Stygende koste verorber boere se winste
Stygende koste verorber boere se winste

Stygende koste verorber boere se winste

’n Finansiële oorsig van die landboubedryf in die eerste kwartaal wys boerderye is tans soos die Bybelse hert in dorre streke.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Landbou-inflasie het in die eerste kwartaal van 2019 ’n jaar-op-jaar styging van 4,4% getoon, terwyl die droogte se negatiewe impak op bees- en skaappryse toenemend gevoel word.

Volgens die Namibië Landbou-unie (NLU) se finansiële oorsig van die landboubedryf in die eerste kwartaal van die jaar, was beespryse 10,3% laer as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar, terwyl produksiekoste gestyg het.

Die daling is hoofsaaklik toe te skryf aan die skerp afname van 22,6% in die pryse van speenkalwers. Slagpryse vir beeste het danksy Meatco se kompeterende pryse met 14,7% gestyg. Skaappryse het jaar-op-jaar met ’n geringe 1,4% gestyg, toon die NLU se verslag.

Die NLU sê in sy verslag hy het die basisjaar vir sy produksiekoste-indeks verander en 2017 gebruik pleks van 2006 soos voorheen die geval was. Die indeks toon die verhoging in landbou-inflasie is grootliks deur die toename van 6,1% in die prys van veevoer beïnvloed. Daar was ook ‘n jaar-op-jaar styging in kapitaalbesteding, terwyl brandstof 6,5% duurder kos as in die eerste kwartaal van 2018.

“Produsente betaal toenemend meer vir ’n mandjie insette as wat hulle vir hul uitsette ontvang,” lui die verslag. Vir die meer as 13 jaar wat die produksiekoste-indeks vir boerderye in die land gemonitor word, het die kosteknyptang vir beesvleisproduksie jaarliks met 4% gestyg, terwyl die styging op kleinveeplase 0,7% beloop het.

“Buiten die herhalende droogtes, het die stygende uitgawes op plase ’n beduidende impak op produsente se winste,” sê die NLU.

Die verslag toon die styging in veevrektes in hierdie tyd van buitengewone weidingsnood, bedreig die vleisbedryf in die land. Om finansiële verliese te beperk, is boere besig om teen ’n vinnige tempo kuddegetalle te verklein.

BEMARKING

Volgens die Vleisraad se statistiek, is 63 067 beeste in die eerste kwartaal lewend na Suid-Afrika uitgevoer, terwyl 219 beeste na Angola en 131 na ander buurlande uitgevoer is.

Meatco het van Januarie tot April altesaam 21 494 beeste geslag en die skaapuitvoerabattoirs het 53 851 skape geslag. Daarteenoor is 104 196 skape lewend uitgevoer.

Hiervan was 40,3% slagbare skape, 11,4% was vetsterte en 48,3% was skape wat te klein of te maer was om deur die uitvoerabattoirs te bemark, maar wat weens die weidingsnood van die veld af gehaal moes word.

Verder is 79 334 beeste by veilings van die hand gesit, waarvan 21,4% koeie was. Vergeleke met die eerste kwartaal van 2018, is 56,4% méér koeie as verlede jaar verkoop: 16 989 teenoor 2018 se 10 862.

Die NLU sê die droogtetoestande het tot 'n drastiese toename in die bemarking van maer koeie aanleiding gegee.

Boere het in die ooreenstemmende tyd verlede jaar 3 538 maer koeie bemark – ’n syfer wat vanjaar tot 7 941 opgeskiet het en ’n styging van 124,4% verteenwoordig.

Namibië is verlede week geskok toe ’n maer koei (287 kg) van mnr. Christo Robberts op ’n veiling van Blaauwberg Auctioneers op Otjiwarongo vir net N$400 van die hand gesit is. Die kwitansie is as bewys van die enorme krisis in die landbou, in die sosiale media gesirkuleer.

Mnr. Piet Schreader, eienaar van Blaauwberg, het by navraag gesê die skokkende lae prys wys op die abnormaliteit van dié rampdroogte en die invloed daarvan op markkragte.

“Alles is deurmekaar. Dit is ’n baie emosionele tyd. Daar is nie kopers nie en daar is gevolglik nie koopkrag nie. Ek wil eintlik nie eers meer veilings hou nie.”

Hy sê die pryse is ’n refleksie van die vraag en aanbod, want die kopers by veilings raak al minder en minder. “Die dalende pryse het op beide boere en veilingshuise ’n baie negatiewe invloed."

Schrader sê die pryse wat tans op veilings betaal word is die “ware spieël” van die haglike situasie in die land. “Die boer kry die beste prys van die dag en word dadelik betaal. Dit is beter om die dier teen daardie lae prys te verkoop, as om die vel van die dooie dier te verkoop. Dit is baie hartseer, maar waar.”

Hy wys ook daarop dat die Namibiese boer ’n baie geharde mens is wat al baie moeilike tye deurleef het.

Die NLU spreek in sy kwartaaloorsig kommer uit oor die toename in die bemarking van vroulike diere en sê dit verminder die toekomstige aanwas-kapasiteit van die beesbedryf.

Nóg ’n uitvloeisel van die droogte is die inploffing van die speenkalfmark.

Speenkalfpryse het in die eerste kwartaal van vanjaar 56,5% van slagpryse beloop en het tot onder die langtermyn gemiddeld geval. Dit beteken dit is nou meer winsgewend om met osse te boer as met speenkalwers.

Die rede hiervoor is die goeie slagpryse wat Meatco tans betaal. Die pryse van A2-grade is 13,3% hoër as dié van Suid-Afrikaanse abattoirs.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!