Stryd oor uitsaaikode rol voort

Ná jare se gesprekke oor die regering en kommunikasiewaghond se plan om ‘n gedragskode vir Namibiese radio en televisie af te dwing, bly hierdie debat vuurwarm – met sy voordele, en moontlike nadele, vir die bedryf, kykers en luisteraars.
Augetto Graig
Augetto Graig – Die plaaslike inhoud van radio- en televisiestasies in Namibië tesame met die onderwerpe van selfregulering, gesamentlike regulering of beheer deur ‘n regeringswaghond bly brandpunte in die gesprek oor ‘n voorgestelde uitsaaikode vir die Namibiese media.

Die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie van Namibië (Cran) het Dinsdag belanghebbendes vir ‘n derde keer genooi om inspraak te lewer.

Dit volg ná enkele wysigings aan die aanvanklike konsepkode, wat deur uitsaaiers en bedryfsverteenwoordigers as steeds ontoereikend bestempel is.

Beperkinge op die hoeveelheid tyd wat aan advertensies afgestaan mag word, is uit die jongste weergawe van die uitsaaikode verwyder. Die voorgestelde perk was tussen 10% en 20% van lugtyd, of tussen ses tot 12 minute per uur, afhangende van die lengte van ‘n program. Baie uitsaaiers staan meer tyd aan advertensies af.

Een ligpunt was dat Cran toegegee het dat die uitsluiting van sport as ‘n element van plaaslike inhoud ‘n fout was.

Oor die groot belang om kinders teen ongepaste inhoud te beskerm, die slagoffers van byvoorbeeld geslagsgeweld te beskerm en haatspraak teen te staan, bly alle partye dit eens.

Cran se uitvoerende hoof, mnr. Festus Mbandeka, het benadruk dat groot moeite die afgelope jare gedoen is om alle belanghebbendes se stemme te hoor. Hoewel die regering nie volgens die kommunikasiewet verplig is om ‘n kode uit te vaardig nie, het hy gesê: “Uitsaaiers se inhoud is ‘n saak van openbare belang.”

Daarom is deursigtigheid en verantwoording teenoor die publiek volgens Mbandeka van uiterste belang.

Uit TV-geledere het beide MultiChoice Namibia (DStv) en One Africa Television opnuut vereistes vir plaaslike inhoud as onrealisties bestempel. Beide het egter die verantwoordelikheid erken om plaaslike inhoud te bevorder en ontwikkel.

Uitsaaiers is ook verteenwoordig deur die Redakteursforum van Namibië (EFN), wat tans agt uitsaaiers en vier koerante as lede het. Die EFN se mening is dat klagtes oor inhoud deur die Media Ombudsman hanteer kan word eerder as ‘n instelling wat die regering finansier.

MULTIKANAAL, BUITELANDSE TV

MultiChoice Namibia het vasgetrap by sy vorige argument dat die kode onlewensvatbaar en uiters onprakties is, gegewe die aard van sy diens.

Kykers se vryheid van keuse op só ‘n platform word volgens me. Wendy Rosenburg, regsadviseur vir MultiChoice, geensins in ag geneem nie. Indien die kode in huidige vorm deurgevoer word, sal dit volgens haar verpletterende gevolge vir die maatskappy se geldsake hê.

MultiChoice het beswaar daarteen gemaak dat hoewel ander uitsaaiers volgens die kode drie jaar grasie het om aan vereistes vir plaaslike inhoud te voldoen, geen grasie vir inteken-TV toegelaat word nie.

Die vereiste dat MultiChoice 15% van sy geld vir aankope op plaaslike inhoud moet bestee, is onveranderd gelaat. Dit beteken volgens Rosenberg prakties dat uit 113 kanale ongeveer 17 uniek Namibies gemaak moet word. Onmoontlik, het sy gesê.

Volgens MultiChoice word groot beleggings reeds in Namibiese inhoud gedoen. Afrika- en Suider-Afrikaanse inhoud moet volgens Rosenberg deel van die model wees.

Die reus in betaal-TV het aangebied om jaarliks N$4 miljoen in Namibiese inhoud te belê. Die maatskappy het gesê sy plaaslike bydrae tot die ekonomie beloop tans N$15 miljoen per jaar.

MultiChoice se argument sluit in dat hy as filiaal van ‘n buitelandse uitsaaier beperkte beheer oor plaaslike inhoud het. Die beskikbaarstelling van plaaslike TV- en radiostasies op sy platform moet volgens MultiChoice ook in ag geneem word.

Aansporing, eerder as strawwe, is volgens MultiChoice ‘n kernbeginsel van die regering se eie uitsaaibeleid – iets wat die kode misken. Die uitsaaibeleid plaas die fokus ook volgens Rosenberg op die NBC in plaas van private uitsaaiers.

Die kode neem volgens MultiChoice glad nie die groot verskille tussen uitsaaiers in ag nie. Rosenberg het aangevoer die kode perk die uitsaaiwese in en ontmoedig kreatiwiteit – gevolge wat in stryd is met die regering se uitsaaibeleid.

PLAASLIKE STEUN

One Africa TV het benadruk dat sy voorstelle ook nie in ag geneem is nie.

