Suiwel, sap mu00f3u00e9t duurder word
Suiwel, sap mu00f3u00e9t duurder word

Suiwel, sap móét duurder word

Hanlie Stadler - Verbruikers moet hulle staal vir skerper stygings in die prys van kos, want “dit kan nie so aangaan nie”.

Johann Vorster, uitvoerende hoof van die suiwelreus Clover, sê die kwaai mededinging tussen kleinhandelaars beteken prysstygings is verlede jaar tot die minimum beperk.

Massmart het onlangs aangekondig sy kospryse het met gemiddeld 1,1% gedaal, terwyl Pick n Pay prysstygings van slegs 0,3% aangekondig het en Shoprite van 0,4%.

Vorster sê as kosvervaardiger is hulle onder druk omdat hulle ook nie die prysstygings kry wat hulle graag sou wou sien nie, maar uiteindelik is dié lae prysstygings ook nie vir kleinhandelaars volhoubaar nie. Almal se koste – van lone en krag tot brandstof – styg met meer as die inflasiekoers.

Verbruikers het gewoond geraak daaraan dat hulle enige produk êrens op 'n promosie sal kry as hulle net lank genoeg wag, sê Vorster. Die punt is nou bereik waar die styging in volume verkope danksy promosies nie vergoed vir die lae prys nie. “Inflasie is die kleinhandelaar se vriend.”

Clover self kon in die ses maande tot einde Desember daarin slaag om prysstygings van 3,1% te behaal, maar het groot sukses behaal met die groei van 5,6% in die volume verkope. Altesame het sy inkomste uit verkope met 4,6% tot R3,4 miljard gestyg.

Clover vervaardig onder meer produkte soos melk, jogurt en vla, vrugtesap soos Krush, Tropika en Quali Juice, Elite-kase, Milo en Amasi.

Vorster sê die styging in sy volume is baie goed in die ­mededingende mark waarin hy sake doen. Die groep het markaandeel gewen in 12 uit die 19 kategorieë produkte wat hy verkoop – hy het onder meer nou 'n markaandeel van meer as 83% in die kategorie vir vrugte-suiweldrankies, waar Clover Tropika verkoop, en kon sy markaandeel vir vars vrugtesap (Quali Juice) opstoot tot 53,3%. Dis 'n kategorie waarin verbruikers tussen meer as 300 vervaardigers se produkte kan kies.

Vorster skryf die styging in markwaarde daaraan toe dat mense die handelsnaam vertrou. “Verbruikers is onder druk. As hulle hul rande bestee, wil hulle dit bestee op iets wat die geld werd is.”

Impak van suikerbelasting

Clover het die afgelope ses maande die hoeveelheid suiker in van sy produkte verminder. In Tropika het hy byvoorbeeld 'n klein bietjie minder suiker begin gebruik en dit met versoeter vervang.

Vorster sê hulle het die veranderinge nie aan die groot klok gehang nie omdat hulle nie heeltemal suikervry kan gaan met baie van hul produkte nie.

Die groep se koste vir produk- en markontwikkeling het met 9% tot R12 miljoen gestyg, grootliks vanweë navorsing en ontwikkeling van nuwe produkte en die herformulering van resepte om die suikerinhoud daarvan te verlaag.

Vooruitsigte

Clover reken dat verbruikersbesteding onder druk gaan bly. Die groep is bekommerd oor “die finansiële welstand van staatsondernemings en spesifiek die ­finansiering van Eskom”, wat kan meebring dat Suid-Afrika dalk tot volslae rommelstatus afgegradeer gaan word, met net Moody's ­Investors Service wat die land nog op beleggingsgraad het.

Verbruikersvertroue gaan dalk ook geraak word deur die algemene verkiesing.

Indien inflasie daal, sal dit verligting vir verbruikers bring en sal hulle meer besteebare inkomste hê danksy salarisverhogings en die stabilisering van kospryse.

Clover sê hy is “optimisties” dat sy bedrywighede volhoubaar is in die huidige ekonomie, maar ook dat hy goed geplaas is om voordeel te trek indien die ekonomie weer kop optel.

In syfers

• Inkomste styg met 4,1% tot R4,39 miljard

• Inkomste uit die verkoop van produkte styg met 4,6% tot R3,4 miljard

• Wesensverdienste per aandeel styg met 5% tot 123,5c

• Wesensverdienste styg met 5,1% tot R235,9 miljoen

• Tussentydse dividend styg met 5% tot 27,89c

• Bedryfswins daal met 7,3% tot R343,5 miljoen

• Bedryfswinsgrens daal met 'n persentasiepunt tot 7,8%

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!