Stygende vraag lei tot duurder lewenskoste
Stygende vraag lei tot duurder lewenskoste

Stygende vraag lei tot duurder lewenskoste

Bestuur boerderye nugter, koersvas
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher



Die 4,4% inflasie het in April 'n stewige styging getoon vergeleke met Maart, welke styging grootliks die gevolg is van stygende kosinflasie van 7,1%.

Binne die kosmandjie het vleispryse, wat die grootste bydraer is in daardie kategorie naas geprosesseerde en ongeproses­seerde voedsel, die pas aangegee met 'n stewige 7,1% toename.

Vette en olies, vis en groente se pryse het ook betekenisvol toegeneem, maar hul verhoudelike bydrae tot inflasie is relatief klein. Inflasievlakke het ook betekenisvolle stygings getoon in veral die armer provinsies, met die Noordwes-provinsie se 4,9% die hoogste.

Inflasie volgens die vlakke van uitgawes het in April interessante wendings geneem, met die laagste vlakke (jaarlikse uitgawes van minder as R18 000) wat amper 5% toegeneem het.

Dié syfer is egter net matig hoër as die 4,7% vir die uitgawegroep van meer as R270 000. Daarbenewens het vervoerinflasie in die geheel met 10,6% toegeneem en openbare vervoer met 5,1%. Dié syfer kan egter in die komende maande versnel, omdat stygende brandstofpryse stadiger deurgegee word.



RENTEKOERSE

Die vraag is of die stygings die gevolg is van toename in vraag, met aanbod wat ontoereikend is? Dit sou dui op 'n groeiende ekonomie en as sodanig moes die Suid-Afrikaanse Reserwebank dalk anders besluit het oor rentekoerse.

Die feit dat rentekoerse egter onveranderd gelaat is, dui daarop dat inflasiestygings nie 'n genoegsame aanduiding is van 'n ekonomie wat sy kop optel nie.

Die laagste rentekoers in dekades help egter die verbruiker om gate toe te stop, skuldverligting te doen en finansieel te begin asem haal.

Stygings binne die kosmandjie is egter te verwagte namate die lewendehawebedryf kuddes herbou met gevolglike hoër plaashekpryse vir slagvee, maar die verbruiker het ander keuses.

Graanpryse bly hoër as wat verwag is te midde van 'n baie groot somergraanoes, maar inflasiedruk daar is nie 'n wesentlike gevaar nie.



TOE BEURSIE HELP NIE EKONOMIE

Wat egter kwel, is dat die arm verbruikers steeds nie die basiese voedselmandjie kan bekostig nie. Die armste van die armes bestee steeds die grootste deel van hul besteebare inkomste aan voedsel en wanneer pryse soos dié van vervoer toeneem, kry besteding voorrang met minder oor vir kos.

Boere bly prysnemers en inflasie anderkant die plaashek, val buite sy/haar raamwerk. Die landbouprodusente ervaar egter ook inflasie, want hulle lewe ook. Insetpryse moet self geakkommodeer word en kan nie deurgegee word nie.

In Suid-Afrika is daar verhoogde kostes vir veral graanprodusente as gevolg van die toestand van paaie.

Lewendehaweprodusente wat afhank­lik is van die vervoer van diere na markte, moet eweneens die spit afbyt.

Die les uit die nuutste syfers, is dat gordel intrek steeds aan die orde bly. Ongelukkig sal 'n toe beursie nie help om die ekonomiese verval betekenisvol te stuit nie. Verbruikers moet in staat wees om blywend meer te verbruik omdat hulle oor die nodige middele beskik en indien dié tendens betekenisvolle volhoubaarheid toon, hervestig vertroue aan die plaaskant van die plaashek.

Ons moet egter altyd onthou 'n plaas is nie 'n fabriek waar 'n produksielyn gestop kan word as sê pryse te laag daal en daar bly nie.

Die beesboer in die Khomas Hochland wat ná goeie reën besluit het om nie verskalwers te bemark nie, se besluit werp eers oor 'n paar jaar vrugte af.

Intussen kan daar baie veranderings in die markte kom. 'n Besluit nou om meer koeie te laat kalf in die lente, lewer eers 'n verkoopbare produk baie maande ná die besluit.

Vanaf die besluit nou tot daardie dag in die toekoms, vra nugtere denke en koersvaste bestuur, maar sonder dat daardie boer enige vermoë het om die prys in die toekoms te bepaal.

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer