Stryery lei tot boer se dood
Stryery lei tot boer se dood

Stryery lei tot boer se dood

'n Plaaswerker sal vandag in die hof op Outjo verskyn in verband met die moord Maandag op 'n bejaarde boer van dié omgewing.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



'n Argument tussen die 71-jarige mnr. (Karl) Heinz Kossmann van die plaas Aasvoëlkrans (Geierfels) en 'n plaaswerker was na bewering die sneller van die aanval op Kossmann wat Maandag sy lewe geëis het.

Dié plaas, waar die Kossmanns die beroepsjagonderneming Ongue Jagd bedryf, is 70 km van Outjo af op die pad na Khorixas geleë.

Kossmann is na bewering omstreeks elfuur die oggend eers deur die 30-jarige plaaswerker met 'n byl op sy een knie gekap, waarna die aanvaller sy (Kossmann) rewolwer gegryp het, wat in die motorhuis was, en hom verskeie kere in die regterbeen geskiet het, sê adj.komm. Edwin Kanguatjivi, woordvoerder van die polisie in Windhoek.

Volgens die polisie se verslag oor die voorval het Kossmann ook 'n wond aan die kop opgedoen.

Die argument het glo oor werk gegaan. Die vermeende moordenaar het sowat drie maande gelede daar begin werk.

Sy buurman, mnr. Frank Bockmühl, het gister aan Republikein gesê die ander plaaswerkers het vir me. Irene Otto, van 'n ander buurplaas, gekontak. Sy het haar daarheen gehaas.

Kossmann, wat nog geleef het toe sy daar aankom, is per ambulans na die hospitaal op Outjo geneem waar hy gesterf het.

Otto wou nie gister die voorval bespreek nie. “Ons wag vir die Kossmanns se seun (Sven) om van Duitsland af te kom.” Sy sê sy sal graag eers met hom wil praat voordat sy inligting met die media deel.

Kossmann se vrou, Gesa, was nie tuis toe die aanval plaasgevind het nie. Sy was as toergids met ­toeriste by ­Sossusvlei. Sy het haar egter terug huis toe gehaas en is gister op die plaas deur vriende bygestaan en ­ondersteun.

Kanguatjivi sê die plaaswerker is later die dag sowat 7 km van Outjo af deur die polisie in hegtenis geneem. Hy het na bewering N$1 737 in kontant en Kossmann se rewolwer en pistool by hom gehad.

Volgens Kanguatjivi sal hy vandag op klagte van moord, roof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie in die landdroshof op Outjo verskyn.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!