Strawwe markte vra vir dapper besluite
Lesse te leer uit die Amerikaanse suiwelbedryf
Dr. Kobus Laubscher
Onlangse navorsing oor die Amerikaanse suiwelbedryf soos gerapporteer deur die McKinsey-groep het waarskynlik waardevolle toepassing op die Namibiese vleisbedryf, al verskil die produk.
Daar is rede tot kommer oor die betekenisvolle onderstromings binne ’n bedryf wat moet herskik as gevolg van verskeie ontwrigtende gebeure. Gevegte word gewen waar strydende faksies mekaar die stryd aansê, maar dit kan beteken dat ‘n oorlog verloor word. Die oorlog gaan oor die beursie van die verbruiker waar daar duidelike veranderings is ten opsigte van produk-lojaliteit, verskaffervoorkeure en les bes handelsmerkvoorkeure.
Covid-19 het verbruik- en vraagvoorkeure in die VSA dermate versteur dat historiese tendense waarop toekomsverwagting gebou kan word, nouliks waarde het of kan inhou. Dink byvoorbeeld aan die impak van die skerp styging in die vraag na aanlyn aankope en hoe veral die gegoede verbruiker slegs kan en wil koop as hy/sy nie blootgestel is aan mense in winkels nie uit vrees vir besmetting met die virus.
Te midde van die skerp styging in aanlyn aankope, het dieselfde verbruiker ook begin eksperimenteer met ander handelsmerke en is dit duidelik dat sogenaamde handelsmerk-lojaliteit ook verander. Verbruikers wil en gaan verander en verskaffers sal spreekwoordelik moet uithaal om by te bly.
Die dilemma is dat ontwikkelende lande verkeerdelik kan dink hulle kan dié verwikkeling ignoreer en dat mense sal aanhou koop wat beskikbaar is. Die wanopvattings is ‘n afgeleide van waar ‘n té groot deel van ‘n bevolking nie kan kies wat om te koop nie, maar eenvoudig moet koop wat daar is en wat hulle kan bekostig.
Digitale bemagtiging en ontwikkeling wat dit bring sal die handelaar in Karasburg wat hom nie aan veranderde verbruikspatrone steur nie, onkant betrap as die dorp se verbruikers in staat gestel word om nie net goedkoper aanlyn te kan koop nie, maar ook terselfdertyd groter keuses het.
Andersyds is Namibië in staat om, met bewese rekords ter ondersteuning, mededingend te kan produseer. Dink byvoorbeeld aan voorkeur uitvoervleis. Beleide kan steun gee, maar nie noodwendige ontwikkeling keer nie. Bemagtigde verbruikers soek “gateways” en nie toe hekke of grense waar afnemers werk met boere se trots nie (natuurlik omdat hulle glo dat die boer self uit sy pad gaan om die beste produk volhoubaar by die plaashek te lewer).
Volgens McKinsey is daar veral vyf faktore wat oorweging moet geniet. Dit is gegrond op lesse uit die Amerikaanse suiwelbedryf.
Eerstens is gesondheidsoorwegings by keuses toenemend belangrik. Verbruikers is al hoe meer verbind tot gesonder leefstyle en hulle persepsies word dienooreenkomstig gerig. Die Namibiese heil moet sigbaar wees in wat verbruik word.
Tweedens is deursigtigheid van kardinale belang. Al hoe meer verbruikers wil al hoe meer weet van die produk. In dié verband kom die vraag op oor die werklike mededingendheid van die naspeurstelsel wat geld. Is dit nog die beste en tot watter mate is dit toonaangewend. Die feit is die bedryf sal nouliks daarsonder kan groei.
Derdens moet aanvaar word verbruikers is baie meer openlik en gaan wees oor produkkeuses en dit moet eerder aangemoedig as onderdruk word. Hulle wil keuses kan uitoefen en niemand sal suksesvolle plaasvervangers kan bied nie.
Vierdens sal produkte van plantaardige oorsprong toenemend deel word van die palet en baie verbruikers sal dit probeer om ‘n veelheid van redes. Die ware Jakob moet so ontwikkel dat die verbruiker wat alternatiewe probeer, telkens sal wil terugval. Nog beter is om die vraag na beide te laat groei.
In die laaste instansie sal verskaffers meer bedag moet wees op veranderde keuses op grond van geslag en ouderdom. Hierin kan daar baie leiding geneem word en navorsingsontwikkeling moet die veranderde klem ondersteun.
Alhoewel amptelike besteding aan navorsing in die Namibiese landbou ver tekort skiet, is dit die moeite werd om nie net vir meer te beding nie, maar ook vir ‘n veranderde samestelling van die groter toekenning.
Hierdie is maar enkele van die realiteite wat die bedryf in die gesig staar. Dit hou enorme geleenthede in vir versnelde groei, maar om dit te kan ontsluit, sal dapper besluite verg.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie