u2018Stoutu2019 leeus terug na die Ugab
u2018Stoutu2019 leeus terug na die Ugab

‘Stout’ leeus terug na die Ugab

Des Erasmus
Des Erasmus - Nkosi en Cheeky, die omstrede skaapslagters van Brandberg, is terug in die Ugabvallei.

Skaars ‘n week nadat die leeumannetjie en –wyfie verdoof en in ‘n nagtelike tog na die Huab verban is, is gister bevestig dat hulle terug is in die omgewing waar hulle vir die slagting van 172 skape en ses bokke verantwoordelik was. Dié keer het die nekbande as klikkers gedien wat hulle gekry het ná hul strooptog op die kleinvee en voor hul tog Huab toe.

Gister wou niemand in die Ugabvallei ‘n woord rep oor die terugkeer van die leeus nie, maar dit is wel bekend dat die leeunavorser, dr. Flip Stander, daar opgemerk is. Dr. Stander was deurlopend by die hervestiging van die twee Ugab-leeus in die Huab betrokke. Daar was toe beklemtoon dat die twee leeus weer gevang en na die Huab teruggebring sou word, sou hulle sowat 50 km afdwaal van die plek waar hulle hervestig is.

Leeukenners van dié geweste het van die eerste oomblik beweer Nkosi en Cheeky gaan terug na die Ugab hunker. Nkosi het wel voorheen in die Huab gebly, maar hy het die wyk geneem toe die vierjarige mannetjie deur die leier van die trop, die sewejarige maanhaar, Gretzky, nie van sy aanstaltes gehou het nie.

‘n Rede vir Cheeky se terugkeer kan haar drie tweejarige welpe wees wat in die Ugabvallei agtergebly het toe sy en Nkosi uitgeskop was.

Beweringe in dié geweste is dat Nkosi en Cheeky selfs die eerste nag van hul hervestiging in die Huab 15 km uitgewyk het. Luglangs lê die Ugab en die Huab sowat 50 km uitmekaar, maar Nkosi en Cheeky het blykbaar ‘n ompad vir hul terugkeer na hul ou blyplek gevolg.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer