Suburbs wil nouer na spelers omsien

Die Khomasdal-klub het ’n program geloods om groter aandag aan spelers se welsyn weg van die speelveld te gee.
Die rugbyklub FNB Western Suburbs is waarskynlik die eerste in die land wat op gestruktureerde wyse met die ondersteuningsnetwerk van ’n Spelerswelsynbestuursdiens (PWMS) vorendag wil kom.

Die mikpunt van dié program is om spelers met behoeftes en probleme by te staan en praktiese en emosionele steun te bied sodat spelers op hul spel kan konsentreer, sodat verskynsels soos verslawing, depressie, angs of skadelike gewoontes vermy kan word voordat dit op ’n speler se ontwikkeling plaas.

Met sy planne agtermekaar kan Suburbs sy afrigters, bestuur en nasionale spelers inspan om manne met haakplekke by te staan.

Hoewel Suburbs deesdae ’n meer oop kultuur by spelers bespeur, voel die klub hy het nie genoeg tyd gehad om die program ten volle aan te wend nie. Suburbs meen dit is nodig vir die Namibië Rugby-unie (NRU) en spelers om hul gewig ten volle by Suburbs in te gooi.

Tydens die proeflopie kon Suburbs finansiële hulp aan spelers bied. Berading aan nabye families en spelers is tuis verskaf om enige besprekings privaat te hou.

Elke speler het individuele behoeftes wat op ’n spesifieke wyse hanteer behoort te word. Interaksie met ander spelers, afrigters en ondersteuningspersoneel kan vir sommiges ’n uitdaging wees, wat ’n wesenlike impak op ’n speler kan hê.

Suburbs het verklaar dat hy oop is om meer navorsing te doen om die program verder te ontwikkel en te verfyn. Die mikpunt is om die nuwe PWMS-beleid ná goedkeuring by sy volgende algemene jaarvergadering in werking te stel.

’n Ondersteuningstruktuur behoort onder die spelers en afrigters gevestig te wees om mekaar by te staan. Indien nodig is Suburbs bereid om die hulp van ’n professionele instansie te werf om berading of ’n mediese diens te verskaf.

Spelers word inderdaad deur vele faktore beïnvloed, wat reeds redelik goed nagevors is. Veral druk om te presteer, asook die vrees om nie vir ’n span gekies te word nie, is ongesiens die vyand van ’n brose speler. Tydens die grendeltydperk is veral werklose spelers wat op hul wedstrydfooi staatmaak, direk met sulke faktore gekonfronteer.

Die ou stigmas dat net swakkelinge vir hulp vra, sal finaal deur die ondersteuningsprogram nek omgedraai word, om jaarliks ’n verbetering by die spelers te bespeur om ’n gesonde kultuur by die spelers en gemeenskap te kweek.

Elke speler se sake sal altyd vertroulik hanteer word en hy hoef nie te vrees dat hy skielik vir ’n span oor die hoof gesien sal word nie.

“Ons by Suburbs glo dat rolmodelle, in besonder van ons suksesvolle nasionale spelers, noodsaaklik sal wees om die ander spelers te betrek. Dit beteken dat die spelers self met interaksie betrokke raak waar hulle bewus is van mekaar se doen en late, maar dat kwessies buite die klub se raadsaal gehou word.

“Ons is bewus daarvan dat rugbyspelers gewoonlik ’n spesie is wat nie graag vir hulp vra nie, want die manlike ego kom alte dikwels in die pad.

“Die besef dat jy kwesbaar is en ’n behoefte aan steun het, en nogtans ’n toppressteerder kan wees, is belangrik in die verandering van die gesprekke rondom geestelike taaiheid en die implikasies beide op en weg van die speelveld, maar hierdie idee bestaan op nie oral in dié sport nie.

“By ons klub is omtrent 60 persent van spelers werkloos, terwyl 20% studente is wat geen finansiële ondersteuning geniet nie,” sê klub in sy verklaring. Die PWMS word beskou as ’n belangrike element om te verseker dat rugbyspelers hul persoonlike groei deur akademiese en ander opleiding voortsit.

As ’n beginpunt vir hierdie nuwe inisiatief het Suburbs besluit dat alle geregistreerde lede teen 1 Januarie 2021 ’n begrafnispolis moet hê om die familie in ’n tyd van nood by te staan.

Suburbs het ook sy strewe verklaar om graag by spelers se geleenthede soos troues, herdenkings en verjaarsdae betrokke raak. Alle nasionale spelers behoort ook geldelik met vervoerkoste gehelp word om oefensessies by te woon.

“Ons soek hulp van enige organisasies wat kan help met verdere advies en leiding om ons te help om hierdie projek ’n sukses te maak, wat dan aan meer belangstellende klubs beskikbaar gestel sal word,” sê die klub in sy verklaring.

Mnre. Leon Esterhuizen (081 141 2621 / 081 122 1824) en Ernst Waterboer (081 554 4778) is spesiaal vir die taak ingespan en kan by die betrokke nommers gekontak word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!