Sukses val nie uit die lug

Ronelle Rademeyer
Onderwysredaksie - Vra ’n mens vanjaar se toptien graad 12’s uit oor hul wenke vir sukses, is dit duidelik goeie prestasie val nie uit die lug nie. Ewe belangrik is ’n gebalanseerde lewe.

Renate Potgieter, vanjaar se toppresteerder in die Senior Sekondêre Sertifikaat (NSSC)-eksamen, is ’n leerling van Walvisbaai Private Hoërskool.

Sy skryf haar sukses aan haar goeie ondersteuningsnetwerk toe en sê sy het alles wat sy gedoen het, voluit aangepak. Sy raai volgende jaar se matrieks aan om deur die sillabus te werk en seker te maak hulle ken en verstaan alles. “Moenie bang wees nie en gaan net voluit.”

Renate beplan om volgende jaar medies by Unam te studeer. “Grey’s Anatomy is beslis nie al rede hoekom ek medies wil studeer nie. My pa is ’n dokter en dit is ook van kleins af my droom. Ek het ’n liefde vir mense en dit is al wat ek nog altyd wou doen.”

Tsengelmaa Sundui, ’n leerling van St. Paul’s College, staan tweede in die land. Sy gaan volgende jaar eers ’n oorbruggingsjaar neem om duidelikheid te kry oor haar planne vir die toekoms. Sy gaan bietjie rus na die harde jaar voor die boeke en sommer in die proses werksondervinding ook opdoen.

“My boodskap aan volgende jaar se matriekleerlinge is eenvoudig: Bestuur jou tyd goed, want goeie tydsbestuur is jou sleutel tot sukses en minder stres. Eet reg, oefen bietjie en weet wanneer jy moet rus en wanneer jy moet leer.”

Volharding is haar resep vir sukses. “Jy kan nie ophou hard werk nie,” sê sy.

Soos in die verlede het St. Boniface College by Rundu ook weer uitgeblink en Blessing Chizengeya het derde beste gevaar. Vir hom is sy sukses toe te skryf aan harde werk, en toegewyde en goeie onderwysers en ’n skoolhoof wat ’n verskil maak. Groepstudie saam met medeleerlinge het hom ook tydens die eksamen gehelp.

Sy kop staan ook Unam toe om mediese te studeer.

Nóg ’n slimkop, Marco Jauss (Windhoek Gymnasium), glo ’n gesonde balans, uitstekende onderwysers en ondersteunende ouers is die sleutel tot sukses. “Leer genoeg, doen sport, neem deel aan kultuuraktiwiteite, en bestee tyd saam met jou familie en God.”

Marco beplan om megatroniese ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch te gaan studeer. Sy raad vir volgende jaar se matrieks is om nie net heeldag voor die boeke te sit nie, maar die laaste jaar voluit te geniet. “Moenie te veel stres oor prestasies nie. Daar is iets soos te veel leer. Lewe jou lewe voluit.”

Lucas Wackerle-Garcia van St. Paul’s College glo jou ingesteldheid tot jou studies bepaal jou sukses. “Daar is groot druk op jou. Fokus op een ding op ’n slag en moet nooit jou slaap opoffer nie. Jy moet jou werk graag wil doen, al is jou motivering net om spertye te haal. Wees aktief. Pleks daarvan om onophoudelik na jou selfoon te staar, gaan saam met vriende uit of beoefen ’n sport. Jy sal dit dan makliker vind om jou weer na jou studies te wend.”

Hy gaan ’n oorbruggingsjaar neem om die wêreld van ’n nie-akademiese omgewing te ervaar voordat jy met tersiêre opleiding begin – moontlik in fisika of wiskunde. “Ek wil graag waar moontlik ver weg van die gerieflike klein lugbel van Windhoek reis.”

Michael Deyzel (Windhoek Gymnasium) meen leerlinge is dikwels nie suksesvol nie omdat hulle ’n gebrek aan belangstelling in hul vakke het. “Ek het vir myself gesê dat ek die werk wel interessant vind en het ook meer gelees oor my vakke om daardie belangstelling aan te wakker. Ek het gevind dat ek outomaties baie beter doen.”

Hy gaan elektriese en elektroniese ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. “Daar is baie onsekerheid oor die gebeure by universiteite en ek lees dikwels dat die millennials baie pessimisties is oor die toekoms. As jy egter doen waarvan jy hou en waarvoor jy lief is, sal jy suksesvol wees.”

Om in die klas op te let, het vir Pascal Henle (St. Paul’s College) sukses besorg. “Verder skryf ek my prestasie aan goeie onderwysers en ’n goeie onderwysstelsel toe.

“Ek dink graad 12’s moet die plesier in hul werk ontdek en vir hulself studeer en nie noodwendig om goeie punte te behaal nie. Punte is nie so belangrik nie, probeer om iets te leer wat jy later in jou lewe kan toepas.”

Hy gaan argitektuur aan die Universiteit van Melbourne in Australië studeer.

Charlize Agenbag van Windhoek Gymnasium slaan die spyker op die kop as sy sê daar is beslis nie ’n maklike kitsresep vir sukses nie. “Dit verg harde werk en soos wat ons skoolhoof altyd gesê het, gebruik die ABC-metode van ‘add bottom to chair’.”

Haar raad is om baie ou vraestelle deur te werk. “Met oefening raak alles makliker. Dis ook belangrik om vakke te kies wat jou interesseer, dan sal jy 'n honderd keer makliker leer.”

Sy gaan volgende jaar BSc (Biologie) met sielkunde by die Universiteit van Stellenbosch studeer.

Windhoek Hoërskool se Juan-Mari Hanekom sê: “My resep is om elke dag jou deel te doen. Die Here se guns het die grootste rol gespeel, asook my ouers se vertroue in my. Dan natuurlik is ek baie dankbaar vir die Blou Skool se onderwysers en hulle insette. My skoolhoof, mnr. (Havey) Engels se woorde ‘om ’n prys te kry, moet jy ’n prys betaal’, het my geïnspireer om hard te werk.”

Haar raad aan 2017 se matrieks is om ’n mikpunt te stel en elke dag hul bes te doen. Ook sy gaan by Unam medies studeer indien sy keuring kry.

Luke Brinkmann (St. Paul’s College) se goue reëls is harde werk, ’n gebalanseerde lewe, om elke dag iets te doen wat jy geniet en genoeg slaap te kry.

Sy raad aan volgende jaar se matrieks is om nie hulle buitemuurse aktiwiteite te staak nie, aangesien daardie afleiding goed is vir ’n mens se brein.

Hy het ’n beurs om B.Rek te gaan studeer en het ook by buitelandse universiteite om keuring aansoek gedoen.



Geld in die sak

Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur het gister aan die volgende leerlinge prysgeld geborg deur Cambridge se internasionale eksamensindikaat oorhandig:

· Renate Potgieter (Walvisbaai Private Hoërskool) – beste nasionale gemiddeld in NSSCH, N$2 000.

· Tsengelmaa Sundui (St. Paul’s College) – meisie met beste gemiddeld in ses NSSCH- vakke, N$1 200.

· Blessing Chizengeya (St. Boniface College) – seun met beste gemiddeld in ses NSSCH-vakke, N$1 200.

· Juan-Mari Hanekom (WHS) – meisie met beste gemiddeld in vyf NSSCH-vakke, N$1 200.

· Josua van Tonder (St. Paul’s College) – seun met beste gemiddeld in vyf NSSCH-vakke, N$1 200.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!