Mnr. Madryn Cosburn, stigter asook direkteur van tegniese dienste, het gesê dat produksiekoste van plaaslike inhoud aansienlik tussen TV en radio verskil. Vir TV is die koste so hoog dat dit nie uit advertensie-inkomste gedelg kan word nie – terwyl daar ook geen staatsubsidies vir die ontwikkeling van plaaslike inhoud deur private uitsaaiers is nie.

Hy het navorsing oor plaaslike werklikhede soos produksiekoste voorgestel voordat ‘n kode afgedwing word.

Mnr. Cyril Lowe, uitvoerende hoof van One Africa TV, wou weet hoekom die NBC as nasionale uitsaaier minder plaaslike inhoud hoef te beeldsend.

Die plaaslike inhoudkwota vir NBC is behou op 45%, terwyl kommersiële uitsaaiers 50% plaaslike inhoud moet lewer. Cran sal ook nie die NBC kan reguleer totdat die minister van inligting en kommunikasietegnologie dit aankondig nie.

Lowe het gesê die plaaslike ontwikkelingsvlak van uitsaaiers moet in ag geneem word. Kwotas moet dus volgens hom eerder geleidelik ingefaseer word. TV One Africa, het hy benadruk, het nie die luukse van ‘n staatsubsidie nie, maar lewer ‘n belangrike diens aan die gemeenskap.

Oor die bevordering van plaaslike inhoud is volgens Mbandeka ook met die rolprentkommissie onderhandel oor hoe dit uitsaaiers kan bystaan.

BESTE PRAKTYK

In sy aanbieding het dr. Jean-Pierre Ilboudo, plaaslike verteenwoordiger van Unesco, benadruk dat die Verenigde Nasies se liggame nie daar is om voor te skryf nie, maar om raad oor die beste praktyke te gee.

“Grondwetlike waarborge kan uitgewis word deur uitsonderings en afwykings van internasionale verdragsverpligtinge of teenstrydige wette,” het hy gesê.

Selfregulering bly volgens Ilboudo die beste manier om goeie etiek te verseker. Gekombineer met staatstoesig, indien nodig, bly selfregulering volgens Ilboudo ‘n bewese model van sukses eerder as ingrypings wat tot arbitrêre optrede, geheimhouding of korrupsie mag lei.

Die media moet volgens die Unesco-verteenwoordiger nie weens regerings- en kommersiële belange gekortwiek word nie.

Om klagtes vinnig, doeltreffend en sonder groot koste te hanteer, is volgens Ilboudo van kernbelang. Burokrasie kan só ‘n proses bemoeilik, veral wanneer daar ‘n “weermag” van amptenare betrokke raak.

Ilboudo het wel benadruk dat die uitsaaimedia nie die jeug met internasionale inhoud moet kanabaliseer nie; inhoud wat nie plaaslike kultuur en waardes verteenwoordig nie.

Hy het voorgestel dat Namibië soos ander lande ‘n afsonderlike, etiese kode vir advertensie-inhoud ontwikkel.



CRAN SE SAAK

Me. Emilia Nghikembua, Cran se hoof vir regsadvies, het opnuut benadruk die EFN het in 2014 net 20% van gelisensieërde uitsaaiers verteenwoordig.

Op grond hiervan is volgens haar besluit die owerheid is by magte om ‘n etiese kode en ander vereistes daar te stel, hoewel die kommunikasiewet dit nie verplig nie.

Die EFN het aangevoer dat die situasie intussen verander het. Die EFN se voorsitter, Joseph Ailonga, het ronduit Cran se standpunt verwerp dat die EFN “joernaliste” eerder as media-instellings verteenwoordig.

Volgens Cran het hy kennis geneem van vroeër vanjaar se ingrypende veranderinge aan die EFN se gedragskode vir alle Namibiese media, die instelling se grondwet en grieweprosedure, maar voldoen hierdie wysigings steeds nie aan aan die wet nie. Die EFN het Cran versoek om dringend hul besware met besonderhede toe te lig.

Nghikembua het gesê hoewel die kode uit ‘n spesifieke situasie gebore is, is regulasies nie stasies nie. Uitsaaiers kan dus wel opnuut die keuse gegee word om eerder die EFN se kode as ‘n staatskode te onderskryf.

Volgens Mbandeka kan ‘n kode nie afgedwing word as dit onmoontlik is nie, maar Namibië moet iewers begin. Hy het dankbaarheid uitgespreek vir die hernude gesprek, maar belanghebbendes aangemoedig om met spesifieke oplossings vir strydpunte vorendag te kom.

“Hoe nader ons aan mekaar beweeg, hoe beter,” het Cran se hoof gesê. “Ons bly bereid om te onderhandel. Ons wil die verskil in menings oorbrug. Dit (die kode) is nie ‘n gedane saak nie.”

Cran se voortgesette bereidheid om na almal se menings te luister, bewys volgens Mbandeka die belang om na die bedryf en die publiek te luister.

Beide MultiChoice Namibia en die EFN het gesê hulle sal voor die sperdatum van 31 Julie bykomende, skriftelike voorleggings by Cran inhandig.

Die EFN het Cran ook versoek om bekend te maak hoeveel klagte reeds teen die inhoud van uitsaaiers ontvang is, uitsluitende tegniese en tegnologiese kwessies soos swak of geen opvangs.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!