Struisvou00ebl deur Johan Fourie
Struisvou00ebl deur Johan Fourie

Struisvoël deur Johan Fourie

Jacqueline Louw
Wanneer dit somer in Kanada is, vlug al wat leef en beef uit die huise uit, en as dit kan, woude en mere toe.
Ons gaan ook – natuurlik. Pa, ons bosmeisiekind en Boeta gaan sommer op ’n kano-kamp-“trip”. Vyf dae lank se roei op die water en kampeer in die woud vir hulle. Woestynkinders wat vir die eerste keer in hulle lewe vir vyf dae lank gaan kanoroei in die digte Kanadese woud. Ek het dadelik my bedenkinge en vrese, maar ek weet dit gaan niks help nie. Gaan sal hulle gaan. Ek en Sussa besluit ons sien nie kans vir die roeiery nie. Ook nie vir die tente, die bloedsuiers, die bere, die “coyotes” en die wolwe nie. Nog minder vir die spinnekoppe, die enorme muskiete en allerhande ander byterige goed nie. Ons gaan liewer gerieflik in ’n bed-en-ontbytplekkie - ook in die bos - bly.
My man bespreek vir ons - dis nou my oudste meisiekind, ons Engelse vriendin en ek - plek naby Hunts­ville op die rand van die park. Op die foto’s is die B&B ’n statige ou country-huis met pragtige kamers en die mooiste blomtuin. Geil en hoog groei die blomme teen die klipmuur. Weerskante van die huis is ’n gronddam, perde, skape en ’n hond, omring deur die pragtige Kanadese woud.
By die park gekom, gaan laai ons eers vir Pa en sy twee kanokinders af by die meer waar hulle roeitog gaan begin. Die vreeslikste, ongure wind waai oor daai meer – in die teenoorgestelde rigting van waarin my mense moet roei. Die water maak wilde golwe. Met ons lywe afgeëts in ons klere en ons voorkoppe koeëlrond blink soos die wind ons hare agtertoe beur, kyk ons hoe die klompie – totaal onervare, beurende teen die wind – kano pak.
“O Vader, hierdie mense weet nie van so ver roei met ’n kano nie. Hierdie wind . . . dis die eerste keer in hulle lewe . . .” ek bid benoud en hoop hulle gee op, maar wat kano pak, is hulle – en weg is hulle. Heeltemal verkeerde kant toe. Wind-af in plaas van wind-op. Daar is net nie ’n manier dat hulle die ding se neus teen hierdie vrees­like wind in gaan kry nie. Hulle stoei en roei, elkeen ’n ander ritme. Uiteindelik, na ’n wye omkeerdraai, kry hulle saam ritme en tóg die kano in die regte rigting gestuur. Hulle arms swaai soos windmeulens om die kano te laat koershou. My enigste man en twee van my kinders. Vanaand gaan hulle heel uit lit uit wees, weet ek. Ons staan hande in die windverwaaide hare en ek bid hardop: “Vader, ek gee hulle aan U oor . . .” Ek jok, want my hart wil hulle terugskree.
“They will be fine, they will be fine, Corina . . .” Dis my Engelse vriendin wat my probeer troos. Sy het vrees­lik vertroue in my familie. Daar verdwyn hulle al stoeiend-roeiend om die draai sonder eers ’n laaste wuif – wie weet waarnatoe. Nou is dit net naakte geloof en ekke.
Ons drie ry die park in en gaan stap ’n wandelpad van so twee kilometer deur die woud. Tussen die digte reusebome waai die wind glad nie. Ek bekommer my so oor my mense daar op die kaal meer in die wind, dat ek skoon vergeet ons moes beersproei saamvat. Toe ek weer onthou van die beersproei, is ons al veilig ingeboek by die B&B.
Ons sit op die toegegaasde stoep wat uitkyk op die een dam en eet van ons oorblytoebroodjies saam met ’n lekker beker tee uit ons fles. Stoeiend roei my mense in my kop. Dan kom die SMS: “Ons is OK.”
“Dankie Vader!” Ten minste is hulle darem nog lewend ná daardie stryd teen die vreeslike wind. Dis die laaste boodskap wat ons van hulle af kry vir vyf dae. Na dié SMS voel ek tog ietwat getroos. As hulle dit deur daardie wind kon maak, sal hulle darem seker regkom. Ek is gelukkig ook moeg genoeg om dadelik aan die slaap te raak en heerlik te slaap.
