Suurstof in tonne vir staatshospitale

Die ministerie van gesondheid gaan vir die volgende drie maande elke week ’n suurstoftenk van 21 ton ontvang.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het ’n 20 ton grootmaat vloeibare suurstoftenk vir die verskaffing van mediese suurstof in die Katutura-hospitaal se respiratoriese eenheid geïnstalleer in ’n poging om die reuse-aanvraag na suurstof in staatshospitale te takel.

Danksy die druk wat dié byvoeging nou op die bestaande suurstofopwekkerstelsel in die hospitaal verlig, is dit nou in staat om die vereiste suiwerheid van bo 93% aan die Katutura-hospitaal te lewer.

Volgens die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, kon die ministerie danksy die finansiële hulp van die Maatskaplike Voorsorgfonds (SSC) ’n nuwe suurstofopwekkerstelsel met die kapasiteit om 370 liter suurstof per minuut te lewer, ook by die Windhoek Sentrale Hospitaal se Covid-19 intensiewesorgeenheid installeer. Dit is bykomend tot die bestaande stelsel in die hospitaal.

’n Grootmaat suurstoftenk (1,5 ton) sal ook by die Oshakati-staatshospitaal se Covid-19 isolasie- en behandelingseenheid met ’n kapasiteit van 80 beddens geïnstalleer word.

Volgens Shangula word bykomende suurstofopwekkerstelsels ook vir ander gesondheidsgeriewe in die land in die vooruitsig gestel.

“Die instelling van dié stelsels sal die gebruik van suurstofsilinders verminder, wat kapitaal-intensief is,” het hy gesê.

Met verwysing na ’n skenking van die Namibiese Kamer van Koophandel (NCCI) sê die minister die eerste aflewering is 21 ton grootmaat suurstof wat vir gebruik in openbare gesondheidsgeriewe versprei sal word.

Via die NCCI is die belofte om ’n suurstoftenk van 21 ton elke week vir die volgende drie maande tot September vanjaar te skenk.

Volgens Shangula word suurstofverskaffing in openbare gesondheidsgeriewe op vier wyses benader, naamlik geïnstalleerde suurstofopwekkerstelsels (GGS) by alle verwysings- en distrikshospitale; geïnstalleerde grootmaat suurstoftenks soos dié by die respiratoriese eenheid in die Katutura-hospitaal, sowel as in Tsumeb en Walvisbaai se staatshospitale.

Volgens Shangula word suurstof ook deur middel van silinders van verskillende groottes, sowel as suurstof-konsentrators aan gesondheidsgeriewe oraloor in die land voorsien.

Die afgelope twee weke het die aantal Covid-positiewe gevalle, hospitalisasies en sterftes volgens die minister dramaties oraloor in die land gestyg, wat verhoogde druk op gesondheidsdienste geplaas het en in veral in terme van beskikbare hospitaalbeddens, die voorsiening van suurstof en die aanvraag na gesondheidswerkers.

“Dit is daarom uiters belangrik dat die private sektor, onder die vaandel van die NCCI, saamgekom het om die nasionale pogings te ondersteun om by te dra tot die verskaffing van sorg vir ons mense,” het hy gesê.

KUS SE PERSONEEL ISOLEER

Intussen berig Leandra Louw uit Walvisbaai dat Sinopharm- en AstraZeneca-entstowwe by die twee sentrale kusdorpe nou tot net tweede dosisse beperk is.

Teen 22 Junie het 11 435 mense hul eerste dosis van die Sinopharm- of AstraZeneca-entstof ontvang, terwyl 1 838 hul tweede dosis ontvang het. Teen Donderdag 11:00 was by die enigste permanente inentingspunt en wel by die Welwitchia-hospitaal, net eerste dosisse Sinopharm beskikbaar.

Die inentingspunt by die staatshospitaal op Walvisbaai is na die private hospitaal verskuif, omdat die perseel wat voorheen gebruik is, nou vir isolasie is.

Een van die verpleegsters wat by die private hospitaal se inentingspunt diens doen, sê hulle het die dosering van eerste dosisse AstraZeneca begin verminder.

“Die oomblik wat ons bevestiging het meer dosisse AstraZeneca is op pad, sal ons begin om eerste dosisse toe te dien. Vir nou is daar voorraad, maar ons het eenvoudig begin om die toediening te verminder en fokus nou op Sinopharm,” het sy gesê.

Me. Anna Jonas, Erongo se direkteur van gesondheid, het op haar beurt gesê die streek fokus nou op die dosering van tweede dosisse in beide Walvisbaai en Swakopmund.

“Ons het ’n versoek by die lynministerie vir meer entstowwe ingedien. Ek moet dit nog bevestig, maar ons het die laaste besending gister gebruik. Die publiek sal ingelig word sodra meer ontvang word,” het sy gesê.

[email protected], [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!