Stryd om by oorlewendes in Laos uit te kom
Stryd om by oorlewendes in Laos uit te kom

Stryd om by oorlewendes in Laos uit te kom

Dit was Maandagaand 20:00 toe die damwal meegee. In die stikdonker het vyf miljard kubieke meter water alles in sy pad platgevee.

Dinsdagoggend was die omvang van die vloedskade in Laos, buurland van Thailand, vir die eerste keer sigbaar. Honderde mense word nog vermis en is vermoedelik dood nadat die wal van ’n hidro-kragopwekkingprojek meegegee het na stortreën.

Die Xepian-Xe Namnoy-dam was in die San Sai-distrik van die provinsie Attapeu in aanbou as deel van ’n ambisieuse projek van die kommunistiese regime om buurlande van krag te voorsien en die land – een van die armstes in die streek – op die pad na voorspoed te plaas. Nou word gevrees dat honderde mense omgekom het. Altesaam 12 dorpe is ontruim en minstens 6 600 mense is dakloos.

Die Suid-Koreaanse maatskappy wat die dam bou, sê swaar reën en oorstromings het tot die ramp gelei en hy werk met die regering saam om mense te red.

“Ons noodspan is aan die gang en ons sal met die ontruiming van inwoners in dorpies naby die dam help,” het ’n woordvoerder vir SK Engineering & Construction gesê.

Nóg ’n werknemer van die maatskappy sê hulle het onmiddellik opdrag gegee dat 12 dorpies ontruim word toe dit duidelik word dat die wal gaan breek.

Die Suid-Koreaanse ministerie van buitelandse sake sê 50 werkers van die maatskappy en nog drie van ’n Koreaanse kragvoorsiener wat op die bouterrein gebly het, is in veiligheid gebring.

Thongloun Sisoulith, premier van Laos, het regeringsvergaderings opgeskort en hou reddingspogings saam met kabinetslede dop.

Die Xe-Pian-Xe Namnoy-dam sou teen 2019 in bedryf kom en 90% van sy krag na Thailand uitvoer.

HONDERDE STEEDS VERMIS

Beeldmateriaal is deur die staatsuitsaaier in Laos uitgesaai van inwoners, sommige met klein kinders, wat op huise se dakke gestrand is. Ander het op planke na veiligheid probeer roei.

Intussen het reddingswerkers aanhou soek na oorlewendes. Honderde mense word steeds vermis. Daar kan slegs gespekuleer woord oor die dodetal, sê ’n senior regeringsamptenaar.

Volgens die plaaslike media is 19 mense dood. Duisende mense moet nog uit die gebied ontruim word. Minstens sewe dorpies is onder water. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!