Ons is honger en lus vir ontbyt die volgende oggend. Die geure uit die kombuis lok ons nader. Die tafel is keurig gedek met ’n blou-en-wit “tjek”-tafeldoek, wit eetgerei, blou servette in takbok-servetringe, jogurt-muesli met vars bessies in pikante langsteelglase. Al die lekkertes op die tafel is ’n fees vir die oë. Die gasvrou gesels land en sand. As hierdie mense hoor ons kom van Namibië af, is dit altyd ’n groot verduidelik en lang gesels.
Ons smul. Dis plaasgasvryheid uit die boonste rakke. Daar kom nog vars gebakte muffins met vars bloubessies, tuisgemaakte bessiekonfyt, heuning, smere . . . hmmm! Die heerlike kos laat my skielik weer dink aan my mense in die bos en op die meer. En die groot bekommer begin torring. Ek hoop tog net die bere los hulle uit. Wat sou hulle vanoggend op die kampvuur gaarmaak?
“Ek wonder of hulle darem die nag oorleef het . . .” begin ek al weer hardop bekommer, maar met dié val my oog op die lappie waarmee ons gasvrou die skottelgoed was.
Vaal-dik swiep hy oor die skottelgoed in die warm seepwater. My slukkie kos stol in my keel. Dit glip darem af toe ek sien sy spoel die goedjies onder die lopende kraan af voor sy dit laat droog drup.
Ons het klaar geëet en ons drink ons tee. En die lappie dans en hy dans, vuil en vaal en slap rondom die skottelgoed . . .
“Did you enjoy the breakfast?” vra die gasvrou gesellig. Gelukkig antwoord Jennifer dadelik. Sy sien nie die lappie nie; sy sit met haar rug na gasvrou. “It was delicious, thank you . . .,” sê sy. Ek “u-hu” kopknikkend met ’n jok . Ons staan op, groet en gaan die dag tegemoet.
Ek sê nie vir Jennifer en my kind van die lappie nie, want hulle is net so vol fiemies soos ek. Lappie dans sy riel nou in my kop. Nes ek wil begin bekommer oor my mense in die bos, begin die lappie met sy vaal riel. Ek stry verniet.
Die gasvrou is so gaaf, ons mag saans haar kombuis en gasbraaier gebruik om ons eie aandete te maak en ook ons toebroodjies vir die volgende dag se staptog. Ek neem my spierwitskoon-lappie en afdroogdoekie saam kombuis toe en gebruik dit. Die botteltjie bleikmiddel sommer ook. Sonder die goedjies gaan ek nooit op so ’n tog nie. Daar sien Jennifer toe ook die vaal lappie. Haar neus vlieg in die lug op: “Thank goodness you brought your own ‘lappie’ !” Ons gril en giggel. Jennifer is ’n oud-Suid-Afrikaner en sy ken vir “lappie”. Gasvrou is nie nou daar nie; ons is kan maar skinder.
Ons maak ons padkos vir die volgende dag ook klaar en vermy vir vaal lappie erger as die pes. Ek dreig om hom in die bleikmiddel te sit, maar Jennifer keer. Ons gaan buite toe en braai ons boerewors (ja, ons kry hier die lekkerste boerewors, gemaak deur ’n ander oud-Suid-Afrikaner) en broodjies. Was daarna skottelgoed met my eie lappie. Vir die volgende paar aande is dit ons roetine.
Die oggende is egter ’n probleem, want ons eet ontbyt in die mooie kombuis en dan dans lappie weer sy vaal riel tot in my kop. Aan die een kant is dit miskien gelukkig, want nes ek my wil begin bekommer oor my mense daar in die bos tussen die bere, begin vaal lappie in my kop dans. Elke dag. Op die wandelpaadjies in die bos terwyl ons stap, op die paaie wat ons ry of die plekke wat ons besoek - nes ek wil begin bekommer oor my bosklompie, begin die lappie met sy riel. Ek stoei met hom dat hy tog sy lê eenkant moet gaan kry, maar verniet!
Die vyf dae is om en ons koers weer meer toe om my mense te gaan haal. Ons k-y-y-y-k oor die kalme meer. Op die kop elfuur kom hulle om die draai. Vrolik roeiend soos kampioene gly hulle oor die water. Veilig, en presies op die tyd soos my man vyf dae gelede belowe het.
“Ag dankie, Vader, vir die vaal lappie en sy riel. Só kon my aandag afgetrek word van die groot bekommer. En hier is my mense. Veilig en ongedeerd. Net soos ek gevra het . . . ” en Lappie maak sy laaste vaal, slap draai – verdwyn na iewers diep, diep in die Kanadese woud.


Uittreksel uit Die Kanniedood sal altyd bloei waarvoor die skrywer ’n Pluimpie by die 2015 ATKV-toekennings ontvang het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!