• Tuisblad
  • Sport
  • Superliga se finaliste soos die meeste voorspel het
Superliga se finaliste soos die meeste voorspel het
Superliga se finaliste soos die meeste voorspel het

Superliga se finaliste soos die meeste voorspel het

Skolerugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Rubicon Tsumeb Gimnasium en KMC/JCC Windhoek Affies het nie net die Momentum o.19-seisoen boaan die puntelys afgesluit nie, maar het die naweek ook beide hul semifinale beklink om seker te maak dat hulle mekaar komende Saterdag in ’n opwindende eindstryd sal ontmoet.

Tsumeb se magtige pak voorspelers het Saterdagaand selde hul greep laat verslap op pad na hul oorwinning met 32-21 teen Samsung Windhoek Hoërskool.

Rustyd was die noordespan, met ’n stewige reisende ondersteunersgroep agter hulle, reeds met 20-7 in beheer van sake.

Halfpad deur die eerste helfte het Tsumeb ’n slag op hul eie tienmeterlyn ’n lynstaan gewen en daarmee gemaaldryf tot binne WHS se kwartgebied, voordat die beweging gestuit is. Dit op sigself vertel van die uitdaging aan enige span wat die maroen truie vanjaar van die trofee wil weghou.

Die senter SJ Louw is as die speler van die wedstryd aangewys vir sy twee drieë wat WHS se buitekans op ’n verrassing laat verflou het. Vir sy eerste drie was daar ’n tikkie geluk by, toe losskakel Bothma Keyser se skop vorentoe halfpad afgestorm is, maar tog in heelagter Lister Cochrane se pad beland het, wat Louw los deur pale toe kon stuur.

Met strafdoele deur Keyser weerskante van dié verdoelde drie, het Tsumeb dertien punte gehad voordat WHS op die telbord kon kom met ’n drie deur die haker JC Rossouw, wat deur heelagter Geraldo Beukes verdoel is.

Kort voor rustyd het Tsumeb se kaptein en flank WJ Otto ’n bres geslaan voor die volgende fase waar SJ Louw met ’n individuele breekslag van sowat 40 meter wéér onder die pale oor is, vir Keyser om te verdoel. Die televisieskeidsregter het bevestig dat daar nie obstruksie in die agterlynbeweging was nie.

WHS is egter verder op die agtervoet geplaas deur geel kaarte vir skrumskakel Tyrese de Wee (27ste minuut, professionele oortreding) en kort ná rustyd ook vir haker Rossouw. Laasgenoemde is deur die TV-skeidsregter raakgesien toe hy ’n boorvat uitgevoer het.

Die tweede helfte was nog skaars aan die gang, toe WJ Otto weer aan die steelkant deurgebreek het. Aan sy binnekant was die slot Pieter Daan Kok op volle vaart en het deurgenael pale toe sonder dat iemand aan hom kon raak (27-7).

Tsumeb se skrumskakel Christin Opperman het die volgende spyker ingeslaan toe sy voorspelers WHS met ’n tweede beurpoging teruggeskrum het. Opperman het die bal gesteel en deurgenael vir ’n drie wat vreemd genoeg onverdoel gebly het.

Op 32-7 was daar geen pad terug vir WHS nie, hoewel die ligbloues hard probeer het. ’n Geel kaart vir die Tsumeb-stut Tinus (Tiny) van Wyk het WHS op die aanval geplaas vir ’n dryfdrie deur stut Iyambo Tshuuya, terwyl haker Rossouw vir die laaste drie van die aand oorgebeur het vir Beukes se doelskoppe om die telling beter te laat lyk (32-21).

Die omstandighede van ’n laat rooi kaart vir die vurige Tsumeb-flank Frikkie Engelbrecht sal waarskynlik vandeesweek deur die skool se verteenwoordigers betwis word, omdat hy dan moontlik nie in die eindstryd sal mag speel nie.

AFFIES SKAKEL GIM UIT

Windhoek Affies se oorwinning met 20-12 teen Windhoek Gimnasium Vrydagaand was die derde keer sedert verlede jaar se Superliga-eindstryd dat die geel span die oorhand teen die rooies gekry het.

Afrigters Johan Zaayman en Herman Lintvelt se manne het verlede jaar die skool se eerste titel beklink en sal baie gemotiveerd wees om hul enigste nederlaag hierdie seisoen (op Tsumeb) reg te stel in die eindstryd wat saakmaak.

Hulle sal gewis ’n mate van vertroue kan put uit die wyse waarop WHS in die later minute die noordespan uitgeput laat voorkom het, hoewel die stryd voorlangs bepalend sal wees.

• Maak gerus ’n draai op die Facebook-blad van My Zone om video’s, foto’s en uitslae van al die naweek se groot skolesport te kry.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!