Stout is net ander mense se kinders

Andrew Poolman
Dis 'n verrykende ervaring en 'n voorreg wat elke dag nuut bly, om te beleef hoe die wêreld dag vir dag vir 'n klein mensie oopgaan.

Reeds op twee jaar begin sy persoonlikheid al duideliker na vore kom. Hy is in die algemeen goed gemanierd – behalwe wanneer slaperigheid hom vang en enige van jou voorstelle, behalwe 'n bottel, hom laat skop en skree.

In 'n staat van ekwilibrium het hy nie noodwendig 'n behoefte daaraan om elke vreemdeling te bevriend nie, maar tog is hy 'n vriendelike mannetjie wat sy handpalm na bo uithou na enige vreemdeling wat binne vatafstand kom.

Met sterk vingertjies wat al van ons eerste ontmoeting af 'n goeie greep rondom jou wysvinger kon kry, laat hy jou duidelik verstaan wanneer hy lus is om saam met jou buite te gaan rondhardloop. En dan help mooipraat min om hom te oortuig dat die somerson wat op die middaguur bak, g'n niemand se speelmaat is nie.

Soms is die enigste raad maar om julle twee se skoene aan te trek en die pad te vat en in te val by die oefenprogram wat hy vir ons opstel.

In die geheel is ons geseënd om elke dag die ervaring van ouerskap met dié kleinding te deel.

Vroeër die week kom ek en kleinding ná werk by die huis. Vroulief is nie daar nie, weens 'n ander staande afspraak, maar tuis is wel 'n besoekende, inwonende familielid wat pas plek in die hoërskool gekry het.

Maar die huis wemel behoorlik met 'n verlangse familievriend se drie seuns van sewe, vyf en drie jaar.

Eers later vind ek uit hul pa het met my vrou gereël om die kroos by ons af te laai sodat hy by sy vrou in die kraamsaal kan wees waar sy aan hul eerste dogtertjie geboorte skenk.

Die drie seuns bymekaar is . . . sal ons maar sê 'n handvol? Uit vorige ondervinding weet ons van die drie Conor McGregors se maniere – hulle is nie hier om deel te neem nie, hulle is hier om oor te neem.

Dis die soort kinders wat nie tyd verspeel om elke kombuiskas oop te maak en iets vreemds te vind om uit te haal en vrae oor te vra nie.

Die soort met die vrymoedigheid om hardop te vra waar die boks met al ons kleinding se ander speelgoed is wat nie in die sitkamer rondlê nie.

Die soort wat nie toestemming vra nie en sommer vanself die trappe uitklim en in die slaapkamer en gastekamer se hangkaste en daarná in die badkamers gaan rondsnuffel.

In die sitkamer het die drietal reeds die TV aan en kyk kinderprogramme. Met die volume vol oopgedraai.

Ek besluit om te probeer fokus op my verantwoordelikheid as voog om die skoolmeisie onder ons dak ná haar eerste dag in die hoërskool met haar huiswerk te help. Graad 8 wiskunde in die rooi taal, wat ook nie haar moedertaal is nie. Dit verg stap vir stap konsentrasie te midde van al die bewegende onderdele.

So, dis hoe dit gebeur het dat ons twee toe plat op die vloer van die stoep voor die voordeur sitplek kry, terwyl die drie besoekende seuntjies my huis oorneem. Later selfs die buitelig aangeskakel.

Verligting het eers ná elfuur die aand ingetree toe die driemanskap se pa hulle kom haal het.

Kommentaar

Republikein 2025-04-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer