Strzelecki-saak: Beskuldigdes vandag in hof
Strzelecki-saak: Beskuldigdes vandag in hof

Strzelecki-saak: Beskuldigdes vandag in hof

Kristien Kruger
Kristien Kruger – Die mans wat daarvan beskuldig word dat hulle in 2017 'n bejaarde egpaar, mnr. Siegfried (81) en me. Roswitha Strzelecki (79), in hul huis op Swakopmund aangeval en Roswitha vermoor het, se verhoor sal vandag in die hoërhof in Windhoek hervat.

Mnre. Simon Jerobeam en Fabian Lazarus, het na bewering Roswitha tydens die huisbraak verwurg en vermoor. Siegfried het die aanval oorleef, maar is 'n paar dae ná die aanval aan 'n beroerte dood.

Die verhoor sou gister met mnr. Absalom Immanuel se getuienis voortgaan, maar Jerobeam se regsverteenwoordiger, me. Lilian Mbaeva, het die hof ingelig sy gaan haar aan die saak onttrek. Sy het ander verpligtinge as rede aangevoer.

Sy het die hof verseker sy het met 'n ander regshulpverteenwoordiger gereël om haar pligte oor te neem en hy sal vandag teenwoordig en gereed wees.

Regter Christie Liebenberg het die saak tot vandag uitgestel.

Die derde beskuldigde, mnr. Daniel Stefanus (26), het in Februarie 2019 uit polisieaanhouding ontsnap en is nog op vrye voet.



JEROBEAM SE BEKENTENIS

Jerobeam het in 'n verklaring, wat op die dag van sy inhegtenisneming geneem is en in Junie vanjaar tydens die verhoor as bewysstuk ingedien is, sekere erkennings gemaak.

Republikein het destyds berig hy het in die verklaring erken dat hy en sy medebeskuldigdes op 2 Augustus 2017 omstreeks 04:00 na die Strzelecki's se huis gegaan het, waar hulle ongeveer twee ure lank in die tuin weggekruip het.

Toe Roswitha die deur oopgemaak het, het hulle haar glo terug in die huis gedwing en haar vasgebind. Toe die bejaarde vrou begin skree, het Stefanus haar ongeveer drie minute lank met 'n tou gewurg totdat sy “nie meer beweeg het nie”.

Jerobeam het voorts in sy verklaring vertel hy het toe “na die ou man gaan soek”.

Nadat hy Siegfried in die badkamer gekry het en terwyl hy besig was om hom vas te bind, het Stefanus na die kluissleutels begin soek. Jerobeam het hom gevolg en die bejaarde man in die badkamer gelos.

Toe Stefanus nie die kluis kon oopkry nie, het hulle besluit om hulle uit die voete te maak.

Jerobeam het in sy verklaring gesê hulle is agterna strand toe om die bloed van hul hande en klere af te was.

Jerobeam het die bekentenis betwis en aangevoer hy is nie van sy regte in kennis gestel voordat hy die verklaring afgelê het nie.

Die staatsaanklaer is mnr. Marthino Olivier.
[email protected]

FOTO
Die moordbeskuldigde mnr. Simon Jerobeam het op die dag van sy inhegtenisneming 'n verklaring afgelê waarin hy erken het dat hy en sy medebeskuldigdes die 79-jarige me. Roswitha Strzelecki vermoor het. Foto Kristien Kruger

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!