Strydkinders maak amok
Strydkinders maak amok

Strydkinders maak amok

Augetto Graig
Augetto Graig - 'n Groep gefrustreerde stryd­kinders wat op die Ndilimani-plaas woon, het Vrydag 'n brandweerwa gekaap, 'n minibus met ­buitebande aan die brand gesteek en die ­Brakwater-grondpad versper.

Dít oor hul ontevredenheid met die regering wat glo sloer om vir hulle werk en opleidingsgeleenthede te gee.

Vrydag het die strydkinders die naweek met vlamme begin toe hulle omstreeks 06:00 die Brakwaterpad afgesper en weer droë gras en bosse in dié gebied aan brand gesteek het. Toe is 'n brandweerwa gekaap en terug kamp toe gevat voordat die owerhede­ dit tot kon terugneem.

Mnr. Siegmar Pascheka, eienaar van Plot 138 tussen die kamp en die Namprint-gebou, het bevestig die groep het eers die pad versper.

“Toe het hulle die bestuurder van die brandweerwa aangeval en die wa gesteel het. Hulle het weer my plot aan die brand gesteek. Hulle soek nou regtig moeilikheid,” het Pascheka gesê.

Volgens Pascheka is sy kleinhoewe se heining al voorheen geknip en brande die vorige week by sy grens gestig. Republikein was Donderdag­namiddag op die kleinhoewe om foto's te neem van die skade en die gebied wat strydkinders as toilette gebruik.

“Hulle tart my al 'n maand en 'n half,” het Pascheka gesê. Sy werker, mnr. Michale Putuaota, het vertel hoe hulle met klippe gegooi is terwyl hulle die gate in die heining herstel het.

“Hulle het gesê ons maak hul toilette toe en dat hulle ons sal uitbrand,” het Putuaota gesê.



BRANDWEER

Die Windhoekse brandweer het ná die oproep om 06:15 'n brandweerwa uitgestuur om die vlamme te blus. Met hul aankoms is die brandweermane glo deur die groep gestormloop en weggejaag, voordat die brandweerwa gevat is. “Terwyl daar nog vlamme geblus word, storm hulle op ons af,” het 'n anonieme bron gesê.

“Toe die brandweerwa daar stop, het die strydkinders die drywer oorrompel en die wa gevat. Ons het na die kamp gegaan en die brandweerwa teruggeneem,” het die hoof van die Windhoekse stadspolisie, insp. Abraham Kanime, gesê.

Volgens hom is die situasie hanteer en alles was in orde, maar die ondersoek duur voort.



REDE VIR ONRUS

Mnr. Tuhafeni Nhinda, 'n verteenwoordiger van die byna 350 strydkinders wat aanvanklik opleiding geweier het, het aan Nampa gesê die frustrasie het Donderdag ontstaan tydens 'n vergadering van die koördinerende komitee waartydens klagtes en griewe gelug is.

“Dit het die mense met geen ander keuse gelos nie. Dit was teleurstellend omdat die regering in April gesê het ons moet terug na ons streke gaan en daar registreer vir opleiding – wat hulle gedoen het,” het Nhinda gesê.

Hy het ook genoem toe hulle terug Windhoek toe gekom het, is hulle ingelig dat die volgende opname in September of Oktober sal plaasvind. Volgens hom het die regering vanjaar aanvanklik gesê dit sal 1 000 van hulle op een slag werf, maar dit het later aan die lig gekom dat die opleidingsentrum nie beskikbaar is nie.

Nhinda het die feit bevraagteken dat hulle nie by die Simon Mutumba Mutumba-polisiekollege in die Otjozondjupastreek geakkommodeer kan word nie.

“Toe ons die groep hieroor ingelig het, was hulle gefrustreerd en het toe besluit om die pad te versper. Dit was nie ons doel nie. Ons idee was om na die sekretaris van die kabinet se kantoor te marsjeer, sodat hy 'n besluit kon neem of die opdrag oor die volgende opname gee,” het Nhinda gesê.

Van die groep het ook 'n ou minibus na die pad gestoot en met buitebande aan die brand gesteek. Die Namibiese spesiale magte, die Windhoekse brandweer en die stadspolisie het die situasie onder beheer gebring en teen Vrydagmiddag was toegang na die pad herstel.

Volgens 'n woordvoerder van die Namibiese polisie, adj.komm. Edwin Kanguatjivi, is niemand in hegtenis geneem nie en die voorval is nie as ernstig beskou nie. “Ons lede het daar opgedaag en die hindernis van die pad verwyder,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!