Super-Steyn sool reeds 31 in u2019n ry oor
Super-Steyn sool reeds 31 in u2019n ry oor

Super-Steyn sool reeds 31 in ’n ry oor

Rugby
Hendrik Cronjé – Frans Steyn is stil-stil besig om hom tot in die rekordboeke in te skop.
Met sy vier doelskoppe en twee strafdoele verlede Saterdag in die Kaap, toe die Cheetahs die Stormers 34-33 geklop het, het Steyn verseker dat sy laaste 31 stelskoppe suksesvol was.
Sover bekend is Steyn se 31 agtereenvolgende stelskoppe ’n rekord vir ’n Suid-Afrikaanse skopper op provinsiale vlak.
Hy het Peter Grant en Demetri Catrakilis se rekord oortref, wat hulle in die Stormers-trui in Superrugby opgestel het.
In toetsrugby hou die Springbok Morné Steyn steeds die wêreldrekord met 41 agtereenvolgende suksesvolle stelskoppe. Hy het dit reeds op 6 November 2010 opgestel.
Hawies Fourie, direkteur van rugby by die Cheetahs, beskryf sy binnesenter as ’n frats.
“Frans is nie iemand wat homself doodoefen (aan sy stelskopwerk) nie, hy is net ongelooflik talentvol,” sê Fourie.
“Hy oefen nie elke dag ’n halfuur of ’n uur aan sy skopwerk nie.
“Hy is nie op sy senuwees oor ’n skop nie. Hy dink nie aan enigiets anders as net aan sy proses nie. Hy het boonop ’n ongelooflik goeie skopstyl. Daar is geen foute nie.
“Hy kan baie min verkeerd doen op die manier waarop hy dit doen. Als wat hy doen, is baie eenvoudig en sonder tierlantyntjies. Hy is so bestendig omdat hy alles elke keer dieselfde doen.”
Volgens Fourie is die 15 skoppe waarmee Steyn voor ’n wedstryd opwarm, min of meer sy beste 15 van die week.
Albert Keuris, die span se skopafrigter, sê hulle het nog niks aan die 33-jarige Steyn se tegniek verander sedert 2019 se Wêreldbekertoernooi nie.
“Ek dink die sowat 14 jaar se professionele rugby het wel sy tol geëis en sy knieë is nie meer wat dit was nie. So, ons skop honderd persent op sy terme. As hy goed voel, dan skop ons en as hy seer het, dan los ons.
“Ek spot altyd en sê as ek in die week 20 skoppe uit Frans kry, dan was dit ’n goeie week, maar dit is 20 goeie skoppe en ek probeer by hom staan by elkeen van hulle.
“So ook met sy skoppe in die opwarming voor ’n wedstryd. Dan skop ons omtrent 15 skoppe en praat lekker deur alles.
“Sy basiese beginsels is baie goed, so met sy tegniek is daar nie fout nie. Daarby het hy natuurlik ’n oorvloed natuurlike talent.
“Hy het wel so twee of drie belangrike fokuspunte waaraan ek hom herinner voor elke skop en ek dink dit, saam met selfvertroue, help baie.”
Steyn is volgens Fourie nog tot Junie volgende jaar deur die Cheetahs gekontrakteer. Hulle sal nader aan die tyd oor sy toekoms besluit.
“Die besluit sal eintlik maar by hom lê of hy nog wil rugby speel.
“As hy nog wil speel, sal ’n mens definitief daarna kyk om sy kontrak te verleng as hy teen dan nog net sulke goeie rugby speel en op peil is.”
Dit is nie net Steyn se kanonvoet wat Fourie die afgelope tyd beïndruk nie, maar ook die skopwerk van die Leeus se Tiaan Swanepoel, die Haaie se Curwin Bosch en die Stormers se Kade Wolhuter.
“Die klomp spelers wat nou daar is en die bal so ver pale toe kan skop, is nogal ongewoon. As ek terugdink aan my jong dae, was dit Naas Botha, De Wet Ras en miskien Robbie Blair op ’n tyd wat goeie stelskoppers was.
“Dit sê nogal baie van Kade dat hy op kusvlak soveel lang skoppe teen ons kon oorsit. Ek ken Tiaan van Maties af waar hy ’n jaar of twee vir my gespeel het.
“Hy het ’n ongelooflike lang afstand op hom en skop akkuraat.”
Steyn staan egter vir Fourie uit vanweë sy akkuraatheid.
“Hy skop enigiets van sy eie tientreë af oor. Dit pla hom nie as die bal 65 m ver geskop moet word nie. Hy sien kans vir hulle en is suksesvol.”
Fourie meen daar is plek vir Steyn in die Bokke se reeks teen die Britse en Ierse Leeus. Veral omdat daardie reeks deur ’n reuse-stelskop bepaal kan word, soos in 2009 die geval was met Morné Steyn op Loftus.
“Ek glo Rassie Erasmus-hulle sal beslis na Frans kyk. Ek besef ook Handré Pollard en Elton Jantjies is die manne in die (Bok-)saal.
“Ek dink wel dit maak sin om iemand in jou groep te hê wat die bal 60 tot 70 m ver kan skop.”
Nog iemand wat die afgelope tyd deur Steyn en die ander manne se reuse-stelskoppe beïndruk word, is Naas Botha.
“Ek het dit gesien en dit is baie indrukwekkend,” sê hy.
“Ons is regtig baie gelukkig dat ons op die oomblik al hierdie uitstekende skoppers het en omdat strafskoppe ’n baie groot rol in rugby speel.
“Hul tegniek is uitstekend. Hulle moet net beter seker maak wanneer hulle kantlyn toe skop, want daar word nog nie genoeg druk op opponente gesit met strafskoppe na die kantlyn nie.
“Lynskoppe moet van dieselfde gehalte wees as stelskoppe.”
– Netwerk24, Rapport


FOTO
Frans Steyn klits nog ’n stelskop oor in die Cheetahs se wedstryd teen die Stormers. Foto Gallo Images

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!