Stryd oor olifantkarkasse
Stryd oor olifantkarkasse

Stryd oor olifantkarkasse

Die regering sê daar is in geen stadium of op een slag 87 of 90 olifante in enige plek van Botswana doodgemaak nie.
Die regering van Botswana het die bewaringsorganisasie Elephants without Borders (EWB) Woensdag daarvan beskuldig dat hy “vals inligting” versprei oor “87 olifantkarkasse” wat tydens 'n lugsensus naby onder meer die Okavango-delta getel is.

Die ontdekking van die massa-slagting het skokgolwe deur die wêreld gestuur, veral omdat Botswana as die laaste veilige hawe vir olifante in Afrika beskou is.

Thato Y. Raphaka, permanente sekretaris in Botswana se departement van omgewing, natuurlike hulpbronne, bewaring en toerisme, sê in 'n verklaring daar is “in geen stadium of op een slag 87 of 90 olifante in enige plek in Botswana doodgemaak nie”.

Dit kom nadat Mike Chase van EWB Maandag gesê het dié organisasie en dié departement het “87 vars olifantkarkasse gekry terwyl hulle van 10 Julie af 'n uitgebreide lugsensus gedoen het”.

Volgens Chase lyk dit asof die slagtings onder die olifante die afgelope drie maande plaasgevind het. Die lugsensus eindig op 30 September.



'SENSASIONELE MEDIA'

Raphaka het ook klappe na die “sensasionele plaaslike en ­internasionale media” uitgedeel en gesê berigte wat hieroor verskyn het, maak die Bo­tswana-regering baie bekommerd.

Hy sê die inligting in die berigte is “ongegrond”.

Raphaka sê die voorlopige lugsensus wat van 5 Julie tot 1 Augustus gedoen is, het gewys daar was 53 olifantkarkasse en dat die meeste van dié diere aan natuurlike oorsake dood is en nie gestroop nie.

“Ander is dood in voorvalle waar­tydens daar konflik tussen gemeen­skappe en die olifante was.”

Intussen is pres. Mokgweetsi Masisi van Botswana op sosiale media daarvan beskuldig dat hy bloed aan sy hande het en dat die toename in olifantstropery hoofsaaklik toege­skryf kan word aan die ontwapening van die teenstropingseenhede. Dit het in Mei vanjaar begin.

Global Elephants het aan sy 9 000 volgelinge op Twitter gesê Botswana was altyd nog 'n toevlugsoord vir olifante. “Dit lyk asof dit nie meer is nie.”

Raphaka het gesê: “Die ware feite is dat die terugtrekking van wapens van dié departement géén uitwerking het op die doeltreffende operasies van die teenstropingseenhede nie.”

Chase het aan National ­Geographic gesê hy staan by sy stelling dat hy 87 karkasse uit die lug getel het. “Ek is hartseer dat die regering op dié manier reageer.”

Hy sê EWB het koördinate van elkeen van die 87 karkasse. “Daar is ook heelwat ooggetuies om hierdie feite te staaf. Elke vlug het vier mense aan boord, waaronder een staats­amptenaar.”

Hy sê dit het uit die lugsensus duidelik geword dat die stropers bulle ouer as 30 jaar teiken omdat hulle die grootste tande het.

Volgens Chase het die stropers die olifantbulle oënskynlik geteiken wanneer hulle in seisoenale panne gaan water drink.

Raphaka het voorts gesê: “Dit is vir die regering teleurstellend dat sommige mediahuise die toename in stropery onder olifante in die noorde van Botswana hoofsaaklik toeskryf aan die feit dat die teenstropingseenhede onlangs ontwapen is. Inteendeel, dit het geen vakuum veroorsaak nie. Teenstropingseenhede volg nou ander strategieë. Hierdie stap is deel van 'n korrektiewe proses,” het Raphaka gesê.

Botswana beskou die bewaring van wild as deel van die land se nasionale erfenis. “Ons sal dit tot elke prys beskerm,” het Raphaka gesê.

Die Britse premier, Theresa May het getwiet: “Dit is hartseer om te sien stropers teiken olifante. ­Brittanje sal voortgaan om saam met Botswana te werk. Ons lei die stryd teen misdaad teen wild. Ek sien daarna uit om die beraad oor #EndWildlifeCrime aanstaande maand in Londen aan te bied.” - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer