Suid-Afrika kom nét tweede op Okavangorivier

Plaaslike vernuf het die deurslag gegee toe Namibië skoonskip gemaak het.
Andrew Poolman
Die Namibiese Kunsaashengel­vereniging (NALAA) se spanne het onlangs hul kompetisie teen Suid-Afrika oorheers toe hulle mekaar op die Okavangorivier vir die Streek 5-toernooi ontmoet het.

Namibië is deur sy nasionale senior span, nasionale juniors, twee Federasiespanne (juniors en seniors) en twee ontwikkelingspanne (seniors en juniors) verteenwoordig wat almal die goue medaljes teen hul Suid-Afrikaanse eweknieë ingepalm het.

Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die byeenkoms dat Namibië met al vyf sy spanne die goue medaljes inpalm, insluitend die juniors, en die nasionale beheerliggaam is baie trots op die prestasie.

Met wind wat soms sterk gewaai het en watervlakke wat aan die lae kant was, was toestande vir visvang nie maklik nie en talle spanne het gesukkel om hul voete te vind. Nietemin het Namibië vroeg reeds 'n voorsprong opgebou deur 'n paar stewige visse in te weeg.

Teen die tweede dag het beide die Protea- en SALAA-spanne egter hul planne op die rivier agtermekaar begin kry. 'n Goeie verskeidenheid spesies is ingebring, maar die Namibiërs het hul vernuf en ondervinding ten volle benut om nog beter sakke as op die vorige dag te vang en sodoende die goue medalje te verseker.

Die totale puntestand oor die twee dae was soos volg:

Nasionale seniors: Namibië 718.85, Protea seniors 579.22.

Nasionale Juniors: Namibië 687.86, Protea Junior 633.95.

NFFA Senior Federasiespan 702.79, SALAA senior span 523.76.

Senior ontwikkelingspanne: Namibië 712.50, SALAA 410.24.

Junior ontwikkelingspanne: Namibië 571.76, SALAA 541.24.

NALAA spreek sy dank uit teenoor alle hengelaars, skippers en vrywilligers, asook alle Suid-Afrikaanse hengelaars, skippers en ondersteuningspersoneel wat bygedra het om die byeenkoms so suksesvol te maak en vlot te help verloop. “Sportmangees is op die hoogste vlak gehou en daar was wedersydse respek onder mededingers en spanmaats. Dit dra by dat ons die byeenkoms lank sal onthou. Ons het ook waardering vir al die borge sonder wie ons dit nie sou kon regkry nie,” sê die beheerliggaam se skakelbeampte, René Graf.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer