Stryd oor Rooilyn duur voort
Die veeartsenykordonheining dien as 'n maatreël vir die beheer van dieresiektes soos bek-en-klouseer en longsiekte.
Ellanie Smit
Die verlies aan die amptelike siektevrye status deur die verwydering van die veeartsenykordonheining (VCF), ook bekend as die Rooilyn, sal ernstige gevolge vir die Namibiese veesektor en die land as geheel inhou.
Dít volgens die Vleisraad van Namibië, wat bygevoeg het die poreuse grens met Angola en die gereelde beweging van vee oor dié grens moet permanent gestaak word vir die gebied noord van die VCF om ook siektevrye status te verkry.
“As daar vee oor die grens beweeg word, moet die VCF in plek bly om die amptelike siektevrye status en toegang tot winsgewende vee- en vleisuitvoermarkte te behou.”
Die VCF word gebruik as 'n maatreël vir die beheer van dieresiektes soos bek-en-klouseer en longsiekte (CBPP).
Volgens die Vleisraad het die grootste en duurste uitbreking van dieresiektes nóg in Namibië tussen 1961 en 1964 plaasgevind, toe bek-en-klouseer in die oostelike distrik van Windhoek gediagnoseer is.
“Hierdie uitbreking – wat onmeetbare ekonomiese verliese vir die land veroorsaak het – moet as 'n herinnering dien van wat verwag kan word as 'n ander uitbreking in die bek-en-klouseervrye gebied suid van die VCF sou plaasvind.”
Volgens die raad word bek-en-klouseer veroorsaak deur 'n virus wat deur Afrika-buffels gedra word. Kontak tussen beeste en buffels is die mees algemene manier waarop die virus versprei word.
Bek-en-klouseer kan ook deur diereprodukte soos vleis, melk, huide en velle versprei word. Die vrye beweging van buffels in die Zambezi- en Kavango-Oosstreek sowel as die poreuse grens met Angola lei tot gereelde kontak tussen hierdie diere, wat dikwels uitbrekings van bek-en-klouseer tot gevolg het.
INKOMSTEVERLIES
Die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) erken die gebied suid van die VCF as bek-en-klouseervry sonder inentings, asook vry van CBPP en Peste des petits ruminants (PPR), 'n siekte soortgelyk aan runderpes.
Hierdie siektevrye status stel Namibië in staat om vleis te verhandel met sommige van die mees winsgewende markte ter wêreld. Die VCF en die beheer oor hierdie lyn speel 'n kardinale rol in die verkryging en handhawing van hierdie siektevrye status.
'n Uitbreking van siektes soos bek-en-klouseer suid van die VCF sal tot gevolg hê dat hierdie status onmiddellik opgeskort word. Op sy beurt sal dit 'n aansienlike verlies aan inkomste uit winsgewende markte soos die Europese Unie tot gevolg hê.
“Dit sal die einde van vleis- en speenkalfuitvoere beteken, sowel as die onmiddellike ineenstorting van die N$6,3 miljard-veesektor en die N$985 miljoen-subsektor vir vleisverwerking, wat oor verskeie jare ontwikkel het,” het die Vleisraad gesê.
In die verlede het die uitvoer van vee twee derdes van die waarde van landbou-uitvoere uitgemaak. Veeboerdery bly vir Namibië 'n belangrike verdiener van buitelandse valuta.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie