Strikdasaand u2018n reusesukses
Strikdasaand u2018n reusesukses

Strikdasaand ‘n reusesukses

Boet Matthews – Hoede af vir die Mariental-gemeenskap en die Immaculate Conception Katolieke kerk-gemeente van dié dorp.

Die eerste strikdasaand, wat onlangs in die Mariental-sportgronde se saal gehou is, was ‘n reusesukses.

Meer as 200 mense het opgedaag om die priesters, broeders en studente van die De Sales Oblate te ondersteun.

Die doel van strikdasaand is om fondse ten bate van dié kerkgemeenskap in te samel.

Die saal was pragtig versier, die diens flink en die kos vingerlek lekker.

Die gemeente se priester, vader Benedict, en gemeentelede het oortyd gewerk om van die aand ’n sukses te maak.

Benedict het almal vir hul ondersteuning bedank.

“Ek is bly julle het gekom. Dit beteken vir ons kerk en die bisdom baie, want daar is studente in die buiteland wat finansieel ondersteun moet word, en jul bydrae maak dit moontlik dat vyf mans doer in Benin en Ivoorkus hul drome kan verwesenlik en priesters kan word.

“Hulle moet nog ‘n lang pad loop, maar ek glo hulle beskik oor die potensiaal en vernuf om die knoop deur te hak. Die vyf jong mans het Frans reeds onder die knie en was met hul onlangse besoek aan Namibië ewe spoggerig met hul kennis van die taal,” het hy gesê.

Marientallers glo hulle gaan in 2019 selfs meer mense met strikdasaand lok.

DJ Green het gaste met ‘n mengelmoes van langarm-, jazz- en popmusiek vermaak.

Die priesters, broeders en nonne wat die dansvloer oopgemaak het, het vir ’n beroering onder die gehoor gesorg.

Sr. Maria Cecelia het haar staal op die dansbaan gewys is deur gaste toegejuig.

Vrs. Swartbooi, Martin, Gavin en Benedict het ook hul beste passies op die dansbaan uitgehaal.

Vr. Swartbooi het in sy toespraak gesê: “U teenwoordigheid vanaand spreek boekdele van u liefde vir u kerk, u priesters, broeders en wyle br. Giruad, wat in 1882 in Pella aangekom het . . .

“Om die doel van strikdasaand te bereik, is dit ons wens dat ons voorgangers se werk en voorbeeld voortgesit sal word.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer