie. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!