Stormweer tref dorre Erongo
Stormweer tref dorre Erongo

Stormweer tref dorre Erongo

Des Erasmuss
Des Erasmus - In die middel van die Namib was daar gisteroggend strome in die dorsland nadat stormweer van die nag oor die see en sentrale kus tot diep in die binneland reën gebring het.
Arandis, tussen Swakopmund en Usakos, het die meeste uit die reënwolke geskep met water wat in huise gestoot het en oor die dorp se hoofstraat gestroom het.
Langs die kus het Walvisbaai, Swakopmund en Hentiesbaai in die nag reën gekry. Oorslaandorpe in die wurggreep van die droogte was Usakos en Karibib, met Omaruru wat ook net 'n ligte reëntjie gekry het. In die rigting van die Erongoberge wes van die teerpad tussen Omaruru en Karibib het die blitse wel op die rotsbanke gestaan.
Op Swakopmund, Hentiesbaai en Walvisbaai het elektriese storms oor die see in die nag vir 'n skouspel van 'n leeftyd gesorg met weerligstrale wat tot diep in die see agter die branders gespeel het. Fanie van Niekerk van die hoeweboere langs die Swakoprivier het gisteroggend laat weet dat Nonidas langs die teerpad 4 mm reën gekry het. “Donderweer, reën en 'n oostewind saam het vir ongekende toestande sorg. Was dit 'n pot het die deksel afgeskiet,” het Fanie aan Republikein gesê.
Danie du Toit van Walvisbaai was gisteroggend by Arandis op pad toe die stormweer die myndorp in die middel van die Namib gelooi het. In 'n video-opname wat hy van die skouspel gemaak het, was mensestemme feitlik nie hoorbaar nie. Florida Husselmann, hoof uitvoerende beampte van Arandis, het gisteroggend aan Republikein gesê reënwater koers oor die dorp se teerstraat in die rigting van die ou rioolpoele. Sy kon nie sê hoeveel dit al gereën het nie en ook nie hoe lank die stormweer nog gaan voortduur nie. Die meetstasie is by die nabygeleë Rössingmyn, maar alle oproepe daarheen het onbeantwoord gebly.
Me. Sophia Johannes het aan Republikein gesê sy en haar man, Archie (75), bly nou 'n jaar op Arandis. Dit was die eerste reën wat hulle daar gesien het. “Dis 'n ‘disaster’,” het sy gesê. “Ons het dwarsdeur die nag walle gegooi en water gevee om die strome net uit ons huis te hou. Die water het soos 'n rivier deur erwe geloop en by ons plek ingestroom. Ons het die ‘council’ geskakel, maar die antwoord was dat hulle met dieselfde probleme sit. Vanoggend (Dinsdag) het die reën 'n bietjie opgehou. Alles in die huis is nat. Help ons, ons kan nie meer nie.”
Op Swakopmund was me. Monica Haoses, 'n ontvangsdame in die NMH-groep se koerantkantore, se huis in die woonbuurt Mondesa gisteroggend onder water. Sy sê dit was eerder stormwater wat deur die wind ingedryf was as wat dit reën van bo was. “Ons het die water skottelsgewys uit die huis gegooi.” Teen die middaguur het sy huis toe gegaan “om alles te probeer droogkry”.
Volgens haar het baie ander mense van Mondesa met soortgelyke probleme geworstel.
Op Walvisbaai was die windskade selfs groter as wat deur die reën veroorsaak is. Takke van woestynbome en struike het in die strate gelê en selfs oor mure gehang.
Mnr. Alexander Steyn van Omaruru het gister met die teerpad oor Karibib Windhoek toe gery. Voor Wilhelmstal tussen Karibib en Okahandja het hy in geweldige reënweer beweeg. “Van Wilhelmstal tot by Okahandja was die ganse gebied oor 'n afstand van sowat 70 km deur die storm gelooi. Wes van die Omaruru-Karibib-hoofpad het dit vroeg gisteroggend gelyk of die storm besig is om hom in die Erongoberge uit te woed.”
Van die reënvalsyfers wat met die windstormweer gepaard gegaan het, was Hentiesbaai se Noordduin met 4 mm, Swakopmund 7 mm en Nonidas by die kleinboere van die Swakopvallei 4 mm.
Gisteroggend was 'n seeweervoorspelling vir die kusdorpe dat nog reën in die nag verwag kan word. Saterdag gaan die oosweer weer sonder wind kom, maar Sondag gaan die hitte met sterk oostewinde gepaard gaan. Toestande sal waarskynlik eers Maandagmiddag begin normaliseer.
Die Erongostreek is Vrydag deur die goewerneur, mnr. Cleophas Mutjavikua, bestempel as die Namibiese gebied wat die swaarste deur die heersende rampdroogte getref word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!