Strikdasaand op Mariental vir broeders
Strikdasaand op Mariental vir broeders

Strikdasaand op Mariental vir broeders

Boet Matthews - Katolieke sit behoorlik skouer aan die wiel om gereed te wees vir die strikdasaand wat op 14 Desember op Mariental plaasvind.

Gemeentelede van die Immaculate Conception-kerk is gereed vir die hou van ‘n strikdasaand van formaat om sodoende te bewys hulle hoef nie terug te staan vir enige byeenkoms wat na hul kant toe kom nie.

Verlede jaar is die eerste strikdasaand op Rehoboth gehou en dit was 'n reusesukses. Hierdie jaar is dit Mariental se beurt, wat oortyd werk om die aand beter en nóg groter te maak.

Die hooforganiseerder, br. Heinrich Diergaardt, het by navraag gesê: “Ons wil 100% gereed wees, want ons oblate priesters ploeg 150% terug in die gemeenskap. Dit is ‘n eerste vir Mariental, maar glo my, ons mobiliseer die gemeente om positief te wees en hul hande diep in die sakke te steek.

“Die geld wat by die strikdasaand ingesamel word, is vir die opleiding van broeders wat in die buiteland wyser word oor die woord van God. Die broeders kom uit die Namibiese gemeenskap, en omdat hulle nie selfsugtige besluite neem nie, wil ons graag ‘n bydrae lewer.

“Ons het tans vyf studente in Ivoorkus en twee op Eersterus, Pretoria. Hulle moet gereeld ondersteun word sodat hul drome van priesterskap verwesenlik mag word. Daarom vra ek die mense van Mariental om dié strikdasaand ten volle te ondersteun. Die aand is nie net vir Marientallers nie; ons nooi mense uit alle oorde uit om die aand saam met ons te kom vier. Tot dusver, moet ek sê, is die belangsteling enorm.”

Die voorsitter van die finansiële komitee van die Immaculate Conception-kerk, me. Catherine Christiaans, beter bekend as Possie, het by navraag gesê: “Ek glo ons gaan dit ‘n winsgewende aand maak, want hier op Mariental vat ons hande om ‘n sukses te maak van dit wat in ons skoot val.

“Ek glo die veiling is die hoogtepunt van die aand, want as ons ‘n paar Namibiese dollar ryker word, dan is dit ‘n reusehupstoot vir priesters, broeders, studente en in die algemeen vir diegene in die oblate van die heilige Frans van Sales. Ons is regtig opgewonde oor die geleentheid om die tweede strikdasaand aan te bied.”

Die portret van die heilige Frans van Sales word onder meer op 14 Desember opgeveil.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer