Strategiese diskoers nodig om koers te hou
Vyf faktore behoort in ag geneem te word
Dr. Kobus Laubscher
Dit is interessant om te sien hoe voorgestelde regstellings vir ná die pandemie beslag kry.
Daar is byvoorbeeld twee denkskole. Die een bly vassteek by walgooi om reg te wees vir moontlike opeenvolgende vlae van die pandemie, terwyl die ander gereed maak om in die afsienbare toekoms met die pandemie saam te leef.
Beide het bepaald meriete, maar die rol van die regering om met inperkings 'n stop-ry te kan troef, noodsaak deurlopende strategiese besinning.
Trouens, saakmakende besluitnemers verdiskonteer eerder verskillende opsies by die rig van hul besighede en probeer dan die regering te oortuig om meer te ry as te stop. Ons kan net hoop dat daar gehoor gegee sal word en dat die regering nie eensydig mag in eie hande hou nie.
Strategiese herbelyning is nou meer nodig as ooit, maar hiervoor is 'n strategiese diskoers nodig. In die eerste van twee aanbiedings, sal dié aspek van nader bekyk word.
Primêre landbou bly grootliks aangewese tot 'n volhoubare lewering van verkoopbare produkte tot by die plaashek, maar is eweneens afhanklik van afnemers wie weer gelei word deur 'n mark wat vraag voorkeure moet verdiskonteer.
Boere is in wese prysnemers en plaasvlak besluite is 'n afgeleide van wat die mark dikteer. Daar is egter 'n redelike tydverloop betrokke. Stygende pryse op verbruikersvlak – die gevolg van vele faktore – word herlei, maar dit neem tyd voordat aanbodverhogings voordeel kan trek uit hoër pryse.
Hierdie wisselwerking is blywend deur die pandemie ontwrig. Die jongste daling in die inflasiekoers is grootliks die gevolg van dalende kosinflasie, maar anders as onder normale vraag-en-aanbod balansering, is dalende kosinflasie eerder aan 'n gebrek aan besteebare inkomste toe te skryf . Hoe anders verklaar mens die toenemende huishoudelike voedselonsekerheid? Kortom, besluitneming te midde van die pandemie gaan deur 'n ander meul.
VYF FAKTORE
Vyf faktore behoort in ag geneem te word as die negatiewe impak van die pandemie effektief verreken word in enige strategiese herbelyning.
Die eerste dui op moontlike optimisme ten opsigte van hoe die situasie kan ontvou en dan loop besluitnemers die gevaar om te gou 'n oorwinning te verklaar.
Die werklikheid dui eerder daarop dat die situasie erger kan wees en as sodanig verdiskonteer behoort te word. Hierdie aspek word bemoeilik deur die onstabiliteit van die inligting wat verdiskonteer moet word.
Beplanning bly uiteraard onderhewig aan wat redelikerwys verwag kan word, maar die betroubaarheid van die inligting soos benodig, moet verreken word. Die beste is dus om verskillende scenario's te ontwikkel.
Derdens is dit noodsaaklik dat die bestuursmodel besluitnemers in staat moet stel om aanvanklike verkeerde antwoorde vinnig te verreken/absorbeer en dan regstel om strategies op spoor te bly. Dié wisselwerking verg kopkrap en deurlopende besinning, want om so te beplan, is om te probeer spring vanaf 'n los klip.
Die feit is dat die aanhoudende verwerking van deurlopende veranderings aan die relevante data, aanleiding kan gee tot analitiese verlamming. Om te meet, is om te weet – maar die doen met wat jy dan te wete kom, is nóg belangriker.
Dit verg strategiese fiksheid.
Laastens is daar kommer oor die fiksheid van die organisasie in die geheel.
Besighede binne die waardeketting wat so noodsaaklik is om die boer se produkte by die plaashek af te neem, raak uitgeput om onder sulke uiterste onsekerheid te werk. Dit kan lei tot kort paaie in plaas van strategiese ompaaie met gevolge vir die effektiwiteit van plaasvlak beplanning, want die tydsduur van besluitneming wat op plaasvlak geld, is 'n gegewe. 'n Plaas is nie 'n fabriek waar produksielyne maklik aan- en afgeskakel kan word nie.
Die heropbou van kuddes is 'n afgeleide van wat normaalweg in 'n ekonomie moet gebeur. Hoe die nadraai van 'n droogte gesinchroniseer moet word met wat aan die vraagkant gaan gebeur, vra vir kollektiewe besinning.
Veranderings aan beide kante van die plaashek was al voor die pandemie onderworpe aan die impak van die sogenaamde vierde nywerheidsrevolusie. Daar is daaroor gedink, maar die pandemie het die realiteit van 'n sogenaamde nuwe normaal ongevraag en kru afgedruk. Die volgende aanbieding sal daaroor toeligting probeer gee.